Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
RCS verduidelik probleme met Edgars-rekeninge

Die nuwe kredietverskaffer van die klerewinkels Edgars en Jet word oorval met klagtes en kritiek van klante oor probleme wat hulle met hul rekeninge ervaar.

Jet
Klante van die klerewinkels Jet en Edgars het talle klagtes oor probleme met hul rekeninge.

Edgars se voormalige moedermaatskappy Edcon, wat al jare lank sukkel, is in April tydens die Covid-19-inperking in sakeredding geplaas nadat sy geldknyp drasties vererger het.

Die kleinhandelgroep Retailability het sedertdien van Edgars se winsgewende winkels bekom en The Foschini-groep (TFG) het die winsgewende Jet-winkels bekom.

RCS het die nuwe kredietverskaffer vir albei geword nadat die verbruikerskredietboek vroeër die jaar bekom is.

Nadat klagtes in Oktober ingestroom het oor probleme met die winkelrekeninge, het Netwerk24 met RCS se uitvoerende hoof, Regan Adams, gesels oor wat fout is.

Skryf tjek van R5 miljard

Adams het die agtergrond van die verkryging van die verbruikerskredietboek geskets en hoe RCS in die situasie beland het.

Volgens hom het RCS ’n paar jaar lank daaraan gewerk om die finansiëlediensteonderneming te koop wat eers deur Absa ingevolge ’n ooreenkoms met Edcon bestuur is.

RCS is deel van die Franse bankgroep BNP Paribas se filiaal in Suid-Afrika.

Die transaksie tussen die partye het in Februarie in werking getree.

Kort daarna is Edcon in sakeredding geplaas.

“Jy kan dink dit is nie die beste posisie om in te wees as jy ’n tjek van R5 miljard skryf en ’n maand later hoor jou nuwe vennoot gaan in sakeredding nie.”

Adams sê hoewel hulle besef het Edcon is kwesbaar en daar vir die moontlikheid beplan is dat hy dalk nie gaan oorleef nie, het die pandemie die situasie versnel.

In wese het RCS die verbruikerskuldboek van Absa en die rekeninge wat daarmee geassosieer is, gekoop en dus die nuwe kredietverskaffer geword.

In so ’n geval word verbruikers ingevolge ’n proses wat deur die kredietreguleerder bepaal is, in kennis gestel wie die nuwe kredietverskaffer is, volgens hom.

Inkopiegangers verlaat ’n Edgars-mode- en tuiswarewinkel.

Klante is ingelig dat Absa die verbruikerskuldboek aan RCS verkoop het en dat hulle nou ooreenkomste met RCS en nie meer met Absa het nie, sê hy.

Die boek wat gekoop is, het sowat 2,3 miljoen winkelrekeninge bevat, met R5 miljard se uitstaande verbruikerskuld.

Absa het jare gelede Edcon se boek gekoop, maar nadat verkope swak gevaar het, het Edcon sy eie kredietboek begin bou.

’n Deel van Edcon s’n is ook gekoop, maar ’n groot deel is nie gekoop nie omdat hulle nie die “kredietrisiko-aptyt” daarvoor gehad het nie.

Dié deel van die boek is aan ander partye verkoop.

Die mededingingskommissie het onlangs aangekondig die Kaapse kredietgroep Nimble het ’n deel van Edcon se leningsboek en verwante administratiewe dienste bekom.

(Nimble het nog nie op navrae gereageer nie.)

Baie van dié boek is verbruikers wat reeds agterstallig was.

Sake ontrafel

Hy sê ingevolge die aanvanklike ooreenkoms sou Edcon voortgaan om die winkelrekeninge op sy platform te diens, soos wat vir Absa gedoen is.

Edcon het ’n oproepsentrum gehad wat die rekeninge bestuur het, al het dit aan Absa behoort.

“Ons het die verhouding oorgeneem en het ’n diensvlakooreenkoms met Edcon gesluit, wat die oproepsentrumdienste sou verskaf as deel van die transaksie.”

Maar toe kom die sakeredding.

Een groot verandering wat dit veroorsaak het, en wat tot baie van die klagtes gelei het, is dat die ander finansiëlediensteprodukte wat oor die jare aan klante verkoop is, nou apart hanteer word.

Dit sluit in versekering en die lojaliteitsprogram.

Voorheen was daar een oproepsentrum wat navrae en klagtes oor al die produkte hanteer het. “Jy as verbruiker kon die oproepsentrum bel as jy ’n vraag het oor versekering, Edgars-klubkaart of krediet en Edcon het personeel gehad wat dit hanteer.”

Met die sakereddingsproses is al dié bedrywighede van mekaar ontrafel.

RCS moes nuwe ooreenkomste onderhandel met die twee kleinhandelaars wat Jet en Edgars gekoop het.

“Ingevolge die ooreenkoms is daar sekere dinge wat ons kan doen en dinge wat ons nie kan doen nie. Ons mag byvoorbeeld nie versekering verkoop nie, want dit is ’n ooreenkoms wat Hollard met die kleinhandelaars het.”

Perfekte storm

“Die sakereddingsproses was opsigself taamlik kompleks, omdat jy die sakereddingspraktisyns gehad het wat onderhandel, RCS aan die krediet-kant, Hollard aan die versekeringskant, Edcon wat die klubkaartbedrywighede besit, Foschini wat Jet koop en Retailability wat Edgars koop.”

