Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
KYK: Raymond Ackerman is vandag 90

Raymond Ackerman, wat Pick n Pay opgebou het en jare die voorsitter van die winkelgroep was, word op 10 Maart 90 jaar oud. Hy het die volgende boodskap met Suid-Afrikaners gedeel.

   

Om 90 te word, voel onwerklik. Dis ’n baie lang tyd, en as ek terugdink aan die vele probleme wat ons as ’n land deurgemaak het, is dit nogal ongelooflik om enigsins hier te kan wees om dit te skryf.

Die afgelope jaar was wreed. Soveel gesinne is bedroef gelaat, soveel broodwinners het hul werk verloor en soveel ondernemings het ondergaan. Soms het die situasie hopeloos gelyk.

Raymond Ackerman en sy vrou, Wendy.

Tog is ons nog staande en die manier waarop mense in die moeilikste omstandighede met hul lewe aangegaan en langs die pad vir mekaar gesorg het, is ’n bron van groot hoop vir die toekoms.

Dis waar dat ons enorme probleme het, soos die meeste lande, en ’n paar spesifieke Suid-Afrikaanse probleme. Ons sal altyd probleme hê, maar ek glo baie sterk dat ons ’n standvastige land het.

Ek dink terug aan 1960, toe baie mense Suid-Afrika verlaat het, maar ek en my gesin verkies het om te bly. Dit was omdat ons geglo het dat daar ’n wonderlike geleentheid was om te werk om ’n einde aan apartheid te help bring en om in ’n nuwe bedeling ’n onderneming op te bou.

Die grondslag van die onderneming en die sleutel tot die sukses daarvan was die beginsel van die oppergesag van die verbruiker – ’n idee wat ek op universiteit geleer het en wat tydens my verblyf destyds in Amerika versterk is.

Dis die besef dat die doel van sake nie bloot is om wins te verhoog nie, soos so baie sakeleiers glo, dis eerder om die gemeenskap te respekteer en deel daarvan te wees.

Respek vir almal was die kern van Pick n Pay se sukses en ek glo dit bly die sleutel tot ons toekoms as land.

As ek nie 90 was nie, sou ek baie sterk beplan het vir waar Pick n Pay oor die volgende 60 jaar moet wees.

My raad aan almal wat die kleinhandelbedryf betree, is om te begryp dat, om suksesvol te wees, moet jy regtig omgee vir jou gemeenskap en omgee vir jou samelewing en vir jou mense. Sodoende sal jy jou doelwit bereik om ’n suksesvolle kleinhandelaar te wees.

Dit gebeur nie andersom nie.

Die rol van ondernemings, miskien nou meer as ooit tevore, is om terug te gee en goed te doen, nie net deur pryse in toom te hou en met verskaffers te veg om pryse laag te hou nie, dis om te help om veranderinge in die land te bewerkstellig wat mense raak.

Kortom, om goed te doen, is goed vir sake.

As ons ons ekonomie op hierdie grondslag herbou, sal ons toekoms veilig wees.

Gareth Ackerman, een van Raymond Ackerman se seuns, is nou Pick n Pay se voorsitter.

Die ander belangrike ding is om positief te wees. Ek het baie vertroue in die toekoms, en ek sê dit nie net nie.

Onlangs het ek op ’n vergadering gepraat en ek het daaroor gepraat dat ons baie positief moet wees oor die volgende 60 jaar.

Hulle het gedink ek is mal. Hulle het gedink, wel, hy word oud en ons verstaan nie mooi wat hy sê nie.

Maar as ek nie 90 was nie, sou ek baie sterk beplan het vir waar Pick n Pay oor die volgende 60 jaar moet wees.

Ja, daar is probleme, dit sal altyd daar wees, maar wat ek die meeste mis in aftrede, is om probleme aan te pak.

Ons moes nog altyd Pick n Pay opbou deur positief te probeer wees, tendense te interpreteer en ’n toekomsvisie te hê. Dit was nooit goed genoeg om aan te hou maak soos ons nog altyd gemaak het nie – ons moes nuwe idees in die onderneming inspuit om dit vars te hou.

Dis die eienskappe wat ek dink ons sal dra deur die moeilike tye wat ons nou beleef.

Ja, daar is probleme, dit sal altyd daar wees, maar wat ek die meeste mis in aftrede, is om probleme aan te pak.

Ons moet nooit vergeet nie dat, hoe moeilik dit ook al vandag is, nie te lank gelede nie het dit oneindig slegter gegaan.

Nes baie mense vandag voel dat dinge net erger kan word, was daar toe ook ’n gevoel van wanhoop. Ons was ’n land wat teen homself oorlog gemaak het en die ekonomie was in ’n afwaartse spiraal.

En toe, asof deur ’n wonderwerk, word Nelson Mandela vrygelaat en die demokrasie het aangebreek. Alles waaroor soveel gedroom het, het skielik waar geword.

Ons is vandag op ’n baie beter plek.

Ek is baie trots op die manier waarop Pick n Pay en ons verbruikers op die Covid-19-krisis gereageer het. Ons het deur middel van die Voed die Nasie-program gehelp om in die moeilike tyd 20 miljoen mense te voed.

Dit was ’n herinnering aan die waardes waarop Pick n Pay gegrond is, om na die gemeenskap om te sien, en die opwindendste ding vir my is dat hierdie beginsel nie net die toets van die tyd deurstaan het nie, dit was suksesvol. Daarsonder sou Pick n Pay nie vandag bedrywig gewees het nie.

In Suid-Afrika het ons ’n goeie toekoms. Julle het almal die krag en die vermoë om dit ’n wonderlike een te maak.

Meer oor:  Pick N Pay  |  Raymond Ackerman  |  Winkels  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Covid-19  |  Drankverkope  |  Kleinhandelaars  |  Staat Van Inperking  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Koronavirus  |  Kruideniersware
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.