Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Reserwebank se wins styg meer as 200%
Pedestrians pass the headquarters of the South Afr
Die bohaai oor die Reserwebank se rol skep onsekerheid in finansiële markte. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het ’n nabelaste wins van R4,6 miljard behaal in die boekjaar tot einde Maart, teenoor ’n wins van R1,4 miljard in die vorige jaar. Dis ’n styging van sowat 230%.

Die groot styging was grootliks danksy die herwaardasie van sy goud- en valutareserwes weens die swakker rand en hoër rand-gedenomineerde goudprys, wat vergoed het vir ’n skerp laer rente-inkomste.

Die Reserwebank het Dinsdag sy resultate op sy webruimte gepubliseer.

Die bank se netto beleggingsinkomste het met R5,8 miljard gegroei en sy bedryfskoste het met R1,8 miljard geklim, hoofsaaklik weens die koste om nuwe geld te druk.

Die Suid-Afrikaanse Munt, wat die land se munte asook goud- en versamelmunte vervaardig, het ’n wins van R700 miljoen behaal teenoor die vorige jaar se R400 miljoen. Die Suid-Afrikaanse Banknootmaatskappy wat die land se geldnote druk het ’n wins van R200 miljoen behaal teenoor die vorige jaar se verlies van R5,7 miljoen.

Dié twee entiteite is filiale van die Reserwebank.

Interessante syfers van die Reserwebank:
  • Teen einde Maart vanjaar was daar net meer as R151,3 miljard munte en note in sirkulasie in die Suid-Afrikaanse ekonomie, teenoor R146,3 miljard ’n jaar gelede. (Hiervan is R145,1 miljard note en R6,2 miljard is munte.)
  • Die bank het vanjaar R2,23 miljard se belasting betaal, teenoor R815 miljoen verlede jaar.
  • Die bank het korttermynlenings van R61,4 miljard aan handelsbanke toegestaan teenoor die vorige jaar se R66,8 miljard.

Die Reserwebank se totale bates het met R131 miljard gegroei teenoor die vorige jaar se afname van R12,2 miljard, grootliks weens die groei in die bank se goud- en valutareserwes van R122,8 miljard.

Die bank se totale laste het met R121,6 miljard gegroei weens stygings in die gebeurlikheidsreserwe-rekening vir goud en valuta. Die rekening word gebruik vir die valuta-herwaardering van die regering se bates en laste in buitelandse valuta. Die bank verduidelik die toename in sowel bates en laste is hoofsaaklik weens die swakker rand en ’n sterker goudprys in rand.

Die bank het in die boekjaar ’n tussentydse dividend van 5c per aandeel aan sy aandeelhouers betaal, en teen die jaareinde nog ’n dividend van 5c per aandeel.

Die Reserwebank het net 2 miljoen uitgereikte aandele, so die totale bedrag wat dus as dividend uitbetaal is uit sy reserwes is R200 000.

Die bank waarsku pres. Cyril Ramaphosa het nou nog nie ’n adjunkpresident in die plek van Francois Groepe aangestel wat einde Januarie bedank het nie.

Die termyne van Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, en van Daniel Mminele, adjunkpresident, verstryk teen onderskeidelik 9 November en 1 Julie vanjaar.

Die bank verklaar dat Kganyago in die boekjaar ’n vergoeding van R7,51 miljoen ontvang het, en Mminele R5,363 miljoen. Groepe het ’n salaris van R4,408 miljoen ontvang, tesame met ’n skeidingspakket van meer as R6,3 miljoen. Kuben Naidoo, nog ’n adjunkpresident van die Reserwebank, se vergoeding was R5,264 miljoen.

Die Reserwebank-groep se totale bates van R872,8 miljard bestaan onder meer uit:

  • Kontant van R36,93 miljard
  • Goud en buitelandse valuta van R715,4 miljard (hiervan bestaan net R75,69 miljard uit fisiese goudmunte en goudstawe)
  • Suid-Afrikaanse staatseffekte van R8 miljard
  • Beleggings van R16,84 miljard
  • Lenings van R17,6 miljard
Meer oor:  Ekonomie  |  Wins  |  Bankbedryf  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.