Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAB brou tans géén bier

Twee van die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) se verspreidingsentrums is deur die vlaag van plundering in die land geraak en Heineken Suid-Afrika het ook van sy voorraad in die opstande verloor.

Die SAB brou verskeie bierhandelsname wat gewild is onder Suid-Afrikaners. Tans word geen bier egter in Suid-Afrika deur dié brouery vervaardig nie.

Die SAB het op ’n vraag van Netwerk24 oor of hy tans bier brou in ag genome die geweld en die vierde algehele verbod op drankverkope, geantwoord dat hy tans geen drank vervaardig nie.

Sy Denver-depot in Gauteng het geringe skade in die onluste opgedoen, maar sy Pietermaritzburg-depot is geplunder en leeg gesteel deur ’n skare plunderaars.

“Een van ons verspreiders het ook deurgeloop en verliese gely as gevolg van voorraad wat gesteel is en skade aan voertuie.”

Volgens die SAB beloop sy totale verliese uit net hierdie insidente ongeveer R33 miljoen.

Die SAB behoort aan die internasionale drankreus Anheuser-Busch InBev (AbInBev).

Alle geboue en aanlegte van die SAB in gebiede waar die onluste voortduur, is intussen gesluit.

Die brouery sê hy het reeds beleggingsplanne van sowat R2 miljard gemaak vir die res van die huidige boekjaar. Hy is al 126 jaar in Suid-Afrika bedrywig en gee aan 200 000 mense werk en ondersteun meer as ’n miljoen mense wat hul inkomste uit die bierbedryf se waardeketting verdien.

Heineken SA sê ’n pakhuis van een van sy vennote in Pinetown naby Durban is geplunder en van sy voorraad wat daar geberg was, is geplunder.

“Daar was gelukkig geen ongevalle op die perseel nie,” sê Millicent Maroga, Heineken se direkteur van korporatiewe sake.

“Ons doen tans ’n raming van die skade by die pakhuis waar van ons voorraad gesteel is. Heineken het die veiligheid by al sy geboue opgeskerp.”

Die SAB sê in ’n verklaring Donderdag die optrede van die regering en ander organisasies se kant om die geweld en plundering stop te sit, was tot nou nie voldoende nie en dat burgers beter as dit verdien.

Die gevolge van die geweld syfer ook deur na ondernemings in townships soos tavernes, kroeë, restaurante, verspreiders, skoonmaakdienste en veiligheidsmaatskappye, luidens die verklaring.

“Dit is die mense aan wie ons graag in hierdie tye ’n stem wil gee. Ons kan nie die feit ignoreer dat Suid-Afrika reeds op pad was om goeie vordering te maak om die ekonomie te laat herstel nie. Ongelukkig sit hierdie geweld ons nou weer terug,” lui die verklaring.

“Die geweld en vernietiging van ondernemings en huise is nou ’n donker hoofstuk in ons land se geskiedenis wat ons nie sommer gaan vergeet nie.”

Luidens die verklaring bly die SAB daartoe verbind om sy deel te doen om die land se ekonomie weer op die regte pad te kry en fokus hy op die bemagtiging van gemeenskappe en die rolspelers in sy waardeketting.

Meer oor:  Biermaatskappye  |  Plundering En Geweld  |  Sab  |  Heineken  |  Beleggings  |  Drankbedryf  |  Bierbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.