Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Remgro dreig om krane toe te draai vir landbou

Remgro dreig om sy belegging in die suiker- en hoenderbedryf te staak.

Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro.

Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro, het Vrydag op ’n aanbieding aan beleggers gesê hy draai nie doekies om in sy kommentaar oor die probleme in die bedryf nie.

Daar word met die regering geskakel, maar hy meen nie almal verstaan ten volle wat besig is om te gebeur nie.

“Die regering moet besluit of hy ’n ordentlike hoender en suikerbedryf in Suid-Afrika wil hê.”

Remgro besit ’n effektiewe 77% van die genoteerde RCL Foods, wat in sowel suiker as hoender betrokke is.

“Dit was ’n bloedbad die afgelope jaar ,met albei die twee landboubedrywe wat gesukkel het,” sê hy. “Om eerlik te wees, ons is besig om ons belegging in landbou baie krities te evalueer.”

Suiker

Durand sê ongelukkig kan Remgro nie net suikermeulens en plantasies sluit oor die ernstige maatskaplike implikasies wat dit vir die gemeenskappe gaan hê nie.

Maar dit is duidelik dat Remgro nie goeie geld agter slegte geld kan aangooi nie of enige verdere kapitaal kan toeken op dit as daar nie ’n toekoms is nie.
Jannie Durand van Remgro

“Maar dit is duidelik dat Remgro nie goeie geld agter slegte geld kan aangooi nie of enige verdere kapitaal kan toeken op dit as daar nie ’n toekoms is nie.”

Volgens hom skakel Remgro aktief met die regering en die bedryf oor wat gedoen kan word.

Durand sê die impak van die suikerbelasting was baie groter as wat almal verwag het. Volgens hom het die plaaslike suikervraag met 14% gedaal.

“Terselfdertyd het invoer van die plaaslike vraag oorgeneem. Die plaaslike bedryf moes meer uitvoer en as ons uitvoer verloor ons geld.”

RCL kyk na ander bronne van inkomste, maar dit benodig die regering se ondersteuning om dit ’n volhoubare bedryf te maak.

Remgro besit ’n effektiewe 77% van die genoteerde RCL Foods, wat in sowel suiker as hoender betrokke is.

Hoender

Ten opsigte van die hoenderbedryf sê hy daar word gekyk na planne aan die boerdery kant. “Maar ons kan nie bates verkoop en net die probleme aangee nie. Ons reputasie gaan daardeur geraak word, want dan word ons daarvan beskuldig dat ons nie die regte ding doen nie.”

Durand sê die afgelope boekjaar was een van die moeiliker jare vir die maatskappy wat in verskeie bedrywe beleggings het, insluitende in die gesondheidsektor waar hy ’n effektiewe belang van 44% in Mediclinic het.

Wetgewing

Die boekjaar is gekenmerk deur talle veranderinge op wetgewing. “Ek het in my beroep nog nie so baie regulatoriese veranderinge in een jaar gesien nie.”

Dit sluit in die Kredietwysigingswet, wat sy belange in die bankbedryf raak, die wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering, wat ’n impak op Mediclinic kan hê, die suikerbelasting en grondhervorming.

Hy glo ekonomiese groei vir die volle jaar gaan waarskynlik ver onder verwagting wees en die begrotingstekort van die regering gaan vergroot.

“Daar is ook ’n gebrek aan beleidshervorming en baie beleid is nie goed oordink nie. Ongelukkig is daar probleme met die toepassing van die beleid wat wel goed is en daar is ’n gebrek aan dringendheid.”

Daar is ook ’n gebrek aan beleidshervorming en baie beleid is nie goed oordink nie. Ongelukkig is daar probleme met die toepassing van die beleid wat wel goed is en daar is ’n gebrek aan dringendheid.
Jannie Durand van Remgro

Geleenthede

Hy sê dit is baie kommerwekkend dat daar die afgelope 12 maande sowat R191 miljard se buitelandse beleggings uit Suid-Afrikaanse effekte en aandele gevloei het.

“Baie maatskappye in Suid-Afrika wat die vermoë het om te belê, hou hul beleggings terug om te sien wat gebeur. Vir ons is ’n belegging in nywerheid- en landbou vermoëns op die oomblik ’n nee-nee.”

Nogtans sal Remgro gereed wees as daar moontlik in die onsekere toestande geleenthede kom in die bedrywe met ondernemings wat te veel skuld het.

Die afgelope jaar is sowat 170 geleenthede geëvalueer, van klein tot groot, maar die pryse is te hoog.

Remgro het in die boekjaar tot einde Junie sy dividend met 6% verhoog.

Neville Williams, finansiële hoof, sê die groot positiewe van die resultate is dat die onderliggende beleggings steeds kontantvloei-positief is.

Dit het verseker dat ’n slotdividend van R3,49 per aandeel verklaar is (2018: R3,28). Dit het die totale dividend vir die jaar op R5,64 te staan gebring, wat ’n verhoging van 6% is.

“Die ondernemings is danksy hul kontantvloei steeds goed geposisioneer. Hulle het sterk strategieë wat Remgro op lang termyn sal bevoordeel.”

Meer oor:  Remgro  |  Rcl Foods  |  Mediclinic  |  Jannie Durand  |  Suikerbelasting  |  Suikerbedryf  |  Onteiening  |  Invoer  |  Storting  |  Handel  |  Ngv  |  Suiker  |  Private Hospitale  |  Invoertariewe  |  Hoender  |  Hoenderbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.