Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA Ingelyf span saam in stryd teen virus

Suid-Afrikaanse maatskappye van wyduiteenlopende bedryfsektore begin toenemend inspring om noodvoorraad van persoonlike beskermende toerusting asook handreinigers en skoonmaakmiddels te vervaardig om te help in die stryd teen die koronavirus in die land.

koronavirus, covid-19-virus
Suid-Afrikaanse maatskappye doen hul deel in die stryd teen die Koronavirus. Foto: Felix Dlangamandla

Handreinigers

Die petrochemiese groep Sasol het ’n unieke mengsel van chemikalieë met ’n alkoholbasis ontwikkel om in die skerp styging in die vraag na handreinigers en ontsmettingsmiddels te voorsien.

Die drankgroep Distell, wat sy alkohol gewoonlik vir ander doeleindes gebruik, het 100 000 liter alkohol opsy gesit om alkoholgebaseerde handreinigers te vervaardig.

Die suikergroep Illovo wat etiel-alkohol van hoë gehalte by sy Merebank-fabriek in Durban maak, sê hy versnel die lewering van dié alkohol aan maatskappye wat handreinigers maak.

Die biermaatskappy SAB het beloof om 100 000 houers handreiniger te vervaardig en dit aan hospitale landwyd te lewer.

Maskers

Die tekstiel- en klerebedryf het ’n inisiatief begin om mediese gesigmaskers te vervaardig, het die kleregroep Kingsgate Clothing aangekondig. Kingsgate het ’n Amerikaanse maatskappy gevind wat bereid is om sy intellektuele eiendom met Suid-Afrika te deel, en die groep wag net op die regering vir die finale spesifikasies vir gesigmaskers voordat vervaardiging op groot skaal sal begin, het Ahmed Dhai, bestuurder van Kingsgate, aan Engineering News gesê.

Die klerewerkersvakbond Sactwu sê hy werk al die afgelope weke saam met vervaardigers om die produksie van gesigmaskers uit te brei. André Kriel, hoofsekretaris van Sactwu, het egter gewaarsku oor ’n firma in Durban wat glo sy werkers in ’n fabriek toegesluit het om maskers te vervaardig. Dít terwyl die betrokke maatskappy nie eens ’n geregistreerde klere- of tekstielvervaardiger is nie.

Motorbedryf

Terwyl die motorreus Ford in Amerika begin het om ventilators by sy aanleg in Michigan te vervaardig, is sy twee aanlegte in Suid-Afrika vir die duur van die inperking gesluit. Mercedes-Benz Suid-Afrika en Toyota het hul plaaslike aanlegte gesluit, maar Clynton Yon, woordvoerder van Toyota Suid-Afrika, sê Toyota help met ’n taxi-inisiatief om die minibustaxibedryf by te staan in die stryd teen die pandemie.Navrae aan Volkswagen is ten tyde van publikasie nog nie beantwoord nie.

Jaguar Land-Rover Suid-Afrika het 11 voertuie aan die Suid-Afrikaanse Rooi Kruis geleen om Rooi Kruis-vrywilligers na kwesbare gemeenskappe te vervoer om te help en bewusmaking oor die virus te skep.

Universiteite

Universiteite landwyd spring ook in, met die Rhodes-Universiteit in Makhanda wat ’n span van sy farmakologiese wetenskaplikes aan die gang gesit het om handreinigers in die universiteit se laboratorium te begin vervaardig vir verspreiding in die Oos-Kaap.

Navorsers aan die Universiteit van Kaapstad werk aan ’n slimfoon-app wat in die toekoms gebruik kan word om die verspreiding van die virus te help monitor. Die app sal gebruik kan word om met behulp van bluetooth en satellietnavigasie te kan naspoor met wie ’n persoon wat positief vir die virus getoets is, in die voorafgaande twee weke kontak gehad het.

Hulp tot dusver:

NOK:

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het ’n pakket van meer as R3 miljard saamgestel om kwesbare ondernemings te help en maatskappye te finansier wat noodsaaklike mediese toerusting moet invoer of vervaardig.

  • R500 miljoen vir handelsfinansiering vir die invoer van noodsaaklike mediese produkte
  • R700 miljoen vir bedryfskapitaal, toerusting en masjinerie
  • R3 miljard vir steun aan ondernemings oor die volgende kwartaal

Solidariteitsfonds:

Die regering het R150 miljoen gegee vir die fonds waaruit hulp verleen sal word vir noodleniging. Hiervan kom R100 miljoen van die nasionale tesourie en R50 miljoen van die Nasionale Loteryraad.

Groot skenkings aan die fonds vanuit die private sektor tot dusver bekend, sluit in:

  • R1,5 miljard van Naspers
  • R1 miljard van Mary Oppenheimer en haar dogters
  • R20 miljoen van Santam
  • R1 miljoen van Shoprite
  • R1 miljoen van Media24

Vir spesiale hulp aan sukkelende kleinsakeondernemings het die miljardêrs Johann Rupert en Nicky Oppenheimer elkeen R1 miljard beloof.

Santam gaan ook R135 miljoen beskikbaar stel vir kwalifiserende Santam-kliënte wat in geldknyp raak weens die krisis, asook R20 miljoen as steun vir sy verskaffers en R25 miljoen aan sy filiaal MiWay wat vir April ’n 10%-afslag aan sy polishouers bied.

Meer oor:  Maatskappye  |  Koronavirus  |  Virus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.