Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Reuel Khoza: ‘Ons gaan fokus op stabiliteit by OBK’

Stabiliteit moet dringend by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) geskep word, sê die staatsbeheerde batebestuursfirma se nuwe voorsitter.

Dr. Reuel Khoza. Foto: Elvira Wood

“ ’n Maatskappy sonder ’n leier kan nie behoorlik funksioneer nie, en dit is waar ons tans is met die OBK,” sê dr. Reuel Khoza, nuutverkose waarnemende voorsitter van die OBK. “Ons gaan baie dringend daaraan aandag gee om ’n permanente uitvoerende hoof aan te stel.”

Khoza het die media kort ná sy verkiesing op die eerste direksievergadering van die nuwe OBK-direksie te woord gestaan. Die hele direksie is vir ’n jaar in ’n waarnemende hoedanigheid aangestel.

Vuyani Hako dien tans as waarnemende uitvoerende hoof van die OBK.

Dr. Dan Matjila, die voormalige uitvoerende hoof van die OBK, het in November 2018 met ’n wolk oor sy kop bedank. Matshepo More, toe finansiële hoof, is toe as waarnemende uitvoerende hoof aangestel. Sy is egter sedertdien uit dié pos geskors.

Khoza het bevestig die huidige bestuur sal, met die ondersteuning van die direksie, alle skorsings hersien.

“Ons sal moet vasstel of skorsings geregverdig was en dan daarvolgens moet optree,” sê hy.

Khoza sê in dié stadium kan die direksie nie ’n tydlyn gee oor wanneer ’n nuwe uitvoerende hoof aangestel gaan word nie.

LEES OOK: Nuwe voorsitter van die OBK aangekondig

“Dis ’n baie gespesialiseerde pos. Die persoon wat aangestel sal word, dien waarskynlik reeds in ’n uitvoerende pos waar hy of sy moontlik tussen drie en ses maande kennis sal moet gee,” sê hy.

“Ons gaan egter dringend werk maak hiervan.”

Die direksie gaan ook so gou moontlik ander poste vul waarin daar tans nie permanente aanstellings is nie.

Khoza sê nog ’n groot fokus is om die OBK tot sy “vorige glorie” te herstel.

“Daar is baie belanghebbendes, insluitende die publiek, wat baie bekommerd is oor wat by die OBK gebeur het. Ons is bewus hiervan en wil belanghebbendes se vertroue in die OBK herstel.”

Khoza het verder onderneem dat die OBK deursigtig sal wees en hom tot goeie bestuur sal toewy.

Wie is Reuel Khoza?

  • Khoza is ’n ervare sakeman en het voorheen as voorsitter van die Nedbank-groep en Globeleq gedien.
  • Hy het ook van 1997 tot 2002 as voorsitter van Eskom gedien.
  • Hy dien tans as voorsitter van Dzana Investments en AKA Capital.
  • Khoza was ook al voorheen ’n direkteur van die JSE, IBM Suid-Afrika, Liberty Life, Standard Bank, Nampak en Old Mutual.
  • Hy het prof. Mervyn King bygestaan om die King II-, King III- en King IV-kodes vir goeie bestuur op te stel.
  • Hy het ’n honneursgraad in sielkunde van die Universiteit van Limpopo, ’n meestersgraad in bemarking van die Universiteit van Lancaster in Brittanje, ’n nagraadse kwalifikasie in sakeleierskap van Warwick-Universiteit, ook in Brittanje, ’n LLD van Rhodes-Universiteit, en ’n eredoktorsgraad in die ekonomie van die Universiteit van die Vrystaat.
  • Hy was ook voorheen professor by die Universiteit van Stellenbosch se sakeskool en besoekende professor by die sakeskole van Rhodes, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van die Witwatersrand.
  • Hy was ook kanselier van die Universiteit van Limpopo.
  • Khoza boer met avokado’s.
  • Hy is ook glo lief om sy eie liedjies te komponeer. Hy het reeds 60 liedjies opgeneem en saam met sy neef 850 gekomponeer.
Meer oor:  Gepf  |  Obk  |  Reuel Khoza  |  Tito Mboweni  |  Staatsondernemings  |  Obk-Ondersoek  |  Obk-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.