Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Rooi gesigte by KAP oor Steinhoff op sy state verskyn
Gary Chapman, uitvoerende hoof van KAP. Foto: KAP

Die genoteerde nywerheidsmaatskappy KAP is ontstoke dat Steinhoff Secretarial Services steeds op sy jaarresultate as sy maatskappysekretaris aangedui word.

Dié verwysing na Steinhoff is op die resultate wat op die JSE se nuusdiens, Sens, uitgereik is.

Gary Chaplin, uitvoerende hoof van KAP, sê dit was ’n fout en hulle is baie ontsteld daaroor.

’n Nuwe Sens-verklaring sal uitgereik word om die fout reg te stel.

Hy het nie verduidelik hoe dit gebeur het nie.

Steinhoff se dienste as maatskappysekretaris is reeds in Mei beëindig.

KAP het verder niks in sy resultate vir die boekjaar tot einde Junie oor Steinhoff gerep nie.

Dis ’n fout, het KAP gister oor dié verwysing na Steinhoff in sy resultateverslag op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê.

Steinhoff is KAP se grootste aandeelhouer en hulle het tot onlangs ’n kantoor op Stellenbosch gedeel.

Sedert Desember, toe die bom oor ’n boekhouskandaal oor Steinhoff se kop gebars en sy aandeelprys in duie gestort het, moes hy van sy aandele in KAP verkoop om van sy skuld te delg.

Sedertdien probeer KAP hom van Steinhoff distansieer.

“Ons praat sedert Desember amper op ’n daaglikse grondslag oor Steinhoff,” antwoord Chaplin die vraag waarom daar geen verwysing na Steinhoff in hul resultate is nie. “Ons is nou daarby verby. Ons het hard gewerk om ’n onafhanklike verhouding met Steinhoff te skep.”

Volgens hom word die maatskappy nou onafhanklik van Steinhoff bestuur en gefinansier. Steinhoff is nou net ’n aandeelhouer.

KAP het ook al in April in ’n nuwe kantoor in Stellenpark op Stellenbosch ingetrek en het Dinsdag sy direksievergadering daar gehou.

Talle van sy direkteure het ou bande met Steinhoff. Chaplin self het voorheen 15 jaar vir Steinhoff gewerk.

“Dit was ’n groot skok vir my, soos dit vir baie mense was,” sê hy oor die gebeure in Desember.

“Maar ons moet wag vir die (forensiese) ondersoek van PwC (na die rekeningkundige ongerymdhede by Steinhoff) om te verstaan wat gebeur het.”

KAP verwys wel in sy resultate daarna dat Markus Jooste en Ben la Grange, onderskeidelik die voormalige uitvoerende hoof en finansiële direkteur van Steinhoff, op 1 Oktober 2017 uit sy direksie bedank het.

Jaap du Toit, onafhanklike nie-uitvoerende voorsitter, het verlede jaar toe hierdie bedankings op Sens aangekondig is, gesê Jooste en La Grange het bedank want hulle wil meer aandag aan Steinhoff International en aan Steinhoff Africa Retail (Star) gee. Du Toit het in die verklaring sy dank teenoor hulle vir hul “waardevolle bydraes tot die sukses van KAP” uitgespreek.

“Markus het 13 jaar op die direksie van KAP gedien en Ben sedert April 2012. Ons wens Markus en Ben alle sukses toe in hul opwindende pogings by Steinhoff en die onlangs genoteerde Star.”

Dit was net ’n bietjie meer as twee maande voordat Jooste onverwags in Desember as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank het. La Grange het ook later bedank.

Meer oor:  Steinhoff  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.