Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Saica ‘het nié PwC-verslag oor Steinhoff’

Alle hel het opnuut losgebars oor wie al die volledige PwC-verslag oor boekhou-ongerymdhede by Steinhoff - die grootste korporatiewe skandaal in Suid-Afrika se geskiedenis - gelees het.

Freeman Nomvalo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters Foto: Elvira Wood

Freeman Nomvalo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica), het Woensdag in ’n onderhoud met Netwerk24 laat blyk dat dié bedryfsliggaam die volledige forensiese verslag in sy besit het.

Saica en Steinhoff ontken nou albei dat die bedryfsliggaam die volledige verslag het.

Saica se verskoning is dat Nomvalo onder ’n “wanindruk” was dat Saica wel die volledige verslag het, hoewel hy uitdruklik “ja” geantwoord het in antwoord op die vraag of Saica die volledige verslag het.

Die PwC-verslag is geopper toe Nomvalo gesê het Saica bestudeer dit ter voorbereiding daarop om Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, binne die volgende ses maande dissiplinêr te verhoor, met die oog daarop om hom as ’n geoktrooieerde rekenmeester (CA(SA)) te skors.

’n Woordvoerder van Saica het Donderdag gesê die liggaam gaan slegs dié gedeeltes van die PwC-verslag vanaf Steinhoff ontvang wat verband hou met Jooste, asook met Ben la Grange, voormalige finansiële hoof van die groep en ook ’n CA(SA). Saica het geen magte om dagvaardings uit te reik vir getuienis nie en die enigste sensuur wat die liggaam kan ophef, is skorsing.

Die herrie oor of Saica die verslag het, is nie om dowe neute nie. Steinhoff het die regsfirma Werksmans aangestel om die vertroulikheid van die verslag te waarborg, is vroeër berig.

steinhoff
Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff, en Heather Sonn, voorsitter van die direksie, in Maart in die parlement. Foto: Nellie Brand-Jonker

Louis du Preez, Steinhoff se huidige uitvoerende hoof, het in Maart in die parlement aangevoer hy is die enigste mens met ’n gedrukte weergawe van die verslag, wat nagenoeg 3 000 bladsye beloop.

’n Klein hoeveelheid “uitgesoekte” individue het elektroniese weergawes van die verslag, maar kan dit nie uitdruk nie. Buiten PwC het die regsfirma Werksmans ook die verslag.

Dr. Johan van Zyl, voormalige Steinhoff-direkteur, het middel Mei aan CNBC Africa gesê hy het die verslag gelees. Van Zyl het in April 2018 as direkteur bedank, wat die vraag laat ontstaan het waarom hy die verslag ontvang het.

Adv. Robert Driman, Steinhoff se regsadviseur van Werksmans, het in die parlement gesê Steinhoff moet voldoen aan Europese wetgewing oor die beskerming van data en privaatheid.

Reina de Waal, Steinhoff se hoof van beleggersverhoudinge, het Donderdag by navraag gesê Steinhoff het nié die PwC-verslag aan Saica openbaar gemaak nie.

Sy het ook toegegee dat owerhede Steinhoff kan dwing om sekere inligting openbaar te maak.

“Steinhoff werk met wetstoepassingsagentskappe saam. Wanneer ’n wetstoepassingsagentskap Steinhoff dwing om relevante inligting bekend te maak wat nié deur wetlike professionele privilegie beskerm word nie, doen Steinhoff dit ingevolge die relevante regsbepalings.”

Saica is nié ’n wetstoepassingsagentskap nie.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Getty Images

Heather Sonn, voorsitter van Steinhoff se direksie, het in Maart in die parlement gesê die beskerming van die vertroulikheid van die verslag word gedoen om seker te maak die vervolging van mense “vind ongehinderd” plaas “indien dit vervolgbaar is”.

Sy het gesê hulle werk ook in verskillende lande waar daar vereistes is oor vertroulikheid.

“Die maatskappy moet hom ook beskerm teen litigasie, want hy tree namens baie belangegroepe op, ook sy aandeelhouers.”

’n Woordvoerder van Saica het per e-pos gesê Steinhoff is bang om die indruk te wek dat die verslag geredelik beskikbaar is. Steinhoff is nié van plan om die verslag as geheel openbaar te maak nie.

’n Opsomming van die belangrikste bevindings is in Mei uitgereik.

Die parlement het Steinhoff in Maart oorreed om die name bekend te maak van agt mense wat van onreëlmatighede verdink word.

Meer oor:  Steinhoff  |  Saica  |  Pwc  |  Johan Van Zyl  |  Ben La Grange  |  Markus Jooste  |  Kleinhandelaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel  |  Ouditbedryf  |  Ouditeurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.