Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Raubex plaas steeds hoop op groenkrag

’n Onseker toekoms wag op Raubex, een van die land se grootste padbouers.

Dié maatskappy, wat ’n goeie jaar tot einde Februarie agter die blad het, sê die invloed van die staat van inperking op die konstruksiesektor kan nog glad nie bepaal word nie.

Raubex glo dat projekte waar hernubare krag opgewek word, in die toekoms ’n goeie inkomste vir hom sal bied.Foto: Unsplash

Net noodsaaklike instandhoudingswerk is gedurende vlak 5 en vlak 4 van die staat van inperking toegelaat.

Die maatskappy het Vrydag in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens gesê hy verwag dat daar moontlik ’n vertraging kan wees in hoe die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) tenders toeken om omvattende verbeterings te doen aan die N2/N3-padnetwerk in KwaZulu-Natal, asook ander projekte.

Hoewel die meeste tenders vir dié projekte reeds gesluit het, is daar nie duidelikheid oor hoe die besluit oor tenders beïnvloed gaan word deur die staat van inperking weens die Covid-19-pandemie nie.

Raubex sê dieselfde geld vir projekte by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg.

Die maatskappy sê buiten vir dié projekte, is hy steeds vol vertroue dat hy oor die volgende paar jaar na verwagting nou betrokke gaan wees by die staat se program vir die verkryging van hernubare energie van onafhanklike verskaffers (bekend as die REIPPPP).

Dit is juis sy afdeling wat op infrastruktuur fokus en wat projekte as deel van die REIPPPP bou, wat in die jaar tot einde Februarie baie goed gepresteer het.

Dié afdeling se inkomste het met 28,8% tot R2,75 miljard gestyg. Dit is teenoor ’n jaar tevore.

Sy bedryfswins het met 89% tot R178,2 miljoen gestyg.

In die algemeen het Raubex ’n goeie jaar agter die rug.

Die groep se inkomste het met 2,5% tot R8,73 miljard gestyg. Sy bedryfswins is 132,1% hoër op R480,5 miljoen.

Wesensverdienste per aandeel is 183,7% hoër op R1,61 terwyl verdienste per aandeel met 335,7% tot R1,39 gestyg het.

Dié syfers is alles teenoor ’n jaar tevore.

Die waarde van Raubex se bestelboek het ook met meer as R2 miljard tot R10,14 miljard gestyg.

Hoewel die maatskappy goed presteer het, het hy besluit hy gaan weens die Covid-19-pandemie nie ’n finale dividend verklaar nie.

Paaie en grondwerk

Die maatskappy werk hoofsaaklik vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), wat beteken sy prestasie kan gekoppel word aan hoeveel werk die staat laat doen.

Raubex sê gedurende die jaar was daar steeds baie min werk wat gedoen kon word.

Hy sê sy besluit om in 2018 dié afdeling te herstruktureer en kleiner te maak, het baie gehelp om nou verliese te beperk in dié afdeling.

Die inkomste in die afdeling het met 10,9% tot R3,24 miljard teenoor ’n jaar tevore gedaal.

Dit het egter ’n bedryfswins van R3,1 miljoen gelewer teenoor die bedryfsverlies van R245,8 miljoen ’n jaar tevore.

Konstruksiemateriaal

Die inkomste van die maatskappy se afdeling vir konstruksiemateriaal, wat steengroewe en klipbreekwerk insluit, het met 0,1% tot R2,75 miljard gedaal.

Sy bedryfswins het met 2,5% tot R367,7 miljoen gestyg.

Internasionaal

Raubex het bedrywighede in verskeie Afrika-lande, asook in Australië.

In Afrika, wat Suid-Afrika uitsluit, het dié afdeling se inkomste met 9,1% tot R1,1 miljard gedaal. Die bedryfswins het met 0,5% tot R109,7 miljoen gedaal.

Sake lyk egter beduidend beter in Australië.

Daar het die afdeling se inkomste met 69,3% tot R548 miljoen gestyg.

Bedryfswins vir bedrywighede in Australië het met 63,3% tot R26,2 miljoen gestyg.

Raubex het Vrydagoggend teen R16,70 op die JSE begin verhandel.

Meer oor:  Raubex  |  Sanral  |  Groenkrag  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.