Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA base swartgallig oor 2020

Onsekerheid is die grootste rede dat die meeste uitvoerende hoofde in Suid-Afrika nie dink 2020 gaan ’n goeie jaar vir hul maatskappye wees nie.

Dion Shango, uitvoerende hoof van PwC in Afrika.

Luidens PwC se nuutste jaarlikse verslag oor wat die wêreld se uitvoerende hoofde vir die jaar verwag, het nét 14% van Suid-Afrikaanse uitvoerende hoofde “baie vertroue” dat hul maatskappye se inkomste gaan groei.

Dion Shango, uitvoerende hoof van PwC in Afrika, het Donderdag dié verslag aan die media voorgelê tydens ’n gespreksessie in Rosebank, Johannesburg.

Dit volg ’n dag ná die wêreldwye bekendstelling van die verslag op die Wêreld- Ekonomiese Forum se jaarlikse beraad in Davos, Switserland.

Wêreldwyd het 1 600 uitvoerende hoofde van 83 lande aan die peiling deelgeneem. In Suid-Afrika het 36 uitvoerende hoofde daaraan deelgeneem.

’n Jaar gelede het 18% van plaaslike uitvoerende hoofde nog “baie vertroue” gehad dat hul maatskappye hul inkomste sal groei.

Luidens die verslag beplan die meeste Suid-Afrikaanse base om in 2020 te verseker hul ondernemings is so effektief moontlik (86%) en dat as hulle groei, sal dit organiese groei (78%) wees. Die resultate van die peiling wys dat daar ’n beduidend groter fokus op bedryfsdoeltreffendheid in 2020 gaan wees as ’n jaar tevore (65%).

“Die een goeie brokkie nuus is dat dit vir ons lyk of uitvoerende hoofde hierdie doeltreffendheid wil bereik deur waarskynlik prosesse aan te pas, eerder as om hul arbeidsmag af te skaal,” sê Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC in Afrika, wat ook die gesprek bygewoon het.

“Om die waarheid te sê, 42% van Suid-Afrikaanse uitvoerende hoofde het aangedui dat hulle waarskynlik mense gaan aanstel,” sê sy.

Benewens onsekerheid – nie net oor ekonomiese groei nie, maar ook oor beleid – is nóg ’n groot uitdaging waaroor base waarskynlik in die nag wakker lê, hoe om mense met unieke vaardighede te behou (42%).

“Ek kan uit persoonlike ervaring sê dat dit tans ’n baie groot uitdaging in Suid-Afrika is. Ons ding ook nie net mee met ander Suid-Afrikaanse maatskappye nie, maar ook met ander wat oorsee gebaseer is,” sê Shango.

Die een goeie brokkie nuus is dat dit vir ons lyk of uitvoerende hoofde hierdie doeltreffendheid wil bereik deur waarskynlik prosesse aan te pas, eerder as om hul arbeidsmag af te skaal.
Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC in Afrika

Shango sê Suid-Afrikaanse uitvoerende hoofde se pessimisme kan aan die hand van ’n gebrek aan sakevertroue, sowel as ’n algemene daling in sake-aktiwiteit in die land, verduidelik word.

Die peiling wys darem dat 78% van uitvoerende hoofde glo hul maatskappye sal oor die volgende drie jaar hul inkomste kan laat groei.

Suid-Afrikaanse uitvoerende hoofde is nie alleen wanneer dit by hul pessimisme kom nie.

Wêreldwyd is net 27% van hulle vol vertroue dat hul maatskappye hul inkomste sal groei. Dit is teenoor die 35% van ’n jaar gelede.

Die peiling wys dat Suid-Afrikaans uitvoerende hoofde ook na die buiteland kyk vir groei. Die meeste kyk na Namibië (19%), Australië, Botswana en Brittanje (almal 14%) en Kenia (11%).

Wêreld- ekonomiese groei

Suid-Afrikaanse uitvoerende hoofde is ook pessimisties oor hoe die wêreldekonomie in die algemeen gaan presteer.

’n Totaal van 44% sê dat hulle verwag die wêreldekonomie gaan vanjaar ineenkrimp. Dit is teenoor die 35% ’n jaar tevore.

Wêreldwyd verwag 53% ’n inkrimping. Wanneer dié syfer met dié van twee jaar tevore vergelyk word, het dit beduidend van net 5% tot 53% gestyg.

Krugel sê enige groei van minder as 3% wanneer dit by die wêreldekonomie kom, is nie goeie nuus nie.

Die IMF het Woensdagaand tydens die beraad in Davos gesê hy verwag die wêreldekonomie sal met 3,4% in 2020 groei.

Die Wêreldbank verwag egter groei van net 2,4%.


Meer oor:  Pwc  |  Lullu Krugel  |  Ekonomie  |  Uitvoerende Hoofde  |  Maatskappye  |  Wêreldekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.