Aandeelhouers van die kleinhandelreus Steinhoff, selfs Suid-Afrikaners, word genooi om deel te word van ’n groepseis teen die maatskappy wat die Nederlandse regsfirma BarentsKrans in Amsterdam bring.
Volgens ’n verklaring wat BarentsKrans Vrydag uitgereik het, kwalifiseer beleggers wat aandele in Steinhoff of Steinhoff International Holdings op die JSE of Frankfurtse Aandelebeurs hou om deel te word van die groepseis.
Die aandele moes tussen 26 Junie 2013 en 6 Desember 2017 gekoop gewees het of die aandeelhouer moes op 5 of 6 Desember aandele besit het.
Volgens BarentsKrans het baie van die grootste batebestuurders in Suid-Afrika besluit om eise namens hul kliënte te bring weens die verliese toe Steinhoff se aandeelprys in Desember 2017 ineengestort het.
Dit sluit in Abax Investments, Allan Gray, Bateleur Capital, Coronation, Denker, Electus, Eskom, Investec, Momentum, Old Mutual, Sanlam, Tantalum Capital, Truffle en Visio Capital.
Kliënte van dié instellings verteenwoordig sowat 20% van die aandele in Steinhoff tydens die ineenstorting.
Martijn van Maanen, ’n vennoot by BarentsKrans, sê in die verklaring die besluit deur dié institusionele beleggers om deel te word van BarentsKrans se Steinhoff-hofsaak volg op ’n lang evaluasieproses.
Die saak word gefinansier deur Claims Funding Europe, ’n maatskappy gesetel in Dublin, Ierland, en wat groepsgedinge finansier. Een van die mede-eienaars is die Australiese groepsgeding-regsfirma Maurice Blackburn Lawyers.
Die Nederlandse beleggersgroep VEB het ook onlangs toestemming gekry om van die miljarde wat beleggers verloor het, deur ’n hofgeding te probeer herwin.
Verlede week het Steinhoff probeer om die saak te keer omdat ’n regseis reeds in Duitsland gebring is. Steinhoff het sy primêre notering in 2015 van Johannesburg na Frankfurt verskuif, maar is in Nederland geregistreer.
VEB sê hy verteenwoordig sowat 3% van Steinhoff se aandeelhouers.
Sedert die boekhouskandaal op 5 Desember losgebars het, het Steinhoff die waarde van sy bates al met minstens $14,3 miljard afgeskryf. Nuwe syfers tot minstens 2015 sal uitgereik moet word.
In Duitsland het die regsfirma TILP ’n eis teen Steinhoff gebring namens ’n belegger, en dit gaan dalk ook tot ’n groepseis uitgebrei word. – Fin24