Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA Express se ou vliegtuie lei tot geldnood
SA Express kon nie sy finansiële state vir die 2016-’17-boekjaar afhandel nie want dit is nie ’n lopende saak nie.

Die staat se streeklugdiens, SA Express, soek soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens ook ’n kontantinspuiting.

SA Express se vliegtuie raak al hoe ouer en hul instandhouding raak al duurder, het Mpho Selepe, finansiële hoof van SA Express, voor die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê.

Die lugdiens se CRJ (Canadian Regional Jet) vliegtuie is tot 25 jaar oud, en dit kan $50 000 kos om een van die vliegtuie se landingsonderstelle te vervang, sê Selepe.

Lebohang Ntwampe, waarnemende adjunkdirekteur-generaal vir vervoer by die departement van openbare ondernemings, sê SA Express het nog nooit ’n kontantinspuiting gekry nie, maar het dit nou nodig.

SA Express kon nie sy finansiële state vir die 2016-’17-boekjaar afhandel nie want dit is nie ’n lopende saak nie.

Die lugdiens sukkel volgens die departement nie noodwendig weens die afwesigheid van passasiers nie, maar weens die vermoë van die vliegtuigvloot om dienste te lewer. Die lugdiens speel ’n kritieke rol om landelike gebiede met die hoof- ekonomiese sentra te verbind, maar sy probleme ondermyn sy ontwikkelingsagenda.

Private lugdienste staan gereed om SA Express se roetes oor te neem as die lugdiens sou misluk, sê Ntwampe.

Slegte moraal

Intussen ly SA Express se personeel onder die slegte moraal, en sy personeelomset was verlede jaar 10,5% teenoor die bedryfsnorm van 5% tot 7%. Van die personeel wat weg is, is minstens 40 vlieëniers of gesertifiseerde tegnici met kritieke vaardighede. Die lugdiens kan hulle nie vervang teen dieselfde tempo as waarteen hulle vertrek nie.

Selepe sê baie van die tegnici word weggelok na die Midde-Ooste vir beter vergoeding of na mededinger-lugdienste. Daar is tans 41 vakatures in SA Express se tegniese afdeling.

SA Express sê hy het in die vorige boekjaar R42 miljoen se vrugtelose en vermorsde uitgawes gehad weens boetes vir laat betalings en rente op uitstaande rekeninge.

Daar was ook onreëlmatige besteding van R408 miljoen.

Die meeste hiervan, sowat R350 miljoen, was weens tenders wat nie geadverteer is nie.

Vlugvertragings neem toe

SA Express se bedryfsmarge het van 7,37% in die 2015-’16 boekjaar tot -4,75% in die 2016-’17 boekjaar gedaal. Selepe sê dit impliseer sy bedryfsuitgawes word met skuld gefinansier. Sy gemiddelde inkomste per passasier het wel gestyg van R1 741 tot R1 832. Vlugvertragings neem egter toe. Die aantal vlugte wat binne 15 minute van die vlugskedules aangekom of vertrek het, het van 87% in 2013 tot 81% in 2017 verswak.

Wanneer SA Express se vlugte só laat is dat hy passasiers in hotelle moet laat oornag, vererger dit sy uitgawes want hy moet vir hul etes en vervoer betaal én hy verloor boonop die inkomste van die vlug wat nie plaasgevind het nie, sê Selepe.

Hy bevestig Noordwes gee ’n subsidie aan SA Express om vlugte vanuit die provinsie aan te bied.

SA Express waarsku banke wil nie meer geld aan hom leen as die lugdiens nie ’n omdraaiplan het wat met staatsgeld gesteun word nie.

Lungi Mnganga-Gcabashe, voorsitter van die komitee, het die direksie van SA Express berispe dat hulle nie meer moeite gedoen het om die situasie te beredder nie. Sy het belowe sy sal met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, praat om geld vir SA Express te kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.