
Dudu Myeni. Foto: Argief
Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), mors geld wat sy nie het nie.
Dit was regter Ronel Tolmay se reaksie Maandag in die hooggeregshof in Pretoria toe Myeni aansoek om appèl teen twee vorige uitsprake wou bring.
Die hof was veronderstel om Maandag eindelik te begin om die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) se aansoek om Myeni as misdadige direkteur aan te hoor.
Dié proses is egter wéér vertraag toe Myeni haar aansoeke om appèl gebring het.
Wat Tolmay veral dwars in die krop gesteek het, was dat Myeni se regspan dié van Outa van net één aansoek om appèl ingelig het, terwyl sy twee wou bring.
Die hof is eers tydelik verdaag sodat adv. Nqabayethu Buthelezi, SC, wat Myeni verteenwoordig, kon uitpluis wat die probleem was.
Hy het later erken hulle het ’n fout gemaak.
Outa het geweet Myeni wou appèl aanteken teen ’n hofbeslissing in Desember wat bevind het dat die organisasie wél die reg het om die saak te bring.
Hulle het nie geweet dat sy ook aansoek om appèl wou indien teen die uitsprake wat haar nie toelaat om haar pleidooi te verander óf om alle direkteure van die SAL wat saam met Myeni diens gedoen het, by die saak in te sluit nie.
Adv. Stephanie Fick, regsverteenwoordiger van Outa, het voordat die hofverrigtinge Maandag begin het gesê dié jongste aansoek van Myeni is net ’n “flou poging” om die “ware verhoor oor haar onwettige optrede” te probeer keer.
Tolmay het voorheen bevind Outa as organisasie sonder winsbejag verteenwoordig die publiek en het alle reg om ’n saak teen Myeni aanhangig te maak, juis omdat sy aan die stuur van ’n staatsonderneming was wat inherent deur die publiek as belastingbetalers gefinansier word.
“Ons vertrou die hof sal dié geringe afleiding behartig op ’n wyse wat nie toelaat dat die reg onnodig uitgestel word nie, aangesien die saak sal voortgaan of Outa daar is of nie. Dudu vergeet klaarblyklik dat die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) ook ’n party in die saak is,” sê Fick.
Adv. Caroline Steynberg verteenwoordig sowel Outa as Saapa in die hof.
Outa het in Maart 2017 sy aansoek gebring.
Myeni het egter telkemale óf nie by die hof opgedaag nie óf met aansoeke van haar eie gekom om die proses te probeer vertraag.
Myeni het Maandag wéér nie self die hofverrigtinge bygewoon nie.