Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA se Cartrack brei na VSA uit

Cartrack het aangekondig hy brei na Amerika toe uit.

Cartrack se logo.

Die vlootbestuursmaatskappy se dienste sluit in voertuigopsporing EN die monitering van vlootmotors se ligging en beweging vir versekeringsdoeleindes. Dit word gedoen deur GPS en ’n toestel wat op die motor aangebring word en die dienste staan as telematika bekend.

Die maatskappy, wat in 2001 gestig is, het einde 2014 op die JSE genoteer en ding onder meer met Tracker mee.

Die maatskappy, waarvan die inkomste in die boekjaar tot einde Februarie met 20% tot bo R1 miljard gestyg het, is reeds in 23 lande bedrywig. Sy nabelaste wins het met 25% tot R259 miljoen gestyg.

Zak Calisto, uitvoerende hoof van Cartrack, sê Amerika is ’n mark wat toenemend van telematikadienste gebruik maak.

Wetgewing gaan dit eersdaags daar verpligtend maak om opsporingstoestelle in vragmotors te sit. Hy meen dit gaan groot potensiaal skep vir Cartrack.

As hulle hul tegnologie vergelyk met wat in Amerika beskikbaar is, glo hy hulle gaan goeie aanvaarding daar kry.

“Ons bied dieselfde eienskappe en in baie gevalle is die produk meer gevorderd vanweë die ontwerp en eienskappe wat oor jare heen vir die Suid-Afrikaanse mark ontwikkel is, wat ’n baie veeleisende omgewing is ten opsigte van veiligheid en bestuurstoestande,” sê Travis Schmidt, uitvoerende hoof van Cartrack in Amerika.

Calisto sê hulle weet dit sal tyd neem om die Amerikaanse mark binne te dring en dit sal koste meebring.

Hy sê die maatskappy is sterk kontantskeppend en die uitbreiding gaan self gefinansier word.

Die toepassing van telematika in vlootbestuur het die afgelope jare ál meer uitgebrei en fokus op motorbestuurders se gedrag, veiligheid op paaie, versekeringsbestuur en produktiwiteit van werkers.

Schmidt sê maatskappye wat in vlootbestuur betrokke is, gebruik die dienste om hul produktiwiteit en doeltreffendheid te verbeter en sodoende wins te verhoog.

Cartrack het onlangs die mylpaal bereik van 550 000 voertuie waarop sy telematikadienste gebruik word.

Die maatskappy het sedert sy aanvang 20 000 voertuie opgespoor wat gesteel is ter waarde van R4,1 miljard.

Telematika word as ’n vinnig ontwikkelende en aantreklike mark beskryf en lei tot groot verkrygings. Die New York-genoteerde Verizon Communications het onlangs die GPS-voertuigopsporingsmaatskappy Fleetmatics Group vir $2,4 miljard gekoop.

Novatel Wireless, wat op die Nasdaq genoteer is, het verlede jaar Suid-Afrika se DigiCore vir $87 miljoen gekoop.

Meer oor:  Logistiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.