Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Reserwebank soek kopers vir African Bank
Die Reserwebank soek 'n koper vir sy belang in African Bank.

Die Reserwebank gaan begin om kopers te soek vir sy belang van 50% in die beherende maatskappy van African Bank.

’n Kennisgewing is uitgereik om ’n adviseur aan te stel om hom te help om sy belang te verkoop.

African Bank is in 2014 in kuratele geplaas toe sy aandeelprys tot 30c geval het en gevrees is sy ineenstorting gaan die hele finansiële sektor in gevaar stel.

Die Reserwebank het daarna in 2016 ’n belang van 50% in die ongenoteerde beherende maatskappy African Bank Beherend Beperk (ABHL) verkry toe ’n herstrukturering plaasgevind het.

Die Reserwebank het in sy rol as aandeelhouer ’n kapitaalinspuiting gegee om ABHL se bedrywighede te finansier.

“Dit was nooit die Reserwebank se bedoeling om die belang onbepaald te besit nie, veral nie omdat die aandeelhouding ’n potensiële botsing van belange skep tussen sy rol as reguleerder van African Bank en as ’n groot aandeelhouer van ABHL nie.”

Sedert die huidige African Bank in April 2016 sy bedrywighede begin het, is goeie vordering gemaak met sy strategie terwyl hy sy wins verhoog het en ’n sterker balansstaat gebou het.

 African Bank

“Die Reserwebank glo dis nou ’n goeie tyd vir die bank om ’n volhoubare langtermynaandeelhouer te kry.”

Die Reserwebank het ’n kennisgewing gepubliseer om ’n adviseur te kry om hom by te staan om te bepaal hoe die verkoop van die belang benader moet word.

Die Reserwebank glo die verkoopproses gaan binne 18 maande tot twee jaar afgehandel word nadat ’n geskikte koper geïdentifiseer is.

Die bestuur en direksie van ABHL verwag nie dat die proses die bedrywighede van die bank gaan benadeel nie.

“Die bank sal saam met die Reserwebank werk om ’n ordelike proses te verseker.”

Die Reserwebank het reeds in 2019 aangekondig hy gaan binne die komende jaar of twee sy belang verkoop.

LEES OOK: Reserwebank wil aandele in African Bank verkoop

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) besit ’n kwart en nog ’n kwart word deur ’n konsortium van groot handelsbanke besit. Die banke is FirstRand, Standard Bank, Absa, Nedbank, Investec en Capitec.

Die kapitaalinspuiting van die partye het R10 miljard beloop. Die Reserwebank se gedeelte was R5 miljard en die staatspensioenfonds R2,5 miljard terwyl die res deur die banke verskaf is. FirstRand en Standard Bank het onderskeidelik R655 miljoen en R595 miljoen verskaf, terwyl die ander minder as dit gegee het.

Die Reserwebank het in daardie stadium ook ’n lening van nagenoeg R3,3 miljard aan African Bank verskaf.

Die Reserwebank het ook ’n bankgerief en waarborg verskaf wat saam R3 miljard beloop het.

Die detail oor dié herstrukturering wat destyds uitgereik is, het getoon die duur van die lening is drie jaar en die bankgerief agt jaar.

Meer oor:  African Bank  |  Bankbedryf  |  Reserwebank  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.