Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sakeleier van die Jaar: 3 taai vrae

Hendrik du Toit, mede-uitvoerende hoof van Investec, is pas as Die Burger, Netwerk24 en Kaapstad Sakekamer se Sakeleier van die Jaar aangewys. Hier beantwoord hy so 'n paar moeilike vrae.

Investec Batebestuur is die professionele beleggers. Wat is jou advies vir iemand wat sê maar 50 jaar oud is en R100 000 het wat hulle wil belê?

Dis nie so moeilik nie. Mense neem in die algemeen te min risiko. Almal wat ek ken om my hou daarvan om met te veel kontant te sit. As jy ’n lang genoeg termyn het en jy koop nie op ’n ekstreme piek nie, moet jy goeie groei in jou portefeulje sit, want die groot vyand is inflasie. So sit jou geld waar die rykste mense hul geld sit X in besighede.

Investec
Hendrik du Toit is Donderdagaand as Die Burger en Kaapstad Sakekamer se Sakeleier van die Jaar aangewys. Foto: JACO MARAIS

Jy as amateur kan dit doen via ’n effektetrust, dan is daar ’n professionele persoon wat daarna kyk wat jou help om dit te doen. As jy ’n klein deel van ’n maatskappy koop wat ander mense bestuur, waarin ander mense groot beleggings het waarop hulle konsentreer en jy vergeet daarvan, jy kyk nie elke dag na die prys nie, dan gaan jy oor 20 jaar baie gelukkig voel.

Oor ’n 20-jaar-periode wen jy, want die wêreldekonomie gaan gewoonlik vooruit, tensy jy ’n baie abnormale periode kry, byvoorbeeld in die Middeleeue waar daar dalk vir 100 jaar niks gebeur het nie. Maar in die post- industriële revolusie is daar altyd groei oor 20 jaar. Vat ’n bietjie risiko, kry genoeg aandele in jou portefeulje.

Die beste manier om dit te kry, is deur ’n effektetrust. ’n Indeksfonds is ook goed, maar ek hou net nie van ’n indeksfonds nie, want dis soos Koos Meyer wat op Stellenbosch gevra is hoekom is hy nie ’n lid van die KP nie, toe antwoord hy “ek gaan nie al retererende die toekoms in met ’n Mauser in my hand nie”. Met ’n indeksfonds gaan jy al retererende die toekoms in, want jy koop gister se wenners vandag. Maar dis steeds beter as om niks risiko te hê nie. Die groot fout wat mense maak, is hulle neem nie genoeg risiko nie. Hulle neem baie risiko op illikiede bates soos ’n huis. Hulle dink hul huis se prys verander nie elke dag nie, maar dit verander wel elke dag X hulle weet dit net nie. Hulle dink die huis is solied, en hulle vergeet hoe baie geld hulle bestee om daardie huis reg te maak. As jy aandele koop, hoef jy nooit weer iets daaraan te bestee nie, behalwe die dag as jy dit verkoop.

As jy mense kan kry om jonk genoeg risiko te neem gaan hulle soveel beter af wees oor tyd.

Wat is fout met kapitalisme vandag?

Hoekom kapitalisme so suksesvol in Amerika was in die vorige eeu is omdat gewone mense gedeel het in die sukses van die biljoenêrs en entrepreneurs. As alles privaat gaan en weg van genoteerde markte, sien die gewone mens nie die beleggingsgeleentheid nie en het nooit die kans om deel te neem via sy pensioenfonds, versekering, sy persoonlike effektetrust of besparing nie.

In die ou dae het mense aandele gekoop en daardie aandele het goed gevaar. Jy het Rembrandt-aandele gekoop en die mense geken wat die maatskappy bestuur en jy weet hulle is slim, jy kry jou dividendtjek en jy voel goed daaroor en jy hou dit vir die langtermyn. Dít is besig om te verdwyn, want mense het te veel skuld en leef te hoog.

Jou oupa en ouma het nie naastenby gehad wat ons vandag het nie, maar hulle het heel goed geleef en nie die bank geskuld nie. Hulle kon nog ’n bietjie risiko vat met hul beleggings. Ons ry almal met nuwe karre wat met pakkette gekoop is waaruit die bank en die motormaatskappy geld maak. Almal woon in huise wat te groot is, en jy het dit nie nodig nie. As jy vir jouself sorg, kan jy dalk eendag meer in beheer van jou lewe wees.

Kapitalisme bring daai voordeel, want dit laat mense toe om beleggings te maak in besighede en deel te hê aan die sukses van kapitalisme. As jy dit wegvat deur alles privaat te neem, het mense geen deelname aan die stelsel nie.

In Frankryk kom die hardwerkende laer middelklas mense in opstand, want die stelsel werk nie vir hulle nie. Die oormaat van die stelsel word gegee aan die onderste 20%. Die rykes vaar in elk geval goed, maar die groep in die middel, die polisiemanne, onderwysers en klerke wat ook kundigheid het, word absoluut swak behandel deur die stelsel.

In Frankryk is daar nie ’n tradisie van die middel wat deelneem aan die rykdomskepping van die top nie. Hulle besit nie aandele nie. As jy dit nie het nie, het jy politieke onstabiliteit.

