Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA hawens vaar uiters swak op wêreldlys

Suid-Afrika se kommersiële hawens is aan die onderpunt van ’n lys van hoe die wêreld se hawens presteer rakende hul doeltreffendheid.

Die hawe van Kaapstad is op nr. 347 uit ‘n lys van 351 hawens wat die Wêreldbank en IHS Markit in volgorde van dalende produktiwiteit gerangskik het.

Die hawens van Durban, Kaapstad, Gqeberha en Ngqurha is almal op nommer 347 of laer op die lys van 351 hawens wat die Wêreldbank opgestel het oor hoe vraghouerhawens verlede jaar presteer het.

Kaapstad is die bes presterende hawe in Suid-Afrika wat die lys betref, maar vaar steeds vrotter as alle ander hawens in Afrika, soos dié van Djiboeti, Abidjan, Beira, Maputo, Walvisbaai, Dar es Salaam en Mombasa.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, sê die wanprestasie van die plaaslike hawens is betreurenswaardig. Die Kaapse hawe is ’n belangrike deurgangskanaal vir in- en uitvoer en is ’n belangrike ekonomiese poort vir Kaapstad, die Wes-Kaap én Suid-Afrika, sê Maynier.

Die hawe is egter die afgelope jaar of meer geteister deur ernstige opeenhopings en vertragings weens verouderende infrastruktuur en toerusting, personeeltekorte en slegte weer wat bedrywighede ontwrig.

Dit het selfs tot op so ’n punt versleg dat skeepsrederye hul vragskepe opdrag gee om Kaapstad oor te slaan in hul geskeduleerde roetes weens die vertragings, sodat die skip wel betyds kan wees by groter of belangriker hawens.

Maynier sê die taakspan wat gestig is om die haweprobleme aan te pak, het deels al sukses behaal, maar hy het herhaal dat pres. Cyril Ramaphosa self die hawe moet kom besoek om hom van die probleme te vergewis.

Volgens die Wêreldbank-verslag se “Container Port Performance Index 2020”, het houerhawens kritieke spilpunte vir internasionale voorsieningskettings geword en is dit sentraal tot die suksesverhale van talle opkomende ekonomieë. As hawe-infrastruktuur goed gevestig is, kan dit die nodige vertroue bied om beleggings te lok, werk te skep en inkomstevlakke te verhoog, lui die verslag.

Jokohama is die beste hawe

Die verslag wys dat hawens in die Verre Ooste die beste presteer. Die top-hawe is Jokohama in Japan, gevolg deur die Koning Abdullah-hawe in Saoedi-Arabië en Qingdao in China.

Algericas in Spanje is gelys as die top-hawe in Europa, in die tiende plek.

Djiboeti in die 61ste plek is as die doeltreffendste hawe in Afrika aangedui.

Die verslag meet hawens volgens die getal minute wat dit neem om een vraghouer van ’n skip af te laai of dit op te laai. In Jokohama neem dit gemiddeld net 1,1 minuut, terwyl dit in die hawens in Afrika gemiddeld 3,6 minute verg.

Meer oor:  Durban  |  Hawe  |  Hawens  |  Infrastruktuur  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.