Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA se Ford Rangers gewild in Europa

Ford Ranger-bakkies wat by die Silverton-aanleg in Pretoria vervaardig word, het in 2018 soos soetkoek verkoop in sy uitvoermarkte, met ’n 16,2%-styging in internasionale verskepings.

Die uitgebreide monteerbaan in Ford se Silverton-aanleg in Pretoria, waar die Ranger-modelle vervaardig word. Foto: Verskaf

Luidens ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is, het Ford 68 364 van sy gewilde Ford Ranger-bakkies na uitvoermarkte verskeep, met Europa as die grootste uitvoerbestemming.

“2018 was ’n baie besige en suksesvolle jaar vir ons uitvoerbedrywighede. Ons het ons hoogste produksievolume tot nog toe vir die Ford Ranger behaal,” sê Neale Hill, besturende direkteur van Ford in Afrika suid van die Sahara.

Ford bly volgens hom die onbetwiste leier in Suid-Afrika ten opsigte van die uitvoer van ligte kommersiële voertuie.

Ford Suid-Afrika het onlangs R3 miljard bestee aan opknappings by sy plaaslike bedrywighede om produksievolumes te verhoog. Dit was onder meer ook ter voorbereiding van die bekendstelling van die nuwe Ranger Raptor, wat ook plaaslik vervaardig gaan word.

Die totale plaaslike produksievolume van die Ford Ranger was in 2018 9,3% hoër op 98 505 eenhede, waarvan ’n rekord 11 091 net in Desember vervaardig is.

Dit het gehelp om te voldoen aan die toenemende vraag na die Ford Ranger in Europa, waarheen die meeste van Suid-Afrika se Rangers uitgevoer is.

Volgens Ford is ’n rekord 51 500 Ranger-bakkies in die sogenaamde EU20-lande – tradisioneel die top- Europese motormarkte – in 2018 verkoop.

Die Ranger-bakkie het sy topposisie in die segment vir ligte kommersiële voertuie in die EU20 behou en sy markaandeel met 1,4 persentasiepunt tot 27,7% opgestoot.

“Die sukses van die Ranger word weerspieël in die markaandeel wat dit in Europa het, ’n streek wat van die mees kritiese en veeleisende klante in die wêreld verteenwoordig,” sê Hill.

“Dit is ’n pluimpie vir al ons werknemers en verskaffers wat ’n wesenlike rol speel om ons te help om ons belangrike uitvoeronderneming verder uit te brei, terwyl ons steeds verseker dat ons topgehalte-voertuie aan ons klante plaaslik en wêreldwyd lewer.”

Meer oor:  Bakkies  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Motorhandel  |  Uitvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.