Ons het baie goed gevaar in Suid-Afrika om ’n swart middelklas te probeer bou, maar ons moet die stelsel ook laat werk vir die bestaande en die nuwe middelklas. Jy moet deelname kry aan die risiko en die sukses.

Watter rol moet sakelui speel om ’n beter invloed in die politiek en die samelewing in die breë te hê?

Jy moenie sakelui oorskat nie. Sakelui is nie jou diepste denkers nie. Hulle is besig om elke dag ’n lewe te maak. Hulle bou miskien ’n besigheid, maar dis nie altyd met so baie visie nie, dis maar net om aan die lewe te bly, al word hulle baie suksesvol.

Hulle het nie noodwendig intellektueel voorberei om die tipe respek af te dwing en die soort leierskap te gee wat gemeenskappe van hulle verwag nie. Moet dus nie te veel verwag van sakelui nie.

Maar die sakesektor het wel ’n belang daarby om ’n sukses te maak van die land. Ons het ’n plig om deel te neem, soos in dr. Anton Rupert se konsep van deelgenootskap: “Ek kan nie slaap as my buurman honger ly nie”.

3 tendense wat die wêreld verander:

Tegnologie:

Ek persoonlik was te stadig om dié golf te ry, maar ’n outjie wat ’n klompie jare ná my in die Hoërskool Jan van Riebeeck was, Roelof Botha, het dit baie goed gevang en hy is vandag een van die mees suksesvolle waagkapitaliste in Silicon Valley. Hy is die enigste ou aan wie ek gesê het hy moenie by ons kom werk nie, want hy kan elders beter vaar.

’n Maatskappy soos Naspers het byvoorbeeld geweldig voordeel getrek uit tegnologie. Investec gebruik dit ook en sou daarsonder nie so kon groei nie, en dit is steeds aan die gang, dit is net die begin. Maar dis iets waarop ons die minste fokus omdat ons dit net gebruik.

Die opkoms van Asië:

In die 1980’s was mense nog sinies oor China en het gesê hulle gaan inmekaar stort. Hulle het 100 jaar geslaap, maar hulle is nou wakker en Indië is net agter hulle. Die wêreld skuif oos en jy beter aanpas daarby. Jy moet verstaan hoe om voordeel te trek daaruit en hoe om met daardie mense te werk. Ek het vir my seun gesê, jy moet ten minste hulle taal leer.

Suid-Afrikaanse maatskappye is goed geplaas daarvoor, want ons is multikultureel en ons verstaan die risiko’s van ontwikkelende markte.

Die omgewing en volhoubaarheid:

Dit is die belangrikste een. China dryf dit ook, want hy is die grootste besoedelaar, so dit raak sy mense eerste. En daar is reeds baie opstande onder Chinese oor omgewingskwessies, waar riviere net te onveilig is om te gebruik, of chemiese fabrieke wat goed stort. Hierdie jaar is die eerste keer dat China weier om afvalstowwe van Brittanje te aanvaar, want die Chinese sê nee. Die omgewingsrevolusie – die hele ding van plastiek, skoon oseane, aardverhitting – gaan die sakesektor in die wêreld dryf.

Daar is baie geleenthede, maar ook baie risiko’s. Daar is ’n nuwe ekonomie wat geskep word weens nuwe energiebronne, nuwe maniere om goed te maak, kos te produseer. Ons jong mense is baie duidelik daaroor. Hulle vra jou wat doen jy om jou koolstofvoetspoor te verklein. Ons eet anders. Die wêreld gaan verander en as ’n sakeonderneming reg geposisioneer is daarvoor, kan hy regtig goed vaar.

In die 1980’s het maatskappye soos Anglo American die leiding geneem en ingrypings gemaak wat gehelp het. Wat sakelui kan doen, is om hulpbronne te verskaf aan leiers – persoonlike geld en infrastruktuur – wat ’n positiewe impak in gemeenskappe maak, mense wat die regte dinge doen.

Die eenvoudige uitdaging tans in Suid-Afrika is die goeie mense in die politieke of gemeenskapstryd word totaal beperk deur al die reëls, terwyl die slegte ouens skynbaar onbeperkte hulpbronne het.

Die sakesektor kan dus help om advokate te betaal wat die slegte ouens kan vervolg. Die omgewing, die howe en die media moet ondersteun word. Die sakesektor kan help seker maak daar word gehou by die grondwet en by die goeie reëls in die gemeenskap, anders gaan die land oor 20 jaar tot niet gaan.

Die sakesektor se sterk punt is hulle is realisties en pak die situasie aan soos wat dit is. Jy kan nie net ’n mooi opstel skryf nie – as jy verliese ly, moet jy koste sny.

Wat kommer wek, is dat die sakesektor sedert Thabo Mbeki en ook onder PW Botha rondgeskop is. Sakelui het oorsee gaan woon.

Een van die redes waarom die sakesektor tans so huiwerig is, is omdat korporatiewe beheer en deursigtigheid nou al so verhewe en bykans afgode geword het, dat jy nie besluite kan neem nie, want jy is te bang. Jy moet so in die middel wees, so in die trop wees en nie jouself uitspreek nie, want miskien gaan iemand ongelukkig wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.