Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) het nog R2,5 miljard se kapitaalbesteding vir vanjaar gekanselleer nadat die derde drankverbod einde Desember aangekondig is.

SAB besit onder meer Castle-bier in Suid-Afrika.
Facebook
Die maatskappy het nou reeds altesame R5 miljard se kapitaalbesteding in Suid-Afrika gekanselleer.
Die eerste R2,5 miljard se kapitaalbesteding is in Augustus gekanselleer te midde van die tweede verbod op drankverkope.
Hierdie besteding vorm deel van die SAB – die Suid-Afrikaanse filiaal van die internasionale bierreus AB Inbev – se jaarlikse kapitaalbesteding- en infrastruktuuropgraderingsprogram in Suid-Afrika.
Die SAB het in Augustus gewaarsku hy gaan nog R2,5 miljard se beplande besteding vir 2021 heroorweeg hangende groter sekerheid oor beleid en regulasies.
Ná die “onverwagse” drankverbod wat einde Desember ingestel is en nou “onbepaald” verleng is, het die maatskappy besluit om dié besteding ook te stop.
Die geld sou onder meer bestee geword het aan die opknapping van bedryfsaanlegte en produkinnovering.
“Hoewel die SAB alle redelike en verantwoordelike maatreëls ondersteun wat die verspreiding van die virus bekamp en lewens red, stem ons nie saam met ’n volslae verbod op die verkoop van alkohol nie,” sê Richard Rivett-Carnac, die SAB se hoof van finansies.
Billike maatreëls is volgens SAB ’n aandklokreël wat vroeër van krag word om beweging te beperk, minder mense wat by binnens- en buitenshuise byeenkomste toegelaat word, weldeurdagte beperkings op verkoopskanale en beter wetstoepassing.
“Gegewe die wesenlike impak wat hierdie derde verbod op die verkoop van alkohol op ons onderneming het en die moontlikheid van ’n verdere verbod, het ons geen ander keuse as om hierdie beleggings binne die afsienbare toekoms te staak nie."
Gegewe die wesenlike impak wat hierdie derde verbod op die verkoop van alkohol op ons onderneming het en die moontlikheid van ’n verdere verbod, het ons geen ander keuse as om hierdie beleggings binne die afsienbare toekoms te staak nie.
Rivett-Carnac
Hy sê dit was ’n moeilike besluit, maar word gedoen om die onderneming te help om die regulatoriese onsekerheid te oorleef voordat nog moeiliker besluite geneem moet word.
Dit is waarskynlik ’n verwysing na afleggings.
Volgens Rivett-Carnac ondersteun die drankbedryf 1 miljoen mense se lewensbestaan deur die waardeketting – plase, kleinhandel, vervaardiging, logistieke en klein ondernemings wie se inkomste van drankverkope afhanklik is.
Hy sê verkope van drankwinkels en winkels binne beperkte ure en handelsdae en ’n vroeë aandkloktyd sou ’n doeltreffende manier gewees het om die gesondheidsorgstelsel te ondersteun en die snelle verspreiding van die virus te beperk. Terselfdertyd sou dit beteken die ekonomie word oopgehou en mense se lewensbestaan bly behoue.
Volgens hom toon die ervaring tot dusver dat ’n streng toegepaste aandklokreël ’n doeltreffende manier is om alkoholverwante ongelukke te verminder.
“ ’n Totale verbod op die verkoop van drank is ’n uitermatige maatreël wat die regering moet heroorweeg.”
Die besluit om die kapitaalbesteding te kanselleer, gaan ’n impak hê op die winsgewendheid van en werksgeleenthede wat deur die maatskappye geskep word.