Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Resilient ly enorme verlies ná omstredenheid

Die genoteerde eiendomsfirma Resilient moes die billike waarde van sy belange in ander eiendomsfirmas die afgelope boekjaar met R9,3 miljard afskryf.

Die Highveld Mall in Emalahleni, Mpumalanga, is een van Resilient se bates. Foto: Resilient

Dit is grootliks omdat die aandeelprys van dié belange – in onder meer Fortress Income Fund, Hammerson en Nepi Rockcastle – sedert die begin van die jaar geduik het weens die beweerde manipulering van Resilient se eiendomswaardes en aandeelprys.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FCSA) ondersoek steeds bewerings van binnehandel, markmanipulering en vals of misleidende verslagdoening met betrekking tot Resilient. Die maatskappy sê hy gee sy volle samewerking “ten einde alles moontlik te doen om so gou as moontlik finaliteit te bereik”.

Resilient het Shauket Fakie, ’n voormalige ouditeur-generaal van die land, in April as onafhanklike ondersoeker aangewys oor die bewering. Fakie het in ’n ses weke lange ondersoek geen bewys van ongerymdhede opgespoor nie, maar het self toegegee dat hy nie toegang tot alle inligting, soos aandeleverhandelings, gehad het nie.

Resilient se eie aandeelprys het sedert die begin van die jaar met 57% tot R57,90 geval, terwyl Fortress met 16% tot R15,60 geval het, Nepi met 41% tot R124,61 en nog ’n verwante maatskappy, Greenbay, met 47% tot R1,35.

Resilient het Vrydag tot ná die sluiting van die mark gewag om sy jaarresultate vir die boekjaar tot einde Junie uit te reik.

Die maatskappy se wesensverdienste het van ’n wins van R2,07 miljard in die vorige boekjaar tot ’n verlies van R7,56 miljard vir die nuwe boekjaar geval.

Die maatskappy se netto verlies was R3,3 miljard, teenoor ’n wins van R2,3 miljard in die vorige boekjaar.

Aan die positiewe kant het Resilient se totale inkomste met 23,4% tot R3,87 miljard gestyg en die gemiddelde geannualiseerde opbrengskoers op sy eiendom was 8%.

Resilient besit ’n portefeulje streekwinkelsentrums landwyd, die meeste van hulle in Gauteng, Limpopo en KwaZulu-Natal. Dit sluit die Limpopo Mall in Polokwane en die Mams Mall in Mamelodi in.

Die maatskappy besit ook belange in oorsese winkelsentrums wat nagenoeg 60% van die waarde van sy portefeulje verteenwoordig.

Die maatskappy kon sy leegstaankoers van 1,9% in Junie 2017 tot 1,7% in Junie 2018 verlaag ondanks wat hy as ’n moeilike ekonomie beskryf.

Resilient noem in sy resultate dat sy blootstelling aan die sukkelende Edcon, moedermaatskappy van Edgars, Jet, Boardmans en CNA, verminder is. Ruimte wat oopgeval het soos wat Edcon-winkels toemaak of verklein, is grootliks reeds gevul deur maatskappye soos @Home, Pick n Pay Clothing, Fashion World en Miniso. Edcon het vroeër gesê hy gaan hom al hoe meer op Jet toespits.

Resilient wys weer op wat hy alles gedoen het om aandeelhouers se vrese te besweer:

  • Kruisaandeelhouding met Resilient en Fortress is verminder deur die uitkering van nagenoeg 170 miljoen Fortress-aandele aan aandeelhouers. Die laaste 5,3 miljoen Fortress-aandele wat Resilient besit, sal ook weldra verkoop word.
  • Die twee Siyakha-opvoedingstrusts het saamgesmelt en word nou rekenkundig anders weergegee in die maatskappy se boeke. Daar was groot vrae oor die manier waarop Resilient lenings aan die trusts as inkomste weerspieël het.
  • Drie nuwe onafhanklike nie-uitvoerende direkteure (David Brown, Des Gordon en Alan Olivier) is op Resilient se direksie aangestel en Barry Stuhler het as direkteur afgetree. Olivier is die afgelope week as voorsitter aangewys en Thembi Chagonda, vorige voorsitter, bly ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur.
  • Die direksie het in Junie die eiendomswaardeerders Jones Lang LaSalle aangewys om sy hele eiendomsportefeulje te waardeer. Dit het in teenstelling met die verwagtinge tot ’n opwaartse aanpassing van eiendomswaardasies, met 32,9% tot R826,5 miljoen, gelei.
Meer oor:  Resilient  |  Fortress  |  Genoteerde Eiendom  |  Winkelsentrums
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.