Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA kry nóg ’n digitale bank
Tobie van Zyl, medestigter van Bettr. Foto: Verskaf

Suid-Afrika se digitale bankrevolusie stoom voort. Vroeg aanstaande jaar open nóg ’n volkome digitale bank sy virtuele deure.

Bettr, Suid-Afrika se jongste digitale bank, beplan om jong mense van die millenniër-generasie en Generasie Z by bestaande baksteenbanke weg te rokkel.

Hy het Maandag juis sy toetrede tot die mark met ’n vermaaklike musiekvideo aangekondig waarin die kletsrymers Costa Titch en Dee Koala oor hul geldsake sing.

Bettr wil hê jong mense moet hul “waarde besef”, sê Tobie van Zyl, medestigter.

“Ons verdien ’n bank wat heeltemal deursigtig is, maklik is om te gebruik, en ons die gereedskap gee om ons eie waarde te skep, te bestuur en te laat groei,” sê Van Zyl.

Volgens Van Zyl is Bettr geskep “vir ’n nuwe generasie van geldmakers” wat nie meer hul swaarverdiende geld of finansiële toekoms aan “tradisionele banke” wil oorhandig wat hulle nie meer as belangrik ag nie.

Bettr gaan nes bestaande digitale banke soos Discovery Bank en Tyme Bank geen fisieke takke bedryf nie.

“Bettr skep ’n heeltemal nuwe, deursigtige tipe bank gepas vir ’n digitale leefstyl.”

Dit is nog nie duidelik hoe Bettr hom van bestaande digitale banke, of selfs van tradisionele banke, gaan onderskei nie.

Die bank gaan wel geen maandelikse tariewe vra nie en “goeie finansiële gedrag” sal beloon word met geskenkbewyse by sy handelsvennote.

Die bank gaan ook geen fisieke kaarte uitreik nie, en alle betalings sal per app plaasvind.

Bettr sal na verwagting vroeg aanstaande jaar beskikbaar wees. Die app word tans nog deur ’n gemeenskap van sowat 6 500 gebruikers ontwikkel en getoets.

Bettr verskyn nog nie op die Reserwebank se lys van gelisensieerde banke nie en ’n woordvoerder kon nie bevestig of ’n lisensie al uitgereik is nie.

Bank Zero, nóg ’n digitale bank, open na verwagting ook vroeg aanstaande jaar sy deure. Bank Zero beskik reeds oor ’n banklisensie.

  • Van Zyl het intussen aan Netwerk24 bevestig Bettr gaan in samewerking met 'n bestaande kommersiële bank bedryf word en dus nie oor sy eie banklisensie beskik nie. Die naam van sy bankvenoot word eers later bekend gemaak. 
Meer oor:  Bettr  |  Bank  |  Bankdienste  |  Bankbedryf  |  Digitale Bankdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.