Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Regtig, Sherlock? SA se ‘koelkoppe’ skrik maklik
Herman Scholtz

Ons behoort Viceroy innig te bedank vir die probleme wat hulle in die finansiële sektor uitgelig het – en ek praat nie van die probleme van Steinhoff en Capitec nie.

Die “skandale” wat Viceroy kwansuis sou oopvlek, word oorskadu deur die feit dat ’n geskorste maatskaplike werker en twee 23-jariges soveel markpaniek kon veroorsaak.

Wie het so verwoed Capitec- en PSG-aandele verkoop om die bank se aandeelprys met 25% af te druk? Dit was sekerlik nie net amateurs en kleinhandel-kliënte wat hul klein Capitec-portefeuljes verkoop het nie. Daarvoor was die impak te groot.

Waar was die ontleders, fondsbestuurders, aandelemakelaars en die ander kenners wat ruimskoots vergoed word om ’n koel kop namens hul kliënte te hou?

Die chaos was ook nie tot Capitec beperk nie. Net die bespiegeling dat Viceroy dalk ’n verslag oor hulle opgestel het, het vroeër die maand probleme vir die eiendomsgroep Resilient en die farmaseutiese groep Aspen veroorsaak.

Viceroy word nou deur almal, van Capitec tot die tesourie, veroordeel oor hul “roekeloosheid”, maar dié groep is heeltemal deursigtig oor hul geldmotief. Hulle veroorsaak paniek en skep dan deur kortverhandelinge van die betrokke maatskappy. Kortverkope as sodanig is nie ongewoon en onwettig nie.

Waarom reageer slim mense op Viceroy se verslae sonder om eers hul eie oordeel uit te oefen?

Pleks van vingers na Viceroy te wys, behoort ons te vra hoe Viceroy so ’n houvas op die Suid-Afrikaanse aandelemark gekry het en waarom slim mense op hul verslae reageer sonder om eers hul eie oordeel uit te oefen.

Die antwoord is hul vloekskoot met Steinhoff. Viceroy self het gesê hul ervaring met Steinhoff het hulle gelei tot die Capitec-ondersoek. Lees: Die Suid-Afrikaanse finansiële sektor skrik maklik. Hulle kan wéér skep soos met Steinhoff.

Ewe skielik praat selfs fondsbestuurders – slím mense – van Viceroy wat Steinhoff se probleme “reg voorspel” het. Dis snert.

Die groot Steinhoff-onthullings was al lank daar voor Viceroy se verslag.

Trouens, Steinhoff het op 4 Desember ’n Sens-verklaring uitgereik om te sê hy kan nie probleme met sy finansiële state uitstryk nie omdat die ouditeure weier om dit af te teken.

Die dispuut self was nie eens ’n raaisel nie; Steinhoff het self verklaar die kwessies hou grootliks verband met die belastingondersoek in Duitsland.

Twee dae later het Viceroy hul verslag gepubliseer om te sê iets is nie pluis by Steinhoff nie.

Regtig, Sherlock?

Sommige van Viceroy se bronne vir hul verslae is skokkend.

In die Capitec-verslag gebruik hulle klakkeloos ’n anonieme aanlyn inskrywing van ’n voormalige werknemer om te wys dat Capitec mense teister om nog geld te leen. Die werknemer kla ook dat Capitec ’n mens sommer van bedrog beskuldig as jy ’n “fout” maak.

Ja, wel, nee, goed. Dit klink na ’n betroubare werknemer.

Viceroy gebruik dieselfde webwerf van selfgerapporteerde data om te “bewys” Capitec betaal hul takbestuurders baie minder as ander banke.

Dít op sigself behoort slim mense ongemaklik genoeg te maak om eers self die saak te ondersoek.

Dit is natuurlik baie moontlik dat ­Viceroy geldige kritiek teen Capitec en Steinhoff geformuleer het.

Ons weet nog bitter min van Steinhoff se probleme, en die tyd sal leer of Viceroy dalk heeltemal reg was – al was dit weens die beweerde binnekennis wat hulle gehad het.

Maar dit laat nie die ongemaklike vrae oor deeglikheid en omsigtigheid in die finansiële sektor verdwyn nie.

Wat is erger: Om ontmasker te word as betaalde professionele mense wat eenvoudig dinge misgekyk het wat ’n vreemde buitelandse groep kon uitlig?

Of om geflous te word deur ’n aanvanklik gesiglose groep wat skermgrepe maak van webtuistes as bronne?

Albei is ewe erg. Ek hoop regtig wat hulle betref dit is nie albei nie.

) Scholtz is nuusredakteur van Rapport.

Herman Scholtz

Kort voor lank

Meer oor:  Steinhoff  |  Viceroy  |  Capitec  |  Viceroy Research  |  Batebestuurders  |  Batebestuursfirmas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.