Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
OORSIG: SAL het nóg R5 mjd. nodig
’n Stewige span van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), die ouditeur-generaal se kantoor, die nasionale tesourie, asook Mondli Gungubele, asjunkminister van finansies, trek Dinsdagoggend by die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) saam. Themba Godi, voorsitter van die komitee, sê dis in belang van die land dat die SAL reggeruk word en suksesvol raak.
24 Apr. 14:34:49

Die SAL se voorlegging en ondervraging voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge is nou klaar. Dit het ’n donker prentjie van die lugdiens se geldsake geskep – die lugdiens se binnelandse roetes ly ’n verlies en hy het nie genoeg kontant om sy maandelikse uitgawes en skuld te dek nie.

Die groot vraag is nou of, of minstens wanneer, die tesourie weer diep in die staatskas sal moet delf om die SAL staande te hou.

24 Apr. 14:28:20

Belastingbetalers sal onregstreeks wéér opdok om die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te red.

Die SAL het oor die volgende ses maande nóg R5 miljard se bedryfskapitaal nodig, het die parlement Dinsdag gehoor.

Dis nadat die lugdiens in 2017 R10 miljard in paaiemente ontvang het om sy skuld te betaal en vir bedryfskapitaal.

Die SAL het in Junie R2,2 miljard gekry om ’n Standard Chartered-lening af te betaal, in Junie R3 miljard, onder meer om ’n Citigroup-lening af te betaal, en die oorblywende R4,8 miljard is in paaiemente van Desember tot Februarie aan die SAL oorbetaal, met die laaste R1,792 miljard op 31 Maart 2018.

Die geld is ingevolge art. 16 van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies uit die staatskas gevat.

24 Apr. 14:11:02

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies, sê Skoor speel ’n belangrike rol om die SAL te help slaag.

Gungubele sê ’n span van die nasionale tesourie werk gereeld saam met die SAL. 

Lesse wat van Eskom geleer kan word, is dat daar duidelikheid moet wees oor die rol van die staat as aandeelhouer en die direksie, wat besorg moet wees oor uitstekende prestasie en entrepreneurskap.

Gungubele sê as die SAL sy omdraaiplan parlement toe bring en saam met die komitee daardeur gaan, sal baie vrae beantwoord word.In watter toestand die SAL ook al is, sal daar altyd ’n vraag na lugvervoer wees, sê Gungubele. 

Hy wil hê die SAL moet binne 6 maande op ’n volhoubare pad wees.

Foto: News24

24 Apr. 13:42:18

David Ross (DA) keer terug na die SAL se beroerde geldsake. Hy sê die kontantvloeiprobleme is erger as verwag. Ethiopian Airlines het onlangs wins van miljarde behaal. Dis ’n lugdiens in volle staatsbesit, maar die bestuur is onafhanklik en daar is nie politieke inmenging nie. Die SAL moet dalk na hul model kyk, sê Ross.

24 Apr. 13:39:04

Die SAL-voorlegging voor die parlement se staande komitee oor staande rekening (Skoor) is besig om te ontaard soos wat LP’s hul eie klagtes oor die lugdiens lug.

Thapelo Chiloane (ANC) sê sy het Maandag met die SAL na Kaapstad gevlieg, maar die kos was “aaklig”. Sy het gewonder hoekom ’n mens pizza kry om te eet as jy betaal het vir ’n sakeklas-kaartjie.

Nou weet ons ook dat LP’s sakeklas vlieg...

24 Apr. 13:33:22

Oor ANC-lede se mening dat SAL-vlieëniers te veel betaal word, sê Jarana hulle het wetlike kontrakte met vlieëniers waartoe hulle verbind is. Dit klink of die ANC-LP’s reken vlieëniers moet minder betaal word, maar ander SAL-personeel méér.

24 Apr. 13:23:25

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof, sê die SAL het nóú die volgende geldinspuiting van die tesourie nodig, want daar is ’n gaping tussen sy inkomste en uitgawes, terwyl die SAL geen oop kredietgerief het nie.

Die SAL praat tans met die nasionale tesourie en banke oor ’n nuwe finansieringsplan in die konteks van die vooruitskatting dat die lugdiens teen 2021-’22 winsgewend sal wees.

Die SAL het reeds die volle R10 miljard wat die staat verlede jaar belowe het, ontvang, waarvan R7,6 miljard gebruik is om lenings terug te betaal en R2,4 miljard vir bedryfskapitaal.

Foto: Elizabeth Sejaka, Rapport

24 Apr. 13:16:42

Ntombovuyo Mente (EFF) sê dit help nie al die skuld vir die SAL se probleme word op Dudu Myeni (foto), vorige voorsitter en ’n bondgenoot van oudpres. Jacob Zuma, gepak nie. Die topbestuurders wat haar opdragte uitgevoer het, is steeds onder Jarana.Myeni was berug daarvoor dat sy die parlement ontduik het – sy het herhaaldelik aangevoer sy is siek.Foto: Gallo Images

24 Apr. 13:04:33

Op ’n vraag van Tim Brauteseth (DA) waarom die SAL weer konsultante gebruik, sê Jarana die SAL is arm aan sekere vaardighede, want dis baie moeilik om top-vaardighede na die lugdiens te lok weens die negatiewe beeld in die openbaar.

Brauteseth is skepties en sê hy verwag om volgende jaar weer die SAL te sien met dieselfde storie. 

Vincent Smith (ANC) sê die direkteure moet besef hulle is uiteindelik verantwoordelik vir wat by die SAL gebeur. Hy het veral vir Akhter Moosa gewaarsku. Moosa is al  sedert 2016 in die SAL-direksie en is voorsitter van die oudit-en-risikokomitee.

24 Apr. 13:03:02

LP’s mor nou sommer oor hul eie probleme met die SAL ook.Mkhuleleko Hlengwa van die IVP kla oor hoeveel “papierwerk” dit verg net om jou wagwoord vir die SAL-app te verander as jy dit vergeet het. 

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof, gee toe die SAL se app werk nie optimaal nie. Dis maar eintlik net ’n mobiele webwerf. Jarana sê as die nuwe inligtingshoof in Mei begin, sal dit deel wees van sy werk om die app te verbeter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.