Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Regter vat Myeni vas, pad oop om aansoek te hoor
Dudu Myeni. Foto: Argief

Die hooggeregshof in Pretoria gaan eindelik die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) se aansoek aanhoor om Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), tot misdadige direkteur te verklaar.

Die SAL-vlieëniersvereniging (Saapa) dien die aansoek saam met Outa in.

Dit kom nadat regter Ronel Tolmay Myeni se drie aansoeke om appèl Dinsdag met koste van die hand gewys het.

Power987News twiet  dat Myeni Outa en Saapa se regskoste binne 30 dae moet betaal.

Tolmay het ná ’n slapelose nag bevind dat Myeni haar aansoeke heeltemal te laat ingedien het. Dit moes reeds teen 9 Januarie gedoen gewees het.

Sy was volgens Power987News glo baie kort van draad omdat sy oornag dié uitspraak moes afhandel.

Hoewel Outa op 23 Januarie gesê het hy is ingelig dat Myeni ’n aansoek om appèl ingedien het teen die uitspraak dat hy wel die reg het om sy aansoek in te dien, het hy niks geweet van die ander twee aansoeke om appèl nie.

Adv. Nqabayethu Buthelezi, SC, wat Myeni verteenwoordig, het nadat die hof in reses was vir ’n uur, erken dat die ander twee aansoeke nie ingedien is nie.

Myeni wou appèl aanteken teen Tolmay se uitsprake in Desember dat sy nie haar pleit kan verander nie en ook nie al die individue wat as direkteure van die SAL gedien het gedurende haar ampstermyn by die saak kan betrek nie.

Hoewel Buthelezi ná die uitspraak gesê het hy kan nie met die saak voortgaan nie omdat Myeni uitstedig is, was Tolmay se antwoord dat sy dit per e-pos kan lees. Myeni is glo in Richardsbaai, KwaZulu-Natal.

Buthelezi het sedertdien aan die hof gesê dat Myeni nou die appèlhof wil nader met die drie aansoeke. Outa én Tolmay is daarteen gekant dat die saak nou gestop word totdat Myeni dié aansoeke indien. 

Volgens Power987News het Tolmay gesê die saak gaan voort, buiten as aansoek gedoen word om uitstel te vra.

Adv. Caroline Steynberg verteenwoordig sowel Outa as Saapa in die hof.

Adv. Stephanie Fick, regsverteenwoordiger van Outa, het die uitspraak aan Netwerk24 as “ ’n oorwinning vir die burgers van Suid-Afrika” beskryf.

“Ons het die reg om ’n saak soos dié aanhangig te maak. Ons hoort hier. Hopelik kan ons nou met die saak begin.”

Outa het reeds in Maart 2017 die aansoek ingedien.

Myeni het egter telkemale óf nie by die hof opgedaag nie, óf met aansoeke van haar eie gekom om die proses te probeer vertraag.

Myeni het nie Maandag óf Dinsdag die hofverrigtinge bygewoon nie.


Meer oor:  Outa  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Dudu Myeni
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.