Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA motorbedryf hoor gou oor VSA-tariewe

Pres. Donald Trump van Amerika wil binne die volgende maand aankondig of invoertariewe van tot 25% ingestel gaan word op motors en motoronderdele.

BMW, wat ’n enorme fabriek in die VSA het, is bekommerd oor pres. Donald Trump se handelsbeleid.

Sou dit gebeur, kan dit Suid-Afrikaanse vervaardigers raak, wat vanjaar reeds R4,4 miljard se voertuie of onderdele na Amerika uitgevoer het, volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se jongste handelsyfers.

Trump het Vrydag aangekondig hy verwag die ondersoek oor die tariewe “binne drie tot vier weke”.

Die departement van handel is gelas om ondersoek in te stel of invoertariewe op motors en motoronderdele ’n bedreiging vir nasionale veiligheid kan inhou. Tegnies kan die ondersoek tot Februarie volgende jaar duur, maar Bloomberg haal mense met binnekennis aan wat reken Trump wil dit voor November se middeltermynverkiesings in werking hê sodat hy politieke munt daaruit kan slaan.

Intussen berig die Duitse koerant Welt am Sonntag die Duitse motorvervaardiger BMW het ’n beroep op Amerika gedoen om nié invoertariewe op motors in te stel nie omdat dit die motorbedryf wêreldwyd gaan knou – ook in die VSA, waar BMW ’n enorme fabriek het wat tot 1 900 motors per dag vervaardig.

In ’n brief aan Wilbur Ross, Amerika se minister van handel, het BMW hom by verskeie motorvervaardigers aangesluit wat vrees dat Amerikaanse invoertariewe tot strafmaatreëls deur ander lande sal lei.

General Motors (GM), vervaardiger van ikoniese Amerikaanse handelsname soos die Chevrolet, GMC, Cadillac en Buick, het Vrydag gesê invoertariewe op motors en motoronderdele gaan hom knou en tot werkverliese lei.

Dié argieffoto van 2013 wys ’n motorfietsryer op sy Harley-Davidson-motorfiets op die Sint Pietersplein in Rome. Foto: Reuters

Net ’n paar dae vantevore het die Amerikaanse motorfietsvervaardiger Harley-Davidson gesê die tariewe gaan hom noop om meer fabrieke buite die VSA te bou.

Daimler, wat Mercedes-Benz vervaardig, het ook onlangs sy winsverwagting aangepas weens die dreigende handelsoorlog omdat van sy sportnutsvoertuie wat in die VSA vervaardig word, na China uitgevoer word. China het reeds met invoertariewe op Amerikaanse voertuie gedreig indien Trump sy plan deurvoer.

Al die vervaardigers voer aan die tariewe gaan die prys van voertuie soveel duurder maak dat dit verkope, wins, werkskepping en uiteindelik die ontwikkeling van nuwe voertuie sal knou.

BMW sê in sy brief sy belegging van $19 miljard in sy fabriek in Spartanburg, Suid-Carolina, verskaf regstreeks of onregstreeks werk aan meer as 120 000 Amerikaners. Nagenoeg 1 900 motors word elke dag in dié fabriek vervaardig en die meeste daarvan word uitgevoer.

GM het Vrydag gewaarsku dat hy sy Amerikaanse bedrywighede sal moet afskaal en mense afdank as tariewe ingestel word.

Dit word as ongewoon beskou dat GM so uitgesproke was, ook in ’n brief aan Ross, en wys hoeveel die maatskappy meen op die spel is “vir GM, die motorbedryf én die algehele ekonomie”, sê die ontleder Michelle Krebs van AutoTrader.com.

Peter Navarro, adviseur vir die Withuis, het egter in ’n onderhoud met CNN teruggekap en gesê GM gebruik ’n “rookskerm” om die publiek te mislei. Hy beskryf die uitwerking van tariewe op die prys van ’n GM-motor as niks meer nie as die koste van ’n “luukse vloermatjie”.

Navarro kap GM daarvoor dat Amerikaanse motorfabrieke niks meer geword het nie as “monteeraanlegte”: “Selfs al word GM-motors hier gebou, is byna die helfte van die inhoud ingevoer.”

Trump het verlede week na aanleiding van Harley-Davidson se opmerkings getwiet: “Ek het so baie vir julle gedoen, nou dít.”

Alle groot motorvervaardigers – ook GM en Ford – voer heelwat motors in wat by hul eie fabrieke in ander dele van die wêreld vervaardig is. Daarby voer hulle ook heelwat onderdele in.

GM vervaardig onder meer van sy bakkies in Mexiko.

Meer oor:  Mercedes-Benz  |  General Motors  |  Harley-Davidson  |  Daimler  |  Bmw  |  Donald  |  Trump  |  China  |  Vsa  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Handel  |  Invoertariewe  |  Motorvervaardiging  |  Invoer  |  Uitvoer  |  Handelsoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.