Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA meer modebewus oor teëls, badkamers
Luthando Tungelo, ’n verkoopsassistent van CTM Menlyn, deel ’n ligte oomblik met ’n klant, Sheldon Truter. Dié winkel is een van die CTM-winkels wat onlangs opgegradeer is. Foto: Italtile

Vir elke Suid-Afrikaner in die land is daar net sowat 1 m² geteëlde vloer, terwyl die gemiddelde in ander ontluikende lande 2 m² per persoon is.

Dis een van die redes waarom Jan Potgieter, uitvoerende hoof van die genoteerde firma Italtile, optimisties bly oor hul vooruitsigte selfs nadat die firma een van die swakste boekjare nóg in die jaar tot einde Junie beleef het.

Dis die eerste stel resultate waarvoor Jan Potgieter pa staan. Potgieter, voorheen die bedryfshoof, het in Maart amptelik as uitvoerende hoof oorgeneem by Nick Booth, wat afgetree het.

Vir ondernemings bly teëls maar die duursaamste opsie as vloerbedekking, sê Potgieter, maar die groep begin ook al hoe meer moderne vinielvloerbedekkings aanhou omdat dit ’n groeiende tendens in Europa blyk te wees. (Die gebruik van houtvloere daar is besig om te daal.)

Jan Potgieter, uitvoerende hoof van Italtile. Foto: Italtile

Italtile besit onder meer die winkels Italtile, CTM en TopT.

Potgieter sê hulle is “nie te gelukkig” met die resultate nie.

Die tweede helfte van Italtile se boekjaar is altyd swakker omdat die eerste helfte Desember insluit, wanneer baie mense hul dertiende tjek of bonus gebruik om hul huise op te knap.

Potgieter sê die ekonomiese omgewing het egter selfs méér verswak as wat hulle verwag het. Verbruikersvertroue is die laagste sedert 1982 en baie groot bouprojekte is opgeskort nadat Suid-Afrika se staatskuld in April en Junie afgegradeer is.

Heelwat neigings tel egter in Italtile se guns op die langer termyn wanneer die ekonomie begin kop optel.

Potgieter sê Suid-Afrikaners is al hoe meer “modebewus” wanneer dit by teëls, vloerbedekkings en badkamertoebehore kom.

Dit beteken ’n handelaar soos Italtile moet vinnig op neigings reageer – en dís waar die maatskappy die voordeel het dat hy ’n belang het in ’n plaaslike vervaardiger, Ceramic Industries.

Meer oor Italtile
  • Italtile besit drie winkelgroepe wat teëls, badkamerprodukte en vloerbedekkings verkoop – Italtile, CTM en TopT – wat op verskillende inkomstegroepe gemik is.
  • CTM kon sy markaandeel behou en TopT en Italtile kon dit verhoog. Winsgrense vir Italtile en CTM het gedaal, maar TopT s’n het gestyg.
  • Daarbenewens besit Italtile ook ’n 21%-belang in die teëlvervaardiger Ceramic Industries en 46% van Eeze Tile, wat voegbry en teëlgom vervaardig.

Dié vervaardiger se inkstraal-druktegnologie kan nou teëls vervaardig waaroor Potgieter liries raak. Hy sê die tegnologie en gehalte van plaaslike teëls het die afgelope paar jaar “ongelooflik” baie verbeter.

Net sowat 10% van die winkel Italtile se teëls word plaaslik vervaardig, maar 80% van CTM s’n en 85% van TopT s’n.

Potgieter sê een van die swart kolle in hul boekjaar was dat hulle in 2016 te veel voorraad bestel het en daarom nie vinnig genoeg op nuwe modes kon reageer nie – jy kan immers nie nuwe voorraad aankoop as jy met vol pakstore sit nie. Dié situasie is nou uit die weg geruim.

Nog ’n tendens die afgelope jaar was dat mense al hoe meer op gerief ingestel is. Dit beteken dat hulle eerder by ’n winkel so naby as moontlik aan hulle wil koop óf dat hulle aanlyn wil koop. Italtile is gerat hiervoor.

In syfers

  • Omset styg met 4,2% tot R6,21 miljard
  • Handelswins styg met 1,6% tot R1,063 miljard
  • Basiese verdienste per aandeel styg met 3% tot 90,3c
  • Wesensverdienste per aandeel daal met 1% tot 85,7c.
  • Aantal winkels styg met 16 tot 162
  • Totale dividend van 30c per aandeel (1c oftewel 3,5% meer as in 2015)
  • Weens strawwe mededinging het Italtile sy gemiddelde pryse met net 4,3% verhoog, dus met baie minder as die inflasiekoers. In 2016 kon pryse met 6,5% verhoog word.

Sy TopT-winkels, waarvan baie buite die groter stede geleë is, het oor die afgelope halfjaar uitgebrei en daar is nou winkels in elkeen van die nege provinsies.

Die groep se aanlyn winkels is ook besig om gewilder te word.

Potgieter sê hulle wil oor die volgende jaar nog 20 winkels oopmaak, waarvan 15 TopT-winkels sal wees.

Volgens hom is daar ’n klein verbetering in die verkope by Italtile ná die einde van hul boekjaar wat “bemoedigend” is.

Die groep het heelwat veranderinge gemaak by CTM, onder meer nuwe bestuurslui, wat hulle hoop die vooruitsig vir dié winkelgroep, wat op die breë middelinkomstemark gemik is, sal verbeter.

Meer oor:  Italtile  |  Resultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.