Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Rasseherrie raak H&M se verkope in SA min
’n H&M-winkel in Stockholm in Swede. Foto: Verskaf

Ten spyte van die rasseherrie oor ’n advertensiefoto, het die internasionale winkelgroep Hennes & Mauritz (H&M) se verkope in Suid-Afrika in die ses maande tot einde Mei met 8% tot R801,5 miljoen gestyg.

’n Advertensie waarop ’n swart kind verskyn het in ’n sweetpakbaadjie waarop die slagspreuk “Coolest monkey in the jungle” gedruk is, het internasionaal en in Suid-Afrika opslae gemaak.

Die EFF het middel Januarie by sowat ses van die maatskappy se winkels betoog, waartydens van die winkels geplunder is en tydelik gesluit moes word.

Die maatskappy gee nie inligting oor prysstygings nie en dus is dit nie duidelik of die stewige styging in inkomste daaruit spruit dat H&M wel meer artikels verkoop het nie.

H&M het nou 18 winkels in Suid-Afrika nadat nog een in die halfjaar geopen is. Nog drie word later vanjaar beoog in onderskeidelik Oos-Londen, Johannesburg en Pretoria.

Internasionaal het H&M se verkope in die halfjaar skaars gestyg terwyl sy bedryfswins en wins ná belasting gedaal het.

In geheel was die verkope in die tweede kwartaal van die halfjaar nie na wens nie en dus was voorraadvlakke steeds te hoog aan die einde van die kwartaal.
Karl-Johan Persson

Karl-Johan Persson, uitvoerende hoof, sê hulle het vroeër gewaarsku dit gaan ’n moeilike eerste halfjaar wees, maar dit was nog ietwat swakker as verwag.

Kopsere

“In geheel was die verkope in die tweede kwartaal van die halfjaar nie na wens nie en dus was voorraadvlakke steeds te hoog aan die einde van die kwartaal.”

Dit gaan lei tot meer winskopies in die derde kwartaal, wat weer ’n impak op ander winkelgroepe het.

Persson verwag ’n stelselmatige verbetering in die verskeidenheid van produkte op hul winkelrakke. Korter looptye sal daartoe lei dat meer produkte in ’n seisoen verkoop word. Dit sal voorraadvlakke in die toekoms verbeter.

Volgens Persson maak H&M sy verskaffingsketting “nog vinniger, aanpasbaarder en doeltreffender”.

“Hierdie oorgang is kompleks en kan lei tot tydelike onderbrekings soos wat ongelukkig in die tweede kwartaal van die halfjaar in sekere van ons groot markte gebeur het. Dit het verkope in Amerika, Frankryk, Italië en België negatief geraak, asook aanlyn verkope in die Nordiese streek.”

SA klein op die winkelrak

Suid-Afrika is nog piepklein in die reuse- internasionale winkelgroep se lewe.

Die groep se totale verkope het 113 miljard Sweedse kroon in die halfjaar beloop, met verkope in Suid-Afrika wat maar 0,4% daartoe bydra.

Die meeste van H&M se verkope vind in Duitsland plaas waar hy 461 winkels het. Daar het verkope met 2% tot SKr18,2 miljard gedaal. Denemarke is sy tiende grootste mark met 109 winkels. Verkope hier het met 6% tot SKr3 miljard gestyg.

Groot verskuiwing

Persson het die swak resultate weer voor die deur van veranderinge in die bedryf gelê. Die maatskappy bevind hom soos ander in die klerekleinhandel midde-in groot omwentelinge – veral in die markte in die Noordelike Halfrond.

Sy verkopegroei het reeds in die vorige boekjaar teleurgestel.

Persson het in die jaarverslag vir die boekjaar tot einde November reeds gesê die bedryf gaan deur strukturele veranderings weens tegnologiese verskuiwings en die toenemende digitalisering van die samelewing.

Dit lei daartoe dat verbruikersgedrag vinnig verander, wat die rol van winkels verander. “Ons fisieke winkels moet ’n meer inspirerende en gerieflike ervaring bied en meer pasgemaak wees vir plaaslike behoeftes.”

Die verandering skep geleenthede, maar ook risiko’s vir groepe wat nie vinnig en rats genoeg is in die oorgangstyd nie. “Omdat al hoe meer inkopies aanlyn gedoen word, hoofsaaklik deur selfone, bring die verskuiwing kopsere vir fisieke winkels dwarsdeur die sektor.”

Hy sê in die jaarverslag die verskuiwing beteken die landskap waarin hulle meeding, word geherdefinieer en nuwe operateurs betree die bedryf wat veroorsaak dat winsgewendheid onder druk kom weens die groter mededinging.

Slegte weer

Weerpatrone dra by tot risiko en onsekerheid omdat afwykings van normale weerpatrone verkope raak. “Dit is veral in die oorgang tussen twee seisoene soos van somer na herfs en van herfs na winter. As die herfs warmer as normaalweg is, kan dit ’n negatiewe impak op verkope hê en veral op die verkope van weerverwante klere.”

Die groep beplan om in die huidige boekjaar internasionaal 390 winkels te open en 150 te sluit.

Winkels word hoofsaaklik in van sy ouer markte gesluit en die winkels wat open, is hoofsaaklik in opkomende markte.

Meer oor:  H&M  |  Kleinhandel  |  Klerekleinhandel  |  Syfers  |  Verkope  |  Klerebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.