Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Remgro toon wye invloed van pandemie, sny dividend

Die beleggingsmaatskappy Remgro, wat wye blootstelling aan die plaaslike ekonomie het deur die maatskappye waarin hy belê is, se resultate vir die boekjaar tot einde Junie toon hoe ernstig die pandemie en die gepaardgaande inperking die land getref het.

Remgro
Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro.

Sy kernwins uit voortgesette bedrywighede het met 68% van R5,5 miljard tot R1,7 miljard geval.

Die daling is grootliks te wyte aan die negatiewe invloed wat die koronaviruspandemie en die gevolglike inperking op die winste van die voedselvervaardiger RCL Foods, die drankgroep Distell, die brandstofmaatskappy Total South Africa, Mediclinic, die finansiëledienstegroep Rand Merchant Investments (RMI) en die bankgroep FirstRand Beperk gehad het.

Jannie Durand, uitvoerende hoof, sê die krisis wat die pandemie meegebring het, het die afgelope maande ontwikkel in ooreenstemming met die ergste scenario waarvoor die groep beplan het.

Hy sê Suid-Afrika het een van die mees beperkende inperkings ter wêreld gehad.

“Die pandemie en die gepaardgaande inperking het verwoesting en desperaatheid vir miljoene mense meegebring. In Suid-Afrika het dit tot die verlies aan lewens en van lewensbestaan gelei, met huishoudings se finansies wat erg geraak is en baie mense wat in groot dele van ons land hongersnood ervaar het.

“Die aanslag van Covid-19 het ongetwyfeld ons ekonomiese, politieke en maatskaplike landskap vinniger verander as wat enigeen voor die uitbreking daarvan verwag het.”

Die finansiëledienstemaatskappye wat Remgro besit, moes wesenlike voorsienings maak vir toekomstige eise en die verwagte verval van polisse weens die swak ekonomiese toestande, terwyl mediese operasies in Mediclinic ter voorbereiding van die pandemie gestop is, soos by ander hospitale.

Die drankgroep Distell is erg geraak deur die verbod op die verkoop op drank, en die voedselvervaardiger RCL weens kitskosrestaurante wat lank toe was.

Durand sê Total South Africa is geraak deur die wesenlike val in die olieprys, waar die voorraad se waarde afgeskryf moes word. Aangesien mense te midde van die inperking minder gery het, het dit tot ’n wesenlike daling in die verkope van brandstof gelei.

Die onderliggende waarde van die groep se belange in die maatskappye, kontant en skuld (intrinsieke netto batewaarde) het met 33% gedaal.

Die groep het in die boekjaar sy belang in RMH aan aandeelhouers ontbondel en die daling weerspieël dit, maar ook die negatiewe invloed van die pandemie op die markwaarde van die genoteerde maatskappye waarin hy belê is en die daling in die billike waarde van die ongenoteerde maatskappy waarin Remgro ’n belang het.

Durand sê die daling in genoteerde maatskappye se aandeelpryse is meegebring deur die vlug van riskante bates deur internasionale beleggers weens die pandemie, wat tot ’n enorme uitvloei van kapitaal uit Suid-Afrika gelei het. Die swak rand en die baie broos ekonomie wat slegte vooruitsigte vir groei in die komende jare voorspel, dra ook by tot die swak aandeelpryse.

Die politieke onstuimigheid en ’n gebrek aan beleidshervorming in die land met die regering wat geld wil bestee aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens en nie aan beter produktiwiteit nie, dra ook hiertoe by, sê hy.

Ná die ontbondeling van RMH is Mediclinic nou die grootste bydraer tot die groep se intrinsieke netto batewaarde.

“Die aanslag van Covid-19 het ongetwyfeld ons ekonomiese, politieke en maatskaplike landskap vinniger verander as wat enigeen voor die uitbreking daarvan verwag het.”
Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro

Distell en RCL se aandeelpryse het so skerp gedaal dat die betreklike onbekende Siqalo Foods nou ’n groter deel tot sy batewaarde bydra. Siqalo Foods vervaardig margarien wat onder die handelsname Rama, Flora, Stork en Rondo verkoop word, en wat verkry is toe Remgro sy belang in Unilever verkoop het.

Volgens Durand laat die ontbondeling van RMH toe dat kleiner maatskappye nou ’n groter invloed kan hê op die intrinsieke netto batewaarde van die groep.

“Ons kry baie vrae oor of die strategie verander het. Dit het nie, maar ons gaan dalk minder geduldig en meer veeleisend vorentoe wees met die kleiner maatskappye se vertoning.”

Hy sê Remgro sal al sy beleggings op hul eie ontleed, maar ook die sektore waarin belê is ten opsigte van hul volhoubaarheid vorentoe.

Hy maan egter dat beleggers nie moet dink dieselfde pad as met RMH gaan met almal gevolg word nie. “Elkeen sal op sy eie meriete geëvalueer word.”

Remgro het baie vrae oor die reuse-diskonto gehad waarteen sy aandeelprys vergeleke met die netto batewaarde van sy onderliggende beleggings verhandel.

Sy sluitingsaandeelprys einde Junie was R99,90, wat ’n diskonto van 35% is tot die intrinsieke netto batewaarde, vergeleke met verlede jaar se 19%.

Die diskonto het aan die begin van vandeesweek 46% beloop.

Durand sê tydens die pandemie het die diskonto op beleggingsbeheermaatskappye wyer geword.

Hy glo die groter diskonto hou verband met die baie buitelandse geld wat uit aandele in die land gevloei het, veral uit beleggingsbeheermaatskappye soos Remgro.

Remgro het ’n dividend van 50c verklaar, wat ’n daling van 53% is teenoor die vorige jaar.

Hy sê die dividend is afwaarts aangepas om RMH se ontbondeling en die invloed van Covid-19 in berekening te bring.

Durand sê Remgro was versigtig met die dividend. “Ons kon seker meer betaal het, maar ons is onseker oor wat in die komende 12 tot 18 maande gaan gebeur. 'n Mens kan nou sien wat in Europa en Amerika gebeur (met die pandemie), en dit is ook nie seker of daar ’n vreedsame oorgang gaan wees ná die verkiesing in Amerika as iemand daar verloor nie.”

Meer oor:  Remgro  |  Distell  |  Rcl Foods  |  Jannie Durand  |  Maatskappyresultate  |  Beleggings  |  Dividiend  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.