Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SA se Golden Gate-brug op ys weens geweld

Aveng het die skokkende besluit geneem om hom te onttrek aan die kontrak om die hoogste brug in Afrika te bou.

Ons eerste groot spanbrug, oor die Mtentu-rivierkloof, sal opsigself ’n bestemming werd wees.

Aveng en sy vennoot, die Oostenrykse firma Strabag International, sou R1,6 miljard verdien deur die Mtentu-brug aan die Wildekus vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) te bou.

Werk aan die brug staan egter nou reeds langer as drie maande stil weens aanvalle op die bouperseel deur groepe uit die gemeenskap wat aandring op werk aan die projek. Hoewel plaaslike mense wel in diens geneem is, was die gemeenskap steeds nie tevrede nie.

Die Mtentu-brug van 1132 m lank is deel van die N2-Wildekuspadprojek. Dis Suid-Afrika se Golden Gate-brug gedoop as gevolg van die ooreenkomste met die brug in San Francisco.

In ’n Sens-verklaring sê Aveng “weens dreigemente van geweld en vlakke van gemeenskapsonrus en protesoptrede” teen Sanral kon geen werk sedert 22 Oktober gedoen word nie.

Volgens Aveng is Sanral van mening dat die werk nou veilig kan voortgaan, maar Aveng verskil “en verwante gebeure ondersteun nie Sanral se siening nie”.

“Die vermoë om werk veilig en in ooreenstemming met internasionale praktyke te kan doen is ons primêre oorweging.”

Ná regsadvies het Aveng en Strabag Sanral op 30 Januarie ingelig dat hulle hulle aan die kontrak onttrek. Dit word op 6 Februarie van krag.

Sanral het voorheen gesê werkers is selfs met aanvalsgewere gedreig.

Sanral het nog nie op navrae gereageer nie en Aveng het Netwerk24 na Strabag verwys.

Diana Neumüller-Klein, Strabag se hoof van kommunikasie en beleggersverhoudinge, het in reaksie per e-pos gesê die tender was vir sowel Aveng as Strabag belangrik en die vennootskap verstaan hoe belangrik die projek "vir sowel infrastruktuurontwikkeling as vir die opheffing van die gemeenskap is".

Sy sê die “aard van die dreigemente, onrus en betogings was ongeëwenaard”.

“Die konstruksie van die Mtentu-brug is tegnies veeleisend en vereis voldoening aan die strengste internasionale standaarde vir ingenieurswese en veiligheid, met geen speling vir die ontwrigting van die aard wat ervaar is nie.

“Met soveel op die spel, is die vermoë om die werk veilig en in ooreenstemming met die beste internasionale praktyk te doen, tereg die primêre bekommernis. Dis ’n kernwaarde vir sowel Aveng as Strabag.”

Neumüller-Klein sê dis nie net die veiligheid van werknemers wat op die spel is nie, maar ook dié van lede van die gemeenskap.

Sanral het voorheen gesê werkers is selfs met aanvalsgewere gedreig.

Louw Kannemeyer van Sanral het in November gesê: “Daar is net soveel werkgeleenthede per kontrak, wat ongelukkig beteken dat nie elke werklose mens gehelp kan word nie. Sanral kan nie boewery en aggressie goedkeur as ’n manier om op werk aan te dring nie.”

Op so ’n groot projek kan ontwrigtings honderdduisende rande per dag kos.

Sanral en konstruksiemaatskappye is al voorheen geraak deur boewe by ander bouprojekte wat bedrywighede tot stilstand dwing in ’n poging om deel van die kontrakwaarde te kry.

Die konstruksiegroep WBHO en die suikergroep Tongaat Hulett se eiendomsprojekte in KwaZulu-Natal het verlede jaar deurgeloop onder sogenaamde sakeforums wat met geweld projekte stopsit en dan eis dat hulle betaal word voordat die werk hervat kan word.

Selfs pres. Cyril Ramaphosa het al uitgevaar teen die sogenaamde konstruksiemafia.

Meer oor:  Aveng  |  Sanral  |  Brug  |  Boubedryf  |  Infrastruktuur  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.