Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Rupert se Remgro wil nóg RCL-aandele koop
Johann Rupert, voorsitter van Remgro. Foto: Argief

Die beleggingsgroep Remgro van Johann Rupert gaan aandeelhouers van die kosmaatskappy RCL Foods die geleentheid gee om hul aandele aan hom te verkoop.

Dit sal Remgro se belang in die kosfirma dan tot sowat 83% opstoot.

Dit is teen ’n prys van R8,05 per aandeel, wat 2,4% minder as die sluitingsprys van RCL Foods se aandeelprys op die JSE Dinsdagaand is.

Remgro het Woensdagoggend laat weet dat hy op 27 November ’n belang van 1,2% in RCL Foods teen dié prys van ’n ander aandeelhouer gekoop het. Dit is net meer as 11 miljoen aandele, en het sy totale belang in RCL Foods tot 72,6% opgestoot.

RCL Foods is bekend vir handelsname soos Dogmor-hondekos, Ouma-beskuit, Nola-mayonnaise, 5 Star-mieliemeel, Rainbow Chicken en Yum Yum-grondboontjiebotter.

Remgro sê hy besef die beperkte likiditeit van RCL Foods se aandele, en hoewel hy onder geen verpligting is nie, het hy besluit om ’n soortgelyke aanbod aan ander aandeelhouers van RCL Foods te bied wat sou wou verkoop.

Remgro gaan dus van Woensdag af via sy makelaar koopaanbiedings in die mark vir tot 100 miljoen RCL Foods-aandele plaas.

Die aanbod geld tot 11 Desember of totdat die teiken van 100 miljoen aandele bereik is.

Remgro beklemtoon die aanbod is bloot om RCL-aandeelhouers die geleentheid te gee om hul belegging te gelde te maak en moenie beskou word as ’n poging om die oorblywende belang in RCL Foods oor te neem nie. RCL Foods se direkteure het reeds aangedui dat hulle nie hul aandele gaan verkoop nie, het Remgro bevestig.

As die aanbod ten volle aanvaar word, sal dit beteken dat Remgro sy belang in RCL Foods uiteindelik tot 83% sal opstoot, gegrond op die totale uitgereikte aandele van RCL Foods van net meer as 959 miljoen.

RCL Foods was aan die begin van vanjaar nog op hoogtepunte van bo R12 per aandeel, maar het teen September tot onder R6 geval voordat dit stelselmatig tot die huidige vlakke herstel het.

Meer oor:  Remgro  |  Rcl Foods  |  Johann Rupert  |  Maatskappye  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.