Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAB dank 550 mense af weens drankverbod

Die grootste brouery in die land, die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), moes nou ook mense weens die voortslepende alkoholverbod aflê.

beer
Die SAB is die tweede bierbrouery wat mense afdank weens die drankverbod wat sedert 28 Desember geld. Die maatskappye is ook in ’n hofsaak daaroor gewikkel.

Nagenoeg 550 tydelike werknemers se kontrakte is nie hernu nie en het Vrydag hul laaste betaling van SAB ontvang, berig Business Times. Dis meer as 10% van SAB se arbeidsmag van nagenoeg 5 300 mense.

Die meeste van dié mense werk as pakkers en afleweraars en hul dienste word regstreeks geraak weens die verbod op drankverkope wat op 28 Desember ingestel is toe die derde volledige of gedeeltelike drankverbod aangekondig is. Die vorige drankverbod, wat beperkte handelsure behels het, is toe tot ’n volslae verbod uitgebrei.

Alkoholverkope is ook vir die eerste streng inperkingsvlak, vanaf 27 Maart tot einde April 2020, verbied, waarna dit toegelaat is, maar van tyd tot tyd met beperkte handelsure. Middel Desember het wynkelders gejubel dat hulle oor naweke toegelaat sou word om wynproeë en -verkope te doen.

SAB se aankondiging kom nadat Heineken vroeër die week aangekondig het hy gaan 70 van sy nagenoeg 1 000 werknemers, oftewel 7%, aflê.

SAB, ’n filiaal van die internasionale bierreus Anheuser-Busch InBev (AB InBev), het saam met die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) en Consol ’n hofsaak teen die drankverbod gebring. Die regering moet Maandag sy repliek daarop indien voordat ’n datum vir die saak vasgestel kan word.

In dié stadium duur die ramptoestand vir die pandemie tot 15 Februarie, maar dit word van maand tot maand verleng. Daar is nog geen aanduiding of die land vanaf die huidige vlak 3-inperkings afgegradeer gaan word nie.

Infeksies wat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siekte uitreik, bly hoog, hoewel daar tekens is dat die tweede vlaag sy kruin bereik het. Teen Saterdag het Suid-Afrika 146 773 aktiewe Covid-19-gevalle gehad terwyl 40 574 mense al aan die siekte dood is.

SAB het vroeër die maand in ’n veldtog op sosiale media gesê die drankverbod het reeds 165 000 mense hul werk gekos. Dit sluit mense by restaurante en in die res van die gasvryheidsbedryf in.

SAB het in Januarie R2,5 miljard se kapitaalbesteding geskrap wat vir 2021 beplan was nadat hy ook in Augustus R2,5 miljard vir beplande uitbreiding gekanselleer het.

SAB se personeel gaan gebuk onder salarisverminderings van 10% wat tot einde 2021 sal geld.

Die Suid-Afrikaanse vereniging van drankhandelsname (Salba) raam dat R2,5 miljard se aksyns elke maand verlore gaan omdat drank nie verkoop kan word nie.

Consol het ook onlangs aangekondig hy ly enorme verliese omdat bestellings vir bier- en wynbottels opgedroog het. Hy moet nietemin R8 miljoen per dag bestee om sy hoogoonde aan te hou.

Volgens hofstukke wat Rasa ingedien het, verdien restaurante tot 35% van hul wins uit drankverkope.

’n Woordvoerder van SAB het nie Sondag op navrae gereageer nie. Die bierreus brou onder normale omstandighede meer as 3 miljard liter bier per jaar by sy nege brouerye. Dit sluit Castle, Flying Fish en Hansa Pilsener in. AB InBev-handelsname soos Corona, Budweiser en Stella Artois word ingevoer.

Meer oor:  Ab Inbev  |  Sab  |  Consol  |  Heineken  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf  |  Restaurante  |  Bierbrouerye  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.