Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Régtig?’ wonder regter oor Steinhoff nie in hof is
Steinhoff se hoofkantoor in Stellenbosch.

“Seriously?! Niemand van Steinhoff nie?” het regter Rosheni Allie Maandagoggend gevra toe geen regsverteenwoordiger van Steinhoff in die eerste hofaansoek in Suid-Afrika teen die maatskappy teenwoordig was nie.

Die aansoek van die afgetrede Stellenbosse bankier GT Ferreira en twee werkerstrusts van sy wynplaas Tokara teen Steinhoff het Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad gedien.

Hulle voer aan dat hulle weens die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys meer as R1,1 miljard verloor het.

Ook geen regsverteenwoordiger van Ferreira en die trusts was in die hof teenwoordig nie.

Die saak is van die rol geskrap, maar eers nadat Allie haar verbasing uitgespreek het oor niemand vir Steinhoff in die hof was nie. Sy meen niemand wou hom dalk verteenwoordig nie.

Ferreira se saak is die eerste van drie eise wat teen Steinhoff ingedien is, waar die partye in ruil vir aandele in ander maatskappye Steinhoff-aandele ontvang het.

Die ander eis is van Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff, wat in 2015 sy aandele in Pepkor vir aandele in Steinhoff verruil het. Tekkie Town se voormalige eienaars het ook ’n eis ingedien.

GT Ferreira

Ferreira en sy werkerstrusts het op 25 Junie 2015 altesaam 5,96 miljoen PSG-aandele vir Steinhoff-aandele verruil.

PSG se aandeelprys was ten tyde van die ruilooreenkoms R196,18.

Ferreira en die verteenwoordigers van die Tokara BEE Trust en Tokara Employees Trust wil hê die hof moet die gedeeltelike skriftelike en gedeeltelike mondelingse ooreenkomste tussen hulle en Steinhoff International as van die begin af ongeldig verklaar sodat Steinhoff International hulle kan vergoed deur die PSG-aandele aan hulle terug te gee. Alternatiewelik wil hulle hê die maatskappy moet aan hulle die waarde van die PSG-aandele uitbetaal wat deel van die ruilooreenkoms was.

“Weens die ineenstorting van die waarde van Steinhoff se aandele het die SEB-trust, die werkerstrust en ek reuse-verliese gely,” lui Ferreira se eedsverklaring wat die hofaansoek vergesel.

Volgens Ferreira beloop hul verliese R1,1 miljard. Dit was toe die Steinhoff-aandeelprys nog R2 was. Dit het intussen verder tot R1,18 gedaal.

Ferreira se regsverteenwoordiger het by navraag gesê omdat Steinhoff die saak teenstaan moes dit nooit op die onbestrede hofrol beland het nie. 

Steinhoff het op 8 Junie aangedui dat hy die saak gaan teenstaan.

“Die 18de Junie was net die voorlopige datum as die aansoek onbestrede is. Omdat kennis gegee is dat dit teengestaan gaan word, moes die saak nie op die rol gewees het nie.”

Meer oor:  Psg  |  Steinhoff  |  Christo Wiese  |  Gt Ferreira  |  Aandele  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.