Die tendens duur voor dat al hoe minder mense luukse horlosies koop in die era van slimhorlosies en fiksheidsbandjies.

’n Vacheron Constantin-horlosie, een van die luukse Switserse handelsmerke in die Richemont-stal.
Richemont se verkope van €758 miljoen se luukse horlosies net in die Kersfees-kwartaal wys egter dit sou voortydig wees om die doodsklok vir prestigeryke handelsname soos Baume & Mercier, Jaeger-LeCoultre, Piaget en Vacheron Constantin te lui.
In die vierde kwartaal van 2020, die derde van sy boekjaar, het die luuksegoederegroep Richemont 4% minder uit die verkope van horlosies verdien as in dieselfde kwartaal van 2019. Verkope het wel ’n stewige hupstoot gekry danksy die Watches & Wonders-uitstalling in Sanya, China.
Daarteenoor het die verkope van juweliersware met 14% tot byna €2,4 miljard gestyg, aangedryf deur Asië (25%) en die Midde-Ooste en Afrika (27%). Richemont besit onder meer Cartier en Van Cleef & Arpels.
Net in China het verkope byna verdubbel, met ’n styging van 80%.
Die verkope in die Midde-Ooste en Afrika word grootliks deur Dubai aangedryf, ’n land wat weer sydeure vir toeriste oopgemaak het, en deur besteding deur inwoners van Saoedi-Arabië, wat weer voordeel trek uit hoër oliepryse.
Vir die hele groep het verkope met 1% tot nagenoeg €4,2 miljard gestyg. Al die syfers is gemeet in werklike wisselkoerse. Daarvan verteenwoordig Asië meer as 41%.
Verkope in Europa, Richemont se tweede grootste mark na Asië, het met 20% getuimel.
Richemont se strategie die afgelope jare om ’n verskeidenheid aanlyn verkoopskanale te vestig, het vrugte gedra, met aanlyn verkope wat met 17% gestyg het teenoor die 8%-styging in winkels.
Richemont se verkope word steeds wesentlik geraak deur die feit dat internasionale bykans stilstaan en winkels wat nienoodsaaklike goedere verkoop in baie lande van tyd tot tyd moet sluit, alles weens die Covid-19-pandemie.
Vir die hele nege maande tot einde Desember het verkope met 16% gedaal.