Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Raubex kry stewige kontrak om deel van N3 te verbeter

Raubex het ’n stewige kontrak van R1,48 miljard van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gekry om die deel van die N3 tussen Dardanelles en Lynnfield Park in KwaZulu-Natal op te gradeer.

Raubex het 'n stewige kontrak gekry om deel van N3 te verbeter. Foto: Pixabay

Die konstruksiefirma sê die geleenthede vir kontrakte waarvoor hy getender het, bly “belowend”.

Die maatskappy is positief oor die 18 strategiese geïntegreerde projekte, insluitend 50 subprojekte, wat die regering einde Julie in die Staatskoerant gepubliseer het, maar sê hy sal die ontwikkeling daarmee fyn dophou.

Die konstruksiebedryf was tot dusver effens skepties oor die groot gewag wat van infrastruktuur gemaak word, aangesien daar weinig gevorder word met die uitreiking van tenders vir projekte wat reeds lank terug aangekondig is.

Daar is egter nou meer hoop op vordering noudat ’n beleggings- en infrastruktuurkantoor in die presidensie geskep is wat eersdaags Infrastruktuur Suid-Afrika onder leiding van dr. Kgosientsho Ramokgopa gaan word. Ook die batebestuursbedryf is optimisties noudat infrastruktuurprojekte vir die eerste keer sentraal gekoördineer word.

Pres. Cyril Ramaphosa het opnuut Maandagaand op ’n aanlyn nuuskonferensie infrastruktuur uitgelig as potensiële aandrywer van ekonomiese herstel en werkskepping.

Benewens die goeie nuus oor die tender het Raubex Donderdagoggend die slegte nuus gedeel dat sy verdienste en wesensverdienste per aandeel met tussen 130% en 150% laer gaan wees vir die halfjaar tot einde Augustus vergeleke met dieselfde halfjaar van 2019.

Die maatskappy gaan ’n verlies van tot 32,3c per aandeel ly teenoor ’n wins van 64,6c per aandeel in 2019 se eerste helfte. Die wesensverlies per aandeel gaan tot 29,3c beloop teenoor 2019 se wesensverdienste van 58,6c.

Die verlies word toegeskryf aan inperkings weens die Covid-19-pandemie in al die lande waarin Raubex bedrywig is.

Die meeste van Raubex se bedrywighede in Suid-Afrika was net vir die vyf weke vanaf 27 Maart tot einde April heeltemal gesluit en kon op vlak 4 weer begin. Bedrywighede het egter eers teen einde Julie “naby normale vlakke” gekom.

In Wes-Australië, waar Raubex gekontrakteer is vir uitgrawings en ander bedrywighede in die mynbou, is hy nie wesenlik deur inperkings geraak nie.

Botswana was onderhewig aan ’n inperking van 48 dae wat op 20 Mei beëindig is en waartydens alle bedrywighede opgeskort moes word.

In Mosambiek en Namibië is gruiswerke beïnvloed deur logistieke probleme om materiale oor die grense te kry.

In Kameroen is die maatskappy ook ernstig geknou, onder meer weens kwarantyntydperke wat personeel moes ondergaan as deel van reisbeperkings.

Die maatskappy sê hy het steeds ’n sterk balansstaat en het streng maatreëls vir die bestuur van bedryfskapitaal en die beskerming van kontant ingestel. Die maatskappy het R1,5 miljard kontant op sy boeke en R844,4 miljoen skuld.

Die maatskappy reik sy volledige resultate op 9 November uit.

Meer oor:  Raubex  |  Sanral  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Paaie  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.