Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAB vat staat wéér hof toe oor drankregulasies

Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) gaan die regering se besluit om drankverkope vir ’n vierde keer in 18 maande te verbied, in die hof beveg.

Die SAB het besluit om die regering weer in die hof te pak oor sy algehele verbod op drankverkope. Foto: Unsplash

Die SAB, wat deur die internasionale bierreus Anheuser-Busch InBev (AbInBev) besit word, het aan die begin van die jaar ook met ’n hofgeding teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die regering en ander ministers gedreig oor die vorige verbod op drankverkope wat einde 2020 ingestel is.

“Ons is baie bekommerd oor hoe die regering teen die wettige drankbedryf diskrimineer, terwyl die sluikhandel in alkohol besig is om net meer te floreer,” skryf die SAB in ’n verklaring waarin die brouer sy voorneme aankondig om die regering weer hof toe te sleep.

Die SAB sê hy glo daar is geen ander alternatief oor as ’n hofgeding nie.

“Ons moet ons regte beskerm en daarom doen ons regstappe om onsself te beskerm en die besluit (van die regering) om te keer.

“Die huidige verbod op drankverkope word glad nie deur wetenskaplike bewyse ondersteun nie en kom op ’n baie slegte tyd, want die bedryf is nou in die proses om hom vir die toekoms gereed te kry en te stabiliseer sodat hy ook sy deel in die land se pad na ekonomiese herstel kan doen.

“Ons hoop om klarigheid te kry oor die regering se beleid en te sorg dat daar in die toekoms meer deursigtigheid is wanneer besluite geneem word.”

Die SAB sê hierdie nuwe hofaansoek vervang nie die eerste een wat hulle vroeër vanjaar teen die regering ingestel het nie en wat steeds die regsproses volg. Hy kan daarom nie kommentaar lewer op die eerste saak nie, is aan Netwerk24 verduidelik.

Lucky Ntimane, sameroeper van die Nasionale Raad van Drankhandelaars. Foto: Verskaf

“Ons kan wel noem dat die SAB ten gunste daarvan is dat dié saak spoedig tot ’n einde kan kom. Ons vra die gereg om handel te dryf in Suid-Afrika en om mense wat deel is van ons waardeketting se lewe en hul reg om ’n bestaan te maak, te beskerm.”

Dit volg op die hakke van die wynbedryfsliggaam Vinpro, wat ook dié week bekend gemaak het dat hulle ’n dringende hofaansoek ingedien het om die drankverbod in die Wes-Kaap opgehef te kry en vra dat die provinsiale regering die besluite oor enige drankverbod by die regering oorneem. Dié saak word Vrydag aangehoor.

Vinpro is ook in ’n ander hofgeding teen die regering betrokke, soortgelyk aan die SAB se eerste hofsaak. Dié hofsaak gaan ook steeds voort en daar was reeds groot teleurstelling vroeër vanjaar toe die hofdatum uitgestel is tot Augustus vanjaar.

LEES OOK: Wynliggaam moet wag vir sy dag in die hof

Lucky Ntimane, sameroeper van die Nasionale Raad van Drankhandelaars, ondersteun die stap deur die SAB.

“Ons glo in die SAB se reg om die howe te nader om sy mense se werk en sy lewensmiddele te beskerm.

“Die regering het weer eens daarin gefaal om die bedryf te nader vir insette en het besluit om weer ’n onregverdige verbod op drankverkope in te stel sonder om enige finansiële steun van sy kant af voor te stel.”

Ntimane sê dit is asof die regering geen agting toon vir die meer as 1 miljoen mense wat van die drankbedryf afhanklik is vir hul inkomste nie.

“Die president moet intree om ’n bloedbad van mense wat hul werk gaan verloor, te voorkom.”

Meer oor:  Sab  |  Restaurante  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Bierbrouerye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.