Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Roodt én Schüssler: Daar is stééds nie hoop vir SAL
Dawie Roodt. Foto: Argief

Of die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in sakeredding geplaas is of nie, daar is steeds nie veel hoop vir hom nie.

Die ontleders Dawie Roodt, Mike Schüssler en Peter Attard Montalto meen al drie die lugdiens gaan nie gered kan word nie.

“Die SAL kan nie bestaan nie. Dit kos ons miljarde rande per jaar,” sê Schüssler, ekonoom van economists.co.za.

“Daar is geen vooruitsig dat die SAL verkoop kan word nie, want jy kan nie iets verkoop wat so ’n groot verlies ly nie. Wie wil met miljarde rande se skuld sit?” vra hy.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het vroeg Donderdagoggend bevestig die lugdiens word reeds van 5 Desember in sakeredding geplaas.

Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, sê hoewel hy nie dink sakeredding gaan keer dat die SAL gelikwideer gaan word nie, is dit steeds “wonderlike nuus”.

“Dit was ’n groot politieke oorwinning vir Tito Mboweni, minister van finansies. Dit was egter ’n enorme terugslag vir Gordhan en pres. Cyril Ramaphosa,” sê hy.

Roodt verduidelik die besluit om die lugdiens in sakeredding te plaas was ongetwyfeld nie vrywillig nie, maar weens die druk wat die vakbond Solidariteit op die staat geplaas het.

Solidariteit het op 21 November aangekondig hy het ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien om die SAL in sakeredding te laat plaas.

Dit kom nadat hy al in 2018 met so ’n stap gedreig het.

“Wat die besluit om die SAL in sakeredding te plaas veral uitlig, is dat vakbonde wat druk op die staat probeer plaas om nie staatsondernemings te herstruktureer en te besnoei nie, nou nié meer hierdie mag het nie.

“Ons weet dat Gordhan en Ramaphosa noue bande met vakbonde het. Dit is hoekom dié besluit na my mening ’n terugslag vir hulle, maar ’n oorwinning vir Mboweni is,” verduidelik hy.

“Waaroor die staat egter nou baie bekommerd moet wees, is oor die mag wat dit aan organisasies soos Solidariteit gee wat betref ander staatsondernemings soos Eskom,” sê Roodt.

Wat die besluit om die SAL in sakeredding te plaas veral uitlig, is dat vakbonde wat druk op die staat probeer plaas om nie staatsondernemings te herstruktureer en te besnoei nie, nou nié meer hierdie mag het nie.
Dawie Roodt

“Ek dink na dese hoef Solidariteit net te sê hy oorweeg ’n aansoek om ’n instelling soos Eskom in sakeredding te plaas, en dan gaan dit enorme druk op die staat plaas,” waarsku hy.

Louis Klopper, sakeredder by Coronado Consulting, het vroeër gesê dit kan enorme gevolge hê sou die SAL in sakeredding geplaas word.

“Sou Solidariteit se aansoek suksesvol wees, is dit ’n ope vraag oor wie dan sal besluit om soortgelyke aansoeke oor ander insolvente staatsondernemings in te dien.

“Nou praat ons Eskom, Denel, die SAUK en die meer as 100 ander insolvente staatsondernemings,” sê hy.

“Onthou, alle maatskappye, insluitend staatsondernemings, is onderhewig aan die Maatskappyewet.

“My beskeie mening as ’n ekonoom en rekeningkundige, en nie as ’n regsgeleerde nie, is dat die aansoek – indien suksesvol – ’n enorme reperkussie kan hê vir alle staatsondernemings,” sê hy.

Klopper hanteer tans die sakeredding van verskeie van die omstrede Gupta-familie se maatskappye.

LEES OOK: SAL vs Solidariteit: ‘Aansoek kan wye gevolge hê’

Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing van Intellidex, sê hy dink die SAL sal steeds gelikwideer word.

Wat hom bekommer van die besluit is die mate waarin dit uit Gordhan se verklaring blyk dat die staat wil dikteer hoe die sakereddingsproses moet geskied.

Hy wys daarop dat sakeredders net aan die hof verantwoording doen, en nié aan die aandeelhouer – in dié geval die staat – nie.

Montalto kritiseer ook die tesourie se besluit om ’n staatswaarborg van R2 miljard én verdere finansiering van R2 miljard aan die SAL te gee.

Meer oor:  Solidariteit  |  Sal  |  Suid-Afriikaanse Lugdiens  |  Maatskappye  |  Sakeredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.