Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
S-26, Infacare eersdaags in Franse hande

Aspen Pharmacare gaan sy afdeling vir babaformulemelk – wat bekende handelsname soos S-26 en Infacare insluit – verkoop.

Aspen Pharmacare verkoop sy afdeling wat onder meer Infacare-formulemelk vir babas vervaardig.

Die Suid-Afrikaanse farmaseutiese groep het ’n Europese koper gekry wat €739,8 miljoen vir sy voedingsafdeling gaan betaal. Teen die wisselkoers van R17,40 per euro toe die ooreenkoms beklink is, beloop die transaksie nagenoeg R12,9 miljard.

Die aankondiging het Aspen se aandeelprys teen laatmiddag met meer as 20% tot R216,84 laat val.

As deel van die transaksie gaan die werknemers van Aspen se voedingsafdeling werknemers van die koper, Lactalis, word.

Dié ongenoteerde reus het sy hoofkantoor in Laval, Frankryk. Lactalis het wêreldwye verkope van €18,4 miljard in 200 lande, nagenoeg 80 000 werknemers en 246 fabrieke in 47 lande.

Aspen sê die aanbod is ’n “oortuigende geleentheid”.

“Ons glo dat Lactalis se entrepreneuriese gees en verbintenis om ’n wêreldleier in babavoeding te word die afdeling en Aspen-werknemers wat skuif opwindende toekomsgeleenthede vir groei en ontwikkeling sal gee.”

Dit sal die firma in staat stel om op sy kernsake – farmaseutiese middels – te fokus.

Die afdeling het in die boekjaar tot einde Junie meer as R3 miljard se inkomste verdien en R512 miljoen se wins gemaak.

Aspen gaan €62 miljoen van die geld uit die transaksie gebruik om sy gesamentlike vennote in Nieu-Seeland en China uit te koop. Dis waar S-26 vervaardig word. Infacare word by Aspen se fabriek in Clayville, Johannesburg, vervaardig.

Die res sal gebruik word om skuld af te betaal en vir uitbreidings van sy produksievermoë.

Die transaksie moet deur mededingingsowerhede in Mexiko en Suid-Afrika goedgekeur word, asook deur die Reserwebank, wat die uitvloei van kapitaal moet magtig. Nieu-Seeland en Australië moet ook magtiging gee vir die uitkoop van Aspen se vennote in daardie lande.

Die transaksie gaan na verwagting oor sowat ses maande afgehandel wees.

Aspen se totale inkomste het in die boekjaar R42,6 miljard beloop.

Aspen vervaardig en versprei onder meer middels teen hoë bloeddruk en bloedklonte, vir narkose en chemoterapie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.