Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
SAID-hoof ‘skaam, hartseer’ oor gendergeweld

Genoeg is genoeg – dis tyd dat mans aantree vir die stryd téén gendergegronde geweld.

Edward Kieswetter
Edward Kieswetter (Pic: Youtube screengrab)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Bankvereniging van Suid-Afrika was onder die instellings wat hulle Vrydag só sterk uitgespreek het geen gendergegronde geweld.

Dit het gevolg nadat nagenoeg 10 000 mense Vrydag by die JSE in Sandton betoog het in ’n poging om die private sektor betrokke te kry by die stryd.

Edward Kieswetter, die kommissaris van die SAID, het Vrydag in reaksie op die betogings ’n brief aan personeel gestuur. Daarin verwys hy onder meer na ’n wrede aanval op ’n 26-jarige vrou, die dogter van ’n kollega, en hy vra: “Hoeveel meer vroue, jong meisies en jong kinders moet met dié konstante vrees saamleef dat hulle aangeval en geskend gaan word?”

Sy sê hy skryf “as ’n seun, ’n broer, ’n man, ’n pa en ’n oupa”.

“Ek skryf met diepe hartseer – hartseer vir ons geliefdes, hartseer vir alle vroue, ma’s, susters, tannies en jong vroue in ons patriargale samelewing.

“Ek skryf met ’n gevoel van skaamte – skaamte dat ons as ’n samelewing nie aan ons jong kinders die versekering kan gee dat ons behoorlik na hulle sal omsien nie.

“Skaamte dat bloot om ’n vrou of ’n kind in ons land te wees, is om blootgestel te wees aan die risiko van geweld en mishandeling.

Ons is ’n samelewing gewikkel in ’n oorlog met onsself. Om dit te ontken, is om aandadig te wees.
Edward Kieswetter van die SAID

“Ons is ’n samelewing gewikkel in ’n oorlog met onsself. Om dit te ontken, is om aandadig te wees. As ons stilbly, maak dit ons magteloos, nie in staat nie of onwillig om dié onverskoonbare karakter van Suid-Afrika op te los. As ons nie vír mekaar baklei nie, baklei ons mét mekaar.

“Ons verwys gerieflikheidshalwe na die aanslag op vroue as gendergegronde geweld. Dis te vaag, te eufemisties, en te simplisties. Ons moet dit noem wat dit is. Dis veragtelike en betreurenswaardige gewelddadige aanvalle deur mans op vroue, meisies en babas. Dis meer toepaslik om daarna te verwys as geweld wat deur mans gepleeg word.

“Vroue moenie nodig hê om hulself teen mans te beskerm nie. Hulle behoort veilig by mans te voel. Hulle het die reg om veilig te voel.”

Cas Coovadia, hoof van die Bankvereniging van Suid-Afrika.

Later in die brief doen hy ’n beroep op manlike kollegas “om aan te tree en te help om ’n omgewing te skep waarin ons vroue veilig woel. As mans moet ons praat”.

Kieswetter maak ook sekere voorstelle, insluitend ’n dag volgende week waarin vroue in elke kantoor byeenkom om bewustheid te verhoog en middagete-gesprekke een keer per week vir die volgende twee maande oor geweld deur mans op vroue.

Cas Coovadia, die besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, sê op sy beurt: “Gendergegronde geweld is onaanvaarbaar. Dit gaan teen alles waarvoor ons as ’n samelewing staan . . . Die styging in die geweld teen vroue en kinders is ’n hartseer aanduiding van ’n woedende samelewing wat aan die disintegreer is weens armoede, enorme werkloosheid en toenemende ongelykheid.

“Maar geen hoeveelheid rasionalisering kan gendergegronde geweld regverdig nie. Buiten dat ons ons kop in skaamte moet laat sak, moet ons optree – en ons moet dit nou doen.

“Vandag (Vrydag) se optog in Sandton daag ’n houding van ‘sake soos gewoonlik’ uit. Ons wil ons steun toesê aan almal wat ’n einde aan die geweld eis.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.