Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Raai watter winkelbaas verdien die meeste?

Ná al die jare dra die afgetrede voormalige uitvoerende hoof van die Shoprite-groep, Whitey Basson, waarskynlik steeds die kroon in die kleinhandelbedryf vir die verbysterende R100 miljoen wat hy in 2016 verdien het. Maar watter winkelgroep se baas verdien op die oomblik die meeste?

  

Whitey Basson, wat reeds in 2017 by die Shoprite-groep afgetree het, dra nog die kroon ten opsigte van die vergoeding wat hy verdien het.

Netwerk24 het die 12 genoteerde kleinhandelaars se jongste jaarverslae gebruik om uitvoerende hoofde se vergoeding te vergelyk.

Die inligting waarop die lys gegrond word, is net die vaste vergoeding wat elke jaar ontvang word plus korttermyn-aansporings of prestasiebonusse. Die langtermynaansporings soos in die jaarverslae in die inligting oor vergoeding aangedui, word ook genoem, maar omdat die uitbetaling daarvan van maatskappy tot maatskappy verskil, vorm dit nie die grondslag van die lys wat Netwerk24 saamgestel het nie.

Die groei in die totale inkomste en nabelaste wins van die maatskappye word ook verskaf.

Hoewel sommige winkelgroepe se jongste boekjare pas verby is, is hul jaarverslae nog nie uitgereik nie en daarom word die vorige boekjaar se jaarverslag gebruik.

Hier is die lys van die kontantvergoeding van grootste tot kleinste:

1. Pick n Pay se Richard Brasher

  

Richard Brasher, uitvoerende hoof van Pick n Pay. Foto: Nellie Brand-Jonker

Hy het in die pas afgelope boekjaar, tot einde Februarie 2019 sowat R32 miljoen verdien. Dit is sy vaste vergoeding plus ’n prestasiebonus van R20,6 miljoen.

Langermynaansporing: Die koste van sy aandeelopsie-toekennings beloop R32,4 miljoen.

Lees ook: Genade! Dis hoeveel Pick n Pay se baas verdien

In dié berig is ’n verduideliking wat die winkelgroep vir Brasher se lekker vet vergoeding gee.

Pick n Pay se inkomste het in die boekjaar tot einde Februarie met amper 10% tot R90,4 miljard gestyg. Sy nabelaste wins het met 27% tot R1,6 miljard gestyg.

2. The Foschini Group (TFG) se Doug Murray

  

Doug Murray, voormalige uitvoerende hoof van The Foschini Group.

Sy vaste vergoeding in die boekjaar tot einde Maart 2018 plus ’n prestasiebonus beloop R22,5 miljoen. Daar word genoem dat die prestasiebonus van R11,9 miljoen eers in 2019 betaal word.

Langtermynaansporing: Aandele wat aan hom toegeken is en in Junie 2018 syne geword het, gegrond op die prestasie vanaf 2016, het R15,1 miljoen beloop. Dit het sy totale vergoeding vir die jaar op R37,6 miljoen te staan gebring.

Murray het in September verlede jaar ná 11 jaar as uitvoerende hoof afgetree.

TFG se inkomste het in die boekjaar 19% tot R31,5 miljard gestyg. Sy nabelaste wins het met 3,6% tot R2,4 miljard gestyg.

3. Shoprite-groep se Pieter Engelbrecht

  

In die jaar tot einde Junie 2018 het hy R20,4 miljoen verdien. Dit sluit ’n bonus in van R4,5 miljoen.

Geen langtermynaansporing is ontvang nie.

Shoprite se verkope het met 3% tot R145,3 miljard gestyg. Sy nabelaste wins het met 4% tot R5,2 miljard gedaal.

Hoekom vat Whitey die kroon?

Sover vasgestel kon word, dra Basson steeds die kroon wat salaris en kontantbonus in ’n gegewe boekjaar betref.

In die 2016-boekjaar het hy tesame met ’n kontantbonus van R50 miljoen ’n totale vergoeding van R100 miljoen ontvang. Van die redes was sy diens van amper 45 jaar en die uitstekende resultate wat die groep behaal het, lui die 2016-jaarverslag.

In die jongste jaarverslag van die Shoprite-groep word aangedui dat Basson vir drie maande van die boekjaar tot einde Junie 2018 R19,5 miljoen verdien het. Hy het einde September 2016 bedank, maar het ’n kennisgewingstydperk van 12 maande by die groep gehad, waartydens hy vaste vergoeding moes ontvang. Dit sluit ’n vergoeding van R7 miljoen vir “ander” in.

In dié boekjaar het hy ook ’n opsie op aandele uitgeoefen wat Shoprite by hom teen R1,7 miljard moes koop.

Lees ook: Whitey kry nou (net) R1,7 mjd.

Basson se totale vergoeding, wat eintlik net ’n salaris was, het in die boekjaar tot einde Junie 2017 altesaam R50,1 miljoen beloop.

4. Mr Price-groep se Stuart Bird

  

In die boekjaar tot einde Maart 2018 het hy sy totale vergoeding, ingesluit ’n prestasiebonus van R19,3 miljoen, ontvang.

Langtermynaansporing: Dividende verdien op sy verbeurbare aandele en die waarde van prestasieverwante aandele-toekennings het R11,6 miljoen beloop. Dit het sy totale vergoeding op R30,9 miljoen te staan gebring.

Bird het einde Desember afgetree.

Die groep se inkomste het in die boekjaar tot einde Maart 2018 met 8% tot R21,3 miljard gestyg. Die nabelaste wins het met 23% tot R2,8 miljard gestyg.

5. Woolworths se Ian Moir

  

Hy het in die boekjaar tot 24 Junie 2018 ’n totale vergoeding van R19,1 miljoen verdien. Hy het in 2017 en 2018 geen prestasiebonus ontvang nie.

Langtermynaansporing: Die billike waarde van sy aandele en dividende ontvang, beloop R11,5 miljoen.

Woolworths se omset het met 2,1% tot R68,6 miljard gestyg. In die boekjaar is ’n nabelaste verlies van R3,5 miljard gely, vergeleke met ’n wins van R5,4 miljard in die vorige boekjaar.

6. Clicks se David Kneale

  

Hy het in die boekjaar tot einde Augustus 2018 R16,9 miljoen verdien, waarvan sy bonus R6,3 miljoen was.

Langtermyn-aansporing: Die koste van aandeelopsies wat in die jaar aan hom toegeken is, beloop R52,8 miljoen.

Clicks se inkomste het met 9% tot R30,9 miljard gestyg. Sy nabelaste wins het met 15% tot R1,4 miljard gestyg.

Kneale het begin 2019 ná 13 jaar as uitvoerende hoof afgetree.

7. Dis-Chem se Ivan Saltzman

  

Hy het in die boekjaar tot einde Februarie 2018 R16,4 miljoen verdien, waarvan sy bonus R3,7 miljoen was.

Die uiteensetting van die uitvoerende direkteure se vergoeding toon nie ’n langtermyn-aansporing nie.

Dis-Chem se inkomste het met 13% tot R20,7 miljard gestyg. Die nabelaste wins het met 6,5% tot R698,3 miljoen gestyg.

8. Pepkor (voorheen Steinhoff Africa Retail) se Leon Lourens

  

Hy het in die boekjaar tot einde September 2018 ’n totale vergoeding van R13,8 miljoen ontvang. Dit sluit ’n jaarlikse bonus en twee ander bonusse in.

Pepkor se inkomste het met sowat 11% tot R64,2 miljard gestyg. Die nabelaste wins het met amper 19% tot R2,9 miljard gedaal.

9. Truworths se Michael Mark 

  

Hy het in die boekjaar tot einde Junie 2018 sowat R12,5 miljoen se kontant verdien. Dit sluit in rente op lenings van R3,3 miljoen. Hy kry nie ’n prestasiebonus nie.

Langtermynaansporing: Die billike waarde van sy aandele-gegronde toekennings beloop R10 miljoen. Die uiteensetting toon ook lenings wat hy ingevolge ’n 1998-aandeelskema van R43,2 miljoen gekry het.

Truworths se vergelykbare inkomste het met 0,2% tot R19,3 miljard gedaal. Sy nabelaste wins het met 0,9% tot R2,7 miljard gedaal.

10. Spar-groep se Graham O’Connor

  

Hy het in die boekjaar tot einde September 2018 ’n totale vergoeding van R11,4 miljoen verdien, wat ’n prestasiebonus van R4,4 miljoen ingesluit het.

Spar-groep se inkomste het met 6% tot R103 miljard en sy nabelaste wins met 0,4% tot R1,8 miljard gestyg.

11. Massmart se Guy Hayward

  

Hy het in die boekjaar tot einde Desember 2018 ’n vergoeding van R8,5 miljoen verdien. Dit sluit ’n prestasiebonus van R1,3 miljoen in.

Langtermynaansporing: Saam ’n rentevrye lening en die wins op aandeelopsies het sy totale vergoeding vir die jaar R12,8 miljoen beloop.

Massmart se inkomste het met 2,9% tot R91,2 miljard gestyg. Sy wins vir die boekjaar het met 35% tot R868,7 miljoen gedaal.

12. Lewis se Johan Enslin

  

In die boekjaar tot einde Maart 2018 het hy R4,3 miljoen verdien. Hy het geen bonus in die boekjaar en die vorige boekjaar gekry nie.

Lewis se inkomste het met 0,6% tot R5,5 miljard gedaal. Die nabelaste wins het met 26% tot R264,1 miljoen gedaal.

winkelbase

Meer oor:  Massmart  |  Truworths  |  Clicks  |  Shoprite  |  Woolworths  |  Foschini  |  Dis-Chem  |  Lewis  |  Salarisse  |  Vergoeding  |  Bonusse  |  Uitvoerende Hoofde  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.