Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Rovos Rail gooi wal oor stink spore

Rovos Rail gebruik nie meer die outydse toiletstelsel op sy treinwaens waar die menslike afval net so op die treinspore beland nie.

Een van Rovos Rail se luukse passasierstreine.

Die private operateur van luukse treine het in werklikheid riooltenks van 600 liter elk onder elke treinwa, en dit word leeggemaak by die stasies waar hy stop of die depot in Pretoria, het Rohan Vos, stigter en uitvoerende hoof van Rovos Rail, Donderdag verduidelik.

Rovos Rail het ook baie geld belê om moderne nuwe toiletstelsels – ingevoer uit Swede – in vyf van sy 140 treinwaens te installeer wat meer soos die toilette op passasiersvliegtuie werk en net 500 ml vloeistof per spoel gebruik pleks van die gewone 10 liter.

Vos het gereageer op navrae oor ’n mediaverklaring van die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, wat ’n toesigbesoek aan Transnet se geriewe in die Kaapse hawe en Bellville gedoen het.

Khaya Magaxa, voorsitter van die komitee, het in die verklaring gekla dat die privaat bestuurde Rovos Rail onmiddellik werk maak van sy outydse toiletstelsel, waar menslike afval op Transnet se treinspoornetwerk uitgegooi word.

Vos meen dit kon wel plek-plek gebeur het dat die kleppe nie reg gewerk het by die riooltenks nie, maar hy meen met al die water gemeng met vaste stowwe wat tydens ’n treinrit rondgeskud word binne die tenks, sou dit net bruinerige water gewees het wat sou uitlek.

Magaxa was nie Donderdag bereikbaar nie.

Dit is onduidelik watter toiletstelsels die staatsbeheerde Shosholoza Meyl en die Blou Trein gebruik.

Volgens Vos het passasierstreindienste in die res van Afrika waar hy gereeld reis gewoonlik kennisgewings op die toilette om passasiers te vra om nie die toilet te gebruik wanneer die trein in die stasie is nie, want dan sou die menslike afval op die spore in die stasie ophoop en ’n gemors afgee. In sommige gevalle word die toilette selfs gesluit wanneer ’n trein in ’n stasie tyd verwyl.

Rovos Rail se treine staan soms lank op stasies wanneer toeriste-uitstappies onderneem word. Daarom het die onderneming lank reeds riooltenks geïnstalleer.

Elke wa het byna 2 000 liter water om die toilette aan boord mee te spoel. Die water word aangevul wanneer by stasies aangedoen word, en die nuwe watersuinige toilette sal beteken veel minder water sal gebruik hoef te word, en die riooltenks sal veel langer kan hou.

50%-afslag vir Suid-Afrikaners

Die Covid-19-pandemie was ’n kwaai slag vir Rovos Rail, vertel Vos. Die onderneming het in Januarie treinritte hervat, maar net Suid-Afrikaners kon vervoer word, teen ’n afslag van 50% op die normale tariewe.

Dis op die winsdrempelvlak en gee darem die personeel ’n geleentheid om inkomste te verdien, maar dis nie winsgewend nie.

Rovos Rail se buitelandse klante is meestal van Amerika, Brittanje, Duitsland en die Skandinawiese lande, en totdat dié lande hul Covid-19-inentingsprogramme afgehandel het, is die kans skraal dat Rovos Rail gou dié passasiers sal kan huisves.

Die onderneming probeer intussen een trein per maand op die roete tussen Pretoria en Kaapstad aanbied, maar het ook onlangs ’n roete na Ladysmith in KwaZulu-Natal en Kroonstad laat loop, wat baie gewild was, sê Vos.

Rovos Rail word beskou as van die luuksste toeristetreine in die wêreld, met kaartjies vir ’n rit tussen Pretoria en Kaapstad wat by R24 250 begin.

Meer oor:  Transnet  |  Toerisme  |  Pandemie  |  Toerismebedryf  |  Spoorweë  |  Covid-19  |  Treine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.