Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Laer rentekoers help dalk eers oor ’n jaar
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Argief

Die Reserwebank “het vinnig en beslissend opgetree om die invloed van die koronaviruspandemie op die land se ekonomie te help teenwerk”.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Vrydag in ’n aanlyn gesprek met die media gesê die bank het die beskikbare ruimte wat daar in monetêre beleid was, vinnig ingespan.

“Daar was nie fiskale ruimte om die ekonomie te help nie, so ons moes die monetêre ruimte gebruik wat ons wel gehad het.”

Die Reserwebank het in Maart en April die repokoers met 1 persentasiepunt, in Mei met 0,5 persentasiepunt en in Julie met 0,25 persentasiepunt verlaag.

Die repokoers beloop tans 3,5% en die prima uitleenkoers van banke is 7%. Dit is die laagste repokoers in bykans ’n halfeeu.

Kganyago sê egter daar moet in gedagte gehou word dat die invloed van ’n laer rentekoers op ekonomiese groei gewoonlik eers 12 tot 18 maande later gesien kan word.

“Die probleem nou is dat hoewel ons die spreekwoordelike petrol getrap het om die ekonomie aan die gang te kry deur die rentekoers te verlaag, het die pandemie (en die staat van inperking) die handrem opgetrek.”

Kganyago sê dié situasie is in baie lande wêreldwyd ervaar. “Dit is geen wonder dat party mense na die pandemie verwys as die Groot Inperking nie.”

Namate die ekonomie weer aan die gang kom, sal die laer rentekoerse waarskynlik begin om groei te ondersteun, sê hy.

Nog vlae van pandemie

Daar is egter groot kommer dat ’n tweede of selfs meer vlae van die pandemie verdere druk op die ekonomie sal plaas.

Chris Loewald, ’n lid van die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee wat deelgeneem het aan die gesprek Vrydag, sê die bank hou die verwikkelinge fyn dop.

Hy sê egter die verwagting is dat verdere vlae waarskynlik nie dieselfde groot invloed op ekonomieë gaan hê nie.

Dit beteken egter nie dat ekonomieë binnekort gaan herstel nie.

“Ons weet nie hoe lank dit gaan neem voordat ’n entstof beskikbaar is en vir wie nie.”

Loewald sê daar is ook geen duidelikheid oor hoe vinnig ’n entstof ’n invloed sal hê op ekonomiese sektore soos toerisme nie.

Banke

Kuben Naidoo, een van die Reserwebank se adjunkpresidente, sê hoewel dit lyk asof dinge in die ekonomie begin verbeter, volstaan die Reserwebank met sy riglyne.

Een hiervan is dat hy banke aanraai om nie nou dividende te betaal nie.

Op die vraag of dié riglyn ook volgende jaar sal geld, sê hy die vraag sal wees: “Is die krisis al verby?”

Naidoo sê die Reserwebank was vroeër vanjaar baie bekommerd oor die pandemie se invloed op banke. Daar is steeds nie sekerheid oor die verwagte vlaag slegte skuld nie.

“Ek glo dit was die regte besluit om banke te vra om nie dividende te betaal nie. Dit sou katastrofies gewees het as ’n bankkrisis sou ontstaan te midde van die pandemie. Ek dink die banke het tot dusver goed gevaar en kliënte bygestaan waar hulle kon,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.