Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA Express ‘gaan met SAL saamsmelt’

Die kabinet sal binne die volgende paar weke besluit oor ’n voorgestelde plan om SA Express met die Suid-Afrikaanse Lugdiens te laat saamsmelt, het amptenare van die departement van openbare ondernemings gesê.

Siza Mzimela, uitvoerende hoof van SA Express.

Siza Mzimela, waarnemende hoof van SA Express, sê dié lugdiens werk reeds nouer saam met die SAL ter voorbereiding van die samesmelting.

Die nuwe bestuur van SA Express het korrupsie en swak kontrakbestuur by die staat se streeklugdiens uitgeroei, het Mzimela Woensdag in die parlement gesê.

Voorbeelde is waar 30% tot 40% te veel betaal is in sekere kommersiële kontrakte.

SA Express moes ná die drie maande van verlede jaar waarin hy nie kon vlieg nie weer kyk watter vlugte hy winsgewend kan bedryf, het hy aan die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor kommunikasie en openbare ondernemings gesê.

SA Express het aanvanklik ’n vlug tussen Johannesburg en Richardsbaai aangebied, en het dit probeer hervat nadat hy gestrand was, maar ’n mededinger het intussen die roete oorgeneem, en SA Express het soms net ses of sewe passasiers op ’n vlug gehad. Dieselfde het gebeur met die roete tussen Johannesburg en George waar hy met laekostelugdienste moes meeding. Dié roetes is laat vaar.

SA Express sal nie vlugte na Mahikeng in Noordwes aanbied nie want dit verg vliegtuie met sitplek vir 30 mense, terwyl sy vliegtuie tans plek het vir 50 tot 70 mense, het Mzimela gesê.

Op papier het SA Express 22 vliegtuie in sy vloot gehad, maar agt van hulle was reeds op die grond, het Mzimela verduidelik. Elke vliegtuig moet gelys wees op ’n lugdiens se lugvaartbedryfsertifikaat en vliegtuie wat nie gebruik word nie, moet van die lys verwyder word. Onbenutte vliegtuie wat steeds op die lys was, is van die redes waarom SA Express in Mei deur die Burgerlugvaartowerheid gedwing is om sy vlugte te staak.

Die plan is om uiteindelik altesaam 15 vliegtuie te bedryf, maar tans word net 11 gebruik weens ’n geldtekort.

SA Express besit vyf van die 15 vliegtuie, die ander word gehuur.

Die onlangse opskorting van vlugte was omdat SA Express nie sy rekeninge by die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika kon betaal nie. Dié skuld is nou betaal en SA Express kan weer vliegtuigonderdele bestel.

SA Express sal binnekort weer sy roete tussen Kaapstad en Port Elizabeth aanbied. Hy wil meer vlugte vanuit Kaapstad aanbied en vlugte van Johannesburg af uitbrei na plekke soos Kimberley, Bloemfontein en Mthatha, hoewel die lughawe-infrastruktuur by Mthatha soms probleme gee, het Mzimela gesê.

Thuli Mpshe, hoofbestuurder vir mensehulpbronne by SA Express, het gesê daar is te min swart vroue-vlieëniers en te min swart vlieëniers in die algemeen.

SA Express het ’n vlieëniersopleidingsprogram waar vlieëniers van SA Express af aanbeweeg na Mango en dan na die Suid-Afrikaanse Lugdiens, of na ander lugdienste.

Arbeidskoste is een van die drie belangrikste kwessies vir die lugdiens, het Mpshe gesê. Personeel vir van die bestemmings waarheen SA Express nie meer vlieg nie, word onder andere deur die herstrukturering geraak. ’n Program van vrywillige uitdienstreding en vroeë aftrede is in Julie begin en dit sal vandeesmaand afgehandel word, het sy gesê.

André Odendaal, finansiële hoof van SA Express, sê die gebrek aan bedryfskapitaal het vanaf veral Februarie ’n invloed op passasiersgetalle en die lugdiens se stiptelikheid gehad.

Mzimela het beklemtoon SA Express se vliegtuie is 100% veilig, en hulle sal eerder ’n vlug vertraag en passasiers verontrief as om met ’n onveilige vliegtuig op te styg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.