Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sakeleier van die Jaar: Jou bates in goeie hande

Hendrik du Toit is al sinoniem met Investec Batebestuur. Die medestigter van dié suksesvolle batebestuurder is Die Burger, Netwerk24 en Kaapstad Sakekamer se Sakeleier van die Jaar vir 2019. Willem Jordaan en Francois Williams het met hom gesels.
Hendrik du Toit is al 28 jaar lank die hoof van Investec Batebestuur en lei vanjaar die span wat dié afdeling van Investec gaan verdeel. Foto’s: JACO MARAIS

Kom ons begin by die begin. Is jou vernuf as sakepersoon iets wat jy by jou ouers geleer het?

Ek het ouer ouers gehad as die normale. As ’n klein laaitie het ek dikwels in die grootmense se geselskap gesit en geluister. Dis ’n wonderlike ding wat kinders deesdae nie doen nie. Ons gee vir hulle elektroniese toestelle of sit hulle voor ’n televisie neer. In ’n tradisionele gemeenskap het kinders meer kontak met ouer mense. In die townships en in die ou dae – iemand se kind was almal se kind. Ek is gelukkig om van ouer mense goed te leer wat ek nie noodwendig van my ouers sou geleer het nie. Niemand in my familie het ooit sake gedoen nie. Behalwe my oupa wat ’n bankier was, kom my ma uit ’n geslag van onderwysers, boere en predikante. My pa-hulle was boere van die Swartland en Wellington. Maar baie interessante mense het by ons kom kuier.

Die wynmaker Graham Beck se pa was relatief onbekend, maar hy was waarskynlik een van die suksesvolste Suid-Afrikaanse sakelui op sy dag, en hy het baie by ons gekuier. Toe ek en my ma na my pa se dood in ’n woonstel in Kaapstad gaan bly het, was die Becks huisvriende. Maar die oom kon nie die aandeelpryse in die koerant meer so lekker lees nie. So as skoolseun het hy my na skool kom roep, dan moet ek die aandeelpryse vir hom lees en hy het met my gesels daaroor. Ek het toe nooit gedink dit sou vir my ’n werk word nie, want ons is ingeprent geld is ’n euwel, maar dit het oor tyd baie interessant geword.

Jou vrou Lorette is opgelei as joernalis. Hoe vul julle mekaar aan?

Hendrik du Toit
Hendrik du Toit, mede- uitvoerende hoof van Investec. Foto: Jaco Marais

Ek is baie dankbaar vir haar. Sy is ’n goeie ma. Ons het twee redelik gebalanseerde kinders grootliks te danke aan haar. Sy is tipies nog joernalis. As ek haar vra wat dink jy van dié idee of van daardie mense, dan doen sy behoorlike navorsing.

Sy help my dikwels om net te dink oor iets. As joernalis is sy geleer om te dink. Ek het respek vir die joernalistieke brein gekry deur met een getroud te wees. Jy kan haar nie om ’n bos lei nie. Sy gaan vir jou uitvang.

Die vaardighede van ’n joernalis om vrae te vra en antwoorde te gaan soek is baie werd vir kinders wat die wêreld van kunsmatige intelligensie tegemoet gaan. Die sakesektor leer dieselfde tegnieke vir jou. Die marges raak net weg of die mark is net nie meer daar nie, dan moet jy iets nuuts doen. Sakevaardighede en ondersoekende denke gaan in die toekoms baie vir jou beteken. In daardie opsig is dit vir my ’n voorreg om baie tyd te bestee met iemand wat vrae vra en dink.

Lorette is die eerste joernalis wat oor Jannie Mouton geskryf het toe hy PSG begin het. Sy het my oortuig om in PSG-aandele te belê, want sy het vertel van die interessante gesprek met hom en hoe gemotiveerd hy is. Toe die aandeelprys vervyfdubbel het, besluit ek dis genoeg en verkoop dit sonder om vir Jannie te bel. Elke keer as ek vir Jannie sien, sê ek vir hom dit was die grootste fout wat ek gemaak het. Die een ding wat ek by Jannie kan leer, is hy maak tyd om deeglik te dink oor goed. Hulle probeer nie alles doen nie. Hulle doen sekere goed regtig goed en vat hul tyd en dink dit regtig deur.