(Sien die meegaande tabelle met kontantbesonderhede van die verskillende ondernemings wat die verskillende dele verkry het.)

Hy sê dit het gelei tot ’n situasie waar as ’n verbruiker vrae het oor krediet, moet hulle met RCS praat, oor die klubkaart met Retailability en oor versekering met Hollard. “Dit was nooit voorheen die geval nie en het baie van die kompleksiteit veroorsaak en die probleme wat klante tans ervaar.”

Die sakereddingsproses wat skielik aangekondig is en die onsekerheid met salarisbetalings het personeel ontwrig wat normaalweg steundienste sou behartig soos IT.

Baie het die maatskappy verlaat.

Dit het die skuif van rekeninge van Edcon se stelsel na RCS s’n gekompliseer.

Die migrasie van die inligting is in September gedoen.

“Dit is gewoonlik ’n komplekse proses om die inligting van een stelsel na ’n ander te skuif en kan 12 tot 18 maande duur. Ons het dit binne vyf weke gedoen omdat die sakereddingspraktisyns die ondernemings wou toemaak om nie nog koste te dra nie. Dit was ’n baie versnelde migrasieproses, tesame met die gebrek aan kontinuïteit aan Edcon se kant met personeel wat die bedrywighede verstaan het.”

klerekleinhandel

Baie van die klagtes spruit uit probleme wat ontstaan het voordat RCS die rekeninge na sy stelsel verskuif het, soos klante wat al voorheen hul rekeninge wou sluit, maar die opdrag is nooit uitgevoer nie.

“Daar is baie probleme wat oorgeërf is, plus dit wat uit die sakereddingsproses ontstaan het. Dit is soos die perfekte storm.”

Baie wil rekeninge sluit

Baie klagtes is van klante wat hul lidmaatskap by die ou Edgars gekanselleer het, maar dit is nie verwerk nie en het aktief gebly.

Edcon het ’n paar jaar gelede die lojaliteitsprogram Thank U vir sy verskillende handelsname bekend gestel. Hiermee kon selfs klante wat kontant koop, punte verdien.

Die Thank You-winkelkaart is ontwikkel om sowel ’n kontantkaart te wees om mee punte te verdien en om op krediet te koop.

Edgars Club is ’n klub wat gelde hef van lede vir onder meer ’n tydskrif en ander dienste.

Thank U en Edgars Club is ook verkoop aan Retailability, wat albei bestuur.

RCS behartig wel die fakturering en betaling vir dié dienste en dit word op klante se rekeninge gehef.

Die premies van versekering wat klante uitneem, word ook op die rekeninge gehef.

Die ontrafeling van Edcon se sake het veroorsaak dat iemand wat ’n rekening wil sluit maar ook versekering het en ’n lid van die klub is, eers dié produkte moet kanselleer voordat die rekening gesluit kan word.

“As ons net ’n rekening sluit, gaan die koste van die versekering en die lojaliteitsprogram aanhou opbou.”

Hy sê hul oproepsentrums word oorweldig deur ’n “buitensporige volume” oproepe omdat verbruikers ook oor dié produkte bel.

Hy het ’n lys met kontaknommer verskaf van die verskillende diensverskaffers wat klante moet bel.

Volgens hom probeer RCS sy bes om klante by te staan met die klagtes.

Een van die veranderinge wat ná die verskuiwing van die rekeninge in werking gestel is – om ontslae te raak van die opsie vir winkelkrediet waarop geen rente gehef word as dit binne ses maande afbetaal word nie – is omgekeer ná geweldige kritiek en klagtes daaroor, het Norman Drieselmann, uitvoerende hoof van Retailability, onlangs aan Netwerk24 gesê.

LEES OOK: Edgars se nuwe eienaar antwoord vrae oor klagtes

Afbetaal, maar steeds gepla

Baie van die klagtes op sosiale media is van mense wat beweer hulle het reeds hul rekeninge afbetaal, maar kry steeds oproepe.

Adams erken daar is gevalle waar betalings om een of ander rede nie deur Edcon toegewys is aan ’n rekening nie.

“Daar is beslis uitdagings waar betalings nie toegewys is nie en die rekeninge agterstallig geraak het en dan word klante gebel om te hoor waar hul geld is.”

Hy sê RCS ondersoek sulke gevalle as klagtes ontvang word en wanneer die betaling opgespoor word, word die fout reggestel.

Wanneer ’n verbruiker by ’n kredietburo aangemeld is oor ’n betaling wat misgeloop is, sal die kredietburo gevra word om die inligting te verwyder. Hy sê kredietverskaffers is ingevolge wetgewing verplig om ’n betaling wat misgeloop is by kredietburo’s aan te gee.

Verbruikers kla dat hulle nimmereindigend en oor naweke oor rekeninge gebel word.

Volgens hom laat wetgewing toe dat verbruikers oor naweke op ’n Saterdag gebel kan word, maar nie op ’n Sondag nie.

“Ons sal niemand bel oor kliëntediens as die persoon ons nie gevra het om dit te doen nie. Ons sal op Saterdae sommige mense op spesifieke tye oor agterstallige skuld bel. Dit is omdat dit soms die enigste tyd is om mense in die hande te kry omdat hulle nie dan werk nie.”

Meer oor:  Jet  |  Retailability  |  Edcon  |  Absa  |  The Foschini Group  |  Edgars  |  Foschini  |  Hollard  |  Lojaliteitsprogram  |  Klerekleinhandel  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.