Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Rente loop op vir Christo Wiese se Titan-groep

Elke maand loop €500 000 se rente op op die vooruitbetaling wat Christo Wiese se Titan-groep aan Steinhoff moet terugbetaal.

Christo Wiese, billionaire and chairman of Steinho
Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff. Foto: Getty Images

Die ooreenkoms ingevolge waarvan dié vooruitbetaling, oftewel rentedraende lening, van €200 miljoen terugbetaal moet word, kan egter nog nie in werking tree nie.

Steinhoff herhaal in sy jaarverslag vir die boekjaar tot September 2018 dat die lening nog uitstaande is en dat gewag word vir die goedkeuring van reguleerders.

Daar is geen aanduiding in die jaarverslag wanneer die goedkeuring verwag kan word of oor watter termyn Titan die geld gaan terugbetaal nie.

Tyrrel Murray, Steinhoff se hoof van beleggersbetrekkinge, sê hulle kan in dié stadium niks meer openbaar maak as wat in die jaarverslag staan nie.

Titan het die geld in November 2017 van Steinhoff gekry as ’n vooruitbetaling vir Wiese se belang in Shoprite deur die Steinhoff-filiaal Pepkor.

Kort voordat die Steinhoff-bom gebars het, was onderhandelinge druk onderweg dat Pepkor Wiese se 128 miljoen Shoprite-aandele gaan bekom en basies só begin om een enorme kleinhandelreus te skep. Die transaksie is geskrap nadat die groep aangekondig het Deloitte, sy eksterne ouditeur, het boekhoukundige ongerymdhede by die groep ontdek.

Markus Jooste het summier as uitvoerende hoof bedank en Wiese het op 14 Desember as voorsitter van die groep bedank.

Die €200 miljoen (in vandag se wisselkoers baie na aan R3,3 miljard) was een van twee lenings. Die ander, van €125 miljoen, is in Oktober 2017 toegestaan, maar is in Februarie 2018 terugbetaal.

Titan het tot 1 September 2018 ’n rentekoers van net 1,5% per jaar op die lening betaal en betaal sedertdien 3%. Dit het die lening vir die boekjaar tot einde September 2018 tot €203 miljoen laat groei, volgens Steinhoff se jaarverslag. Volgens Netwerk24 se berekenings sou die bedrag teen einde Junie al gegroei het tot €207 miljoen.

Die vooruitbetalings is eers in April 2018 openbaar gemaak.

Entiteite waarin Wiese belange het, het eise van meer as €4 miljard teen Steinhoff ingestel. Dit sluit in eise vir die transaksies waarin Wiese se belange in Pepkor en aandele in PSG vir Steinhoff-aandele verruil is op grond van voorstellings oor Steinhoff wat nou blyk bedrieglik was.

Van die eise word in euro en ander in rand aangegee. As die euro-eise omgeskakel word in huidige randwaarde, beloop die eise nagenoeg R64 miljard.

Meer oor:  Steinhoff  |  Titan  |  Christo Wiese  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Bedrog  |  Kleinhandel  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.