Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Regter kla oor gesloer met SAL-plan

“Ek sou nooit kon dink dat dit tot ses maande kon duur om ’n sakereddingsplan ter tafel te lê nie.”

Regter Denis Davis. Foto: Elvira Wood

Dit was die reaksie van regter Dennis Davis Dinsdagoggend omdat dit ses maande geduur het om ’n sakereddingsplan vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) by die hof in te dien.

Davis was deel van ’n volbank regters wat Les Matuson en Siviwe Dongwana, die sakeredders by die SAL, se appèlaansoek in ’n saak oor afleggings by die lugdiens aangehoor het.

Regter André van Niekerk van die arbeidshof het op 8 Mei beslis dat die afleggingskennisgewings wat die sakeredders al aan SAL-personeel uitgereik het, teruggetrek moet word.

Van Niekerk se uitspraak was ten gunste van die vakbonde Numsa en die SA Kajuitpersoneelvereniging (Sacca), wat gesê het die vakbonde kan nie behoorlik aan onderhandelinge oor die afleggingsproses deelneem as hulle nie insae in die sakeredders se plan vir die SAL het nie. Die hof het beslis dat die sakeredders nie kan voortgaan met die art. 189-proses as hulle nog nie ’n behoorlike sakereddingsplan voorgelê het nie.

Die reddingsplan vir die SAL is eers op 16 Junie ingedien.

Davis het reeds vroeg in die verhoor vir adv. Andrew Redding SC, wat die sakeredders verteenwoordig, male sonder tal gevra oor hoekom die verhoor enigsins voortgaan, veral omdat die reddingsplan nou wel gepubliseer is.

Hy het ook herhaaldelik gesê toe die wet opgestel is, was dit nooit die idee dat ’n reddingsproses maande lank moet sloer nie.

Redding sê as die uitspraak in werking bly, beteken dit die onderhandelingsproses oor afleggings eers kan begin sodra die sakereddingsplan goedgekeur word.

Krediteure stem nou eers op 14 Julie oor dié plan.

LEES OOK: Besluit oor SAL tot Julie uitgestel

Dit sal dan minstens 60 dae duur, soos wat die wet vereis.

Hy sê dat die SAL nie soveel tyd het nie, aangesien daar net genoeg geld in die bank is “vir ’n paar weke”.

Redding sê ook dat dié uitspraak ’n groot invloed sal hê op alle ander sakereddingsprosesse, aangesien dit sal keer dat ’n proses luidens art. 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge kan begin voordat ’n reddingsplan voorgelê word.

Dis hoekom dit volgens hom gehoor moes word, selfs al is die reddingsplan vir die SAL nou beskikbaar.

Davis, wat gehelp het om die Maatskappywet – wat uitstippel hoe sakeredding moet werk – te skryf, was egter duidelik baie skepties oor hoe die sakeredders in dié geval die wet wil toepas.

Hy het herhaaldelik gesê die doel van die wet was juis om so gou as moontlik ’n plan saam te stel om ’n maatskappy te red, en as daar nié só ’n vooruitsig is nie, “dan weet redders wat om te doen”.

Hy het pertinent gesê dat Van Niekerk se uitspraak “sin maak” wanneer daar na die wet gekyk word.

Regter Violet Phatshoane het ook gevra hoe ’n besluit geneem kan word oor hóé ’n maatskappy herstruktureer moet word as daar nog geen reddingsplan is nie.

Adv. Temba Ngcukoitobi SC, wat die vakbonde verteenwoordig, sê as die sakeredders toegelaat word om wel die proses te begin voordat die plan bekend gemaak is, “is dit asof jy die kar voor die perde inspan”.

Die plan wat die sakeredders voorgelê het, stel voor dat net 1 000 van die SAL se werksmag van sowat 4 700 werknemers hul poste behou.

Regter John Musi is die derde regter wat oor die aansoek moet besluit.

Uitspraak is voorbehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.