Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Johann Rupert: Vraag na luukse goedere ‘wisselvallig’
Richemont, met handelsname soos Cartier, Piaget, Alfred Dunhill, Van Cleef & Arpels en Montblanc in sy stal, brei nou na e-handel uit.

Die luuksegoederegroep Richemont se uitbreiding na e-handel werp vrugte af, maar die aankoop van die nuwe aanlyn ondernemings het vir eers vir ’n tydelike spoedwal in sy bedryfswins getref.

Sy bedryfswins vir die halfjaar tot einde September het met 3% gekrimp tot 1,13 miljard weens die koste om sy nuwe aanlyn ondernemings te koop en in die groep te konsolideer.

Die netto wins vir die halfjaar is wel ’n hele 131% hoër op 2,253 miljard danksy ’n herwaardering van Richemont se aandeelhouding in die aanlyn onderneming Yoox Net-a-Porter (YNAP) wat hy besit het voordat hy dit volledig oorgeneem het.

Wat beleggers bekommer is Richemont se kontantvloei uit bedrywighede wat in die halfjaar 34% laer is op 733 miljoen. Richemont verduidelik dit is omdat meer kontant vir bedryfskapitaalbehoeftes opgeslurp is, veral om voorraad aan te vul vir onder meer die nuwe ondernemings wat verkry is.

Sy netto kontantposisie is ook 3 miljard minder op 1,584 miljard ná die aankoop van YNAP en die aanlyn-horlosiehandelsplatform Watchfinder.

Verbruikersvraag is toenemend wisselvallig weens ’n onseker ekonomiese en geopolitieke omgewing, sê

Johann Rupert, voorsitter van Richemont.

Verkope het in die halfjaar tot September met 21% tot 6,81 miljard gegroei teenoor ’n jaar gelede. As YNAP en Watchfinder se verkope uitgesluit word, het verkope met 6% gegroei teen werklike wisselkoerse en met 8% teen konstante wisselkoerse.

Aanlynverkope vorm nou al 14% van Richemont se totale verkope.

Richemont het ook onlangs ’n strategiese vennootskap met die Chinese e-handelreus Alibaba gesluit, en Alibaba sal ’n gesamentlike vennootskap met YNAP sluit om Chinese verbruikers te kry.

Volgens Rupert was dit net die Midde-Ooste en Afrika waar die groep nie groei in verkope behaal het nie. In Hongkong, Suid-Korea en Amerika was die groei in dubbelsyfers.

Richemont se aandeelprys op die JSE was na die markopening Vrydag 4,45% laer op R98,80. Richemont is een van die groot randverskansings-aandele op die beurs, wat gewoonlik baat vind by 'n swakker rand omdat meestal van sy inkomste in buitelandse geldeenhede is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.