Verduidelik die motivering agter die besluit om Investec weer te verdeel in die bank-afdeling en die batebestuursafdeling as ’n afsonderlik genoteerde maatskappy?

Ek was vir 28 jaar aan die hoof van Investec Batebestuur, en in September verlede jaar het ek na die hoofgroep gegaan om groepstrategie te herdink na ’n lang leiersperiode onder Stephen Koseff en Bernard Kantor. Verdelings werk baie beter as samesmeltings. Dit is twee verskillende soort ondernemings met verskillende risiko’s, en almal kry nie genoeg aandag nie.

Die bankafdeling doen veral in twee lande sake – Brittanje en Suid-Afrika. Die batebestuursafdeling het heeltemal onafhanklik ontwikkel. Ons het in die Kaap begin en die res van Investec was in Johannesburg.

Die mark van die batebestuursafdeling is pensioenfondse, dit beteken gewone werkers en hul pensioenfondstrustees, en gewone beleggers wat effektetrusts koop via hul finansiële adviseurs. Hulle lyk heeltemal anders as die bank se kliënte wat meestal ryk mense is wat op ’n sekere manier behandel word.

Die batebestuursafdeling se mark is internasionaal versprei, met driekwart daarvan buite Suid-Afrika. Die grootste groei vir die batebestuursbesigheid oor die volgende klomp jare sal waarskynlik Amerika, Asië en Europa wees. Daarenteen, het die bankafdeling geen sake in die res van Europa nie.

In ’n saamgevoegde Investec het die direksie dus nie soseer op risiko’s in Amerika gekonsentreer nie. As jy begin praat van uitbrei en spanbou in Amerika praat jy met mense wat nie elke dag daaraan dink nie.

Die batebestuurskant het baie kontant aan die res van die onderneming gegee, en die aandeelhouers het dus gedink hulle kan beter vaar as die twee geskei word.

Was dit ’n skerp leerkurwe om die afgelope jaar benewens batebestuur ook na banksake te kyk?

Die bankwese is die moeder van finansiële belegging. Dis ’n meer riskante besigheid. In batebestuur belê jy in ’n portefeulje vir ander mense, jy is nie self die risikonemer nie, terwyl ’n bank ’n riskante besigheid is. Jy is tot sewe keer gehefboom. Jy vat deposito’s en leen dit uit. Jou reguleerder is konstant in kontak met jou. In batebestuur volg jy net die reëls.

Ek is sedert 2010 in die groep se direksie. Ek sal nie myself as ’n bankier beskryf nie, dis anders. Dis weereens hoekom die twee ondernemings nie bymekaar moet wees nie. ’n Bank sê hy werk met sy kliënte se geld, maar hy moet heeltyd transaksies doen en kan jou huis of kar afvat as jy nie betaal nie.

Batebestuur is makliker. Die batebestuurder is ’n agent vir sy kliënt. Die risikobestuur is anders. Bates se groei is alles.

Raak Brexit Investec Batebestuur se notering in Londen?

Brexit is nie ’n kwessie vir Investec se notering in Londen nie. Investec het nie kapitaal nodig soos ’n normale notering nie. In dié geval gee ons net vir Investec-aandeelhouers die aandele wat Investec in die batebestuurs-deel het. Brexit het eintlik min te doen met ons besigheid. Indien ons ’n pan-Europese bankgroep gehad het, sou dit meer kompleks gewees het.

Die batebestuurskant het jare terug reeds voorberei vir Brexit deur ’n Europese struktuur daar te stel vir Europese kliënte.

Die gonswoord deesdae is finansiële tegnologie (fintech). Gaan dit jul werk oorneem?

In ons bedryf sê party mense ons moet rekenaars die werk laat doen. Rekenaars help mense, mense werk nie vir rekenaars nie. Ons dink mense waardeer dit. Om risiko’s te neem moet mense daaroor dink. Hiervoor kan jy regverdiglik ’n goeie tarief vra. Jy kan die vertroue van die persoon wen wat sy kapitaal aan jou toevertrou het. Jy kan hulle deur moeilike tye vat sonder dat hulle panic.

Wat inspireer jou en hou jou gemotiveerd?

Om ’n langtermyn-besigheid te bou is wat ons geniet. Ons doelstelling is eenvoudig: Probