Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Rand is vlieg in salf vir Adcock Ingram

Die skerp verswakking van die rand sedert Junie is baie slegte nuus vir Adcock Ingram, wat die bestanddele vir die medisyne wat hy vervaardig, van oorsee moet aankoop.

Andy Hall, Adcock Ingram se uitvoerende hoof.

Die farmaseutiese reus, wat onder meer Panado, Allergex en Bioplus in sy stal het, sê hy bly op die uitkyk na verkrygings van billike handelsname wat nié aan regulering onderhewig is nie.

Die prys van voorskrif- en oor-die-toonbank-medisyne word streng gereguleer, met ’n enkeluitgangprys wat jaarliks vasgestel word en waarvan die lae stygings – in 2018 was dit net 1,26% – vir farmaseutiese maatskappye ’n doring in die vlees is.

Dit beteken as die rand verswak, het hulle geen manier om hul hoër koste van verbruikers te verhaal nie.

Die rand is waarskynlik die grootste risikofaktor vir die groep, sê Andy Hall, uitvoerende hoof.

Bykans ál die aktiewe bestanddele vir medisyne wat Adcock vervaardig, word ingevoer, sowel as ’n hele klomp voltooide produkte. Hy raam dat tussen 60% en 65% van Adcock se produkte ’n ingevoerde komponent bevat.

Adcock se drie topverkopers is:
  • Panado (pyn)
  • Adco-Dol (pyn en koors)
  • Trivenz (teenretrovirale middel)

Adcock Ingram sê hy is “konstruktief” in gesprek met die nasionale departement van gesondheid se pryskomitee oor die moontlikheid van “korttermynverligting” vir die vasgestelde prys van medisyne in die lig van die swakker rand.

Hall sê daar is al vantevore ’n tussentydse verhoging toegestaan, maar omdat hulle so laat in die jaar hieroor praat, is hy onseker of die departement dit sal oorweeg of eerder sal kyk na ’n hoër aanpassing in die prys vroeg volgende jaar. Hulle sal binnekort hieroor uitsluitsel hê.

Maar nes die swakker rand hom op die oomblik bekommer, het die sterker rand in die eerste helfte van die jaar Adcock se jaarresultate ’n stewige hupstoot gegee, wys die syfers vir die boekjaar tot einde Junie.

Die maatskappy se omset het met 10% tot R6,54 miljard gestyg en sy handelswins met 20% tot R866 miljoen.

Hall sê Adcock se goeie syfers kan toegeskryf word aan die groep se uitstekende diversifikasie.

“Ek dink dis wat ons effektiewelik teen die swak ekonomie beskut.”

Hall sê selfs in die mark vir gereguleerde medisyne – voorskrif- en oor-die-toonbank-medisyne – het hulle ’n “defensiewe portefeulje produkte”.

Adcock Ingram se beste verkoper bly Panado.

Impak van NGV

Oor die uitreiking van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), die Wysigingswet op Mediese Skemas en die verslag van die markondersoek na private gesondheidsorg sê die maatskappy hy ondersteun inisiatiewe om toegang tot gesondheidsorg in Suid-Afrika uit te brei.

Hall sê daar is twee redes waarom hulle nie negatief voel oor die komende NGV nie. Eerstens is ’n groot deel van hul produkreeks nie aan regulering onderhewig nie.

“Mense sal steeds hul Panado of Citro-soda by kleinhandelaars koop.”

Tweedens kan NGV help om meer mense toegang tot medisyne te gee en sal alle farmaseutiese vervaardigers daaruit voordeel trek.

Al wat Adcock bekommer, is watter prysbeheer die regering in werking sal stel en of dit ’n uitwerking sal hê op die volhoubaarheid van die plaaslike farmaseutiese vervaardigingsbedryf. Hall sê hulle hoop die regering sal behoorlik met die bedryf in gesprek tree en verseker dat plaaslike farmaseutiese vervaardiging volgehou kan word, “want dit sal nie goed wees vir gesondheidsorg as ons net op invoer moet staatmaak nie”.

In syfers:
  • Omset styg met 10% tot R6,54 miljard.
  • Handelswins styg met 20% tot R866 miljoen.
  • Wesensverdienste per aandeel (uit voortgesette bedrywighede) styg met 26%.
  • Totale dividend styg met 24% tot 172c per aandeel.

Só vaar sektore

Adcock Ingram doen in vier sektore verslag en doen ook afsonderlik verslag oor Suid-Afrika (wat meer as 93% van sy inkomste verteenwoordig) en die res van Afrika.

In Suid-Afrika lyk die resultate as volg:

  • Oor-die-toonbank-medisyne (onder meer Allergex en Panado):

Dié afdeling se omset het met 7,6% tot R1,989 miiljard gestyg. Die groep sê die vraag na kleiner verpakkings, wat in die vorige boekjaar bekend gestel is, was goed. Die afdeling se handelswins het met 16,7% tot R399,6 miljoen gestyg.

  • Voorskrifmedisyne (middels vir die meeste groot toestande, onder meer cholesterol en hoë bloeddruk):

Dié afdeling se omset het met 15,5% tot R2,238 miljard gestyg. Die handelswins het met 15,2% tot R239,4 miljoen gestyg. Dis aangehelp deur ’n groter vraag na teenretrovirale middels vanuit die private sektor.

Adcock vervaardig die teenretrovirale middel Trivenz by sy fabriek in Wadeville, Germiston, maar het nie in die mees onlangse rondes tenders enige deel van die kontrak met die departement van gesondheid gekry nie.

Die groep het daarom uitgereik na die private sektor en het ’n deurbraak gemaak deur die onderskrywing van Suid-Afrika se twee grootste mediese skemas – Discovery Health Medical Scheme en Gems – te kry. Dit het hom gehelp om sy fabriek meer optimaal te benut. Trivenz bring vir Adcock verkope van R2 miljoen per jaar.

  • Verbruikersprodukte (onder meer Shape, Bioplus en Vita-thion):

Dié afdeling se omset was effens laer (0,3%) op R686,7 miljoen. Dié afdeling behels diskresionêre besteding – die produkte waarop verbruikers eerste besnoei as hulle finansiële druk ervaar. Sy handelswins het nietemin met 2% tot R112,2 miljoen gestyg. Die afdeling het in die tweede helfte van Adcock se boekjaar ’n nuwe uitvoerende hoof gekry en is besig met herorganisering wat die groep hoop vorentoe sy prestasie sal verbeter.

  • Hospitaalprodukte:

Dié afdeling se omset het met 7,2% tot R1,348 miljard gestyg, aangehelp deur ’n beter wisselkoers, beter verkope aan die private sektor en die kontrak wat Adcock gekry het om die inspuitprodukte van Pharma Q te bemark. Die afdeling se handelswins het met ’n indrukwekkende 63% tot R95,3 miljoen gestyg.

Res van Afrika

Omset van die groep se ondernemings in Zimbabwe en Kenia het gesamentlik met 7,5% tot R222,6 miljoen gestyg en die handelswins het met ’n fenomenale 578% tot R18,3 miljoen gestyg. Dis grootliks danksy ’n styging in vraag na die groep se duurste handelsname omdat voorraadbeheer verbeter is.

Hall sê Zimbabwe is ’n “interessante dilemma”. Hoewel verkope puik vaar, lyk dit of die regulerende omgewing strenger gaan word. Die maatskappy moet die moeilike besluit neem of hy miljoene in sy Zimbabwiese fabriek wil belê of eerder net na Zimbabwe wil uitvoer en versprei.

Vooruitsigte

Die maatskappy verwag dat handelstoestande moeilik sal bly in die lig van die druk op verbruikers en hoë werkloosheidskoers, “maar is vol vertroue in die ekwiteit en veerkragtigheid van die breë portefeulje handelsname in die groep.”

Hall sê hy verwag wel dat die afdeling vir verbruikersprodukte beter verkope sal oplewer in die nuwe boekjaar, maar, “om eerlik te wees”, dit sal grootliks wees omdat die afdeling onderpresteer het in die afgelope boekjaar.

Hall sê die maatskappy se gedesentraliseerde model beteken die vier afdelings het die buigsaamheid om elkeen sy eie bemarkingstrategie te bepaal. Dit maak dit baie doeltreffender.

Hall sê hulle begin nou nuwe markte in Latyns-Amerika en Asië ontgin, maar is nog in die beginfase daarvan. Omdat regulering ook betrokke is, verwag hy nie enige groot aankondiging voor oor 18 tot 24 maande nie.

    Meer oor:  Adcock Ingram  |  Andy Hall  |  Pille  |  Wisselkoers  |  Ngv  |  Resultate  |  Panado  |  Medisyne  |  Private Gesondheidsorg  |  Farmaseutiese Maatskappye
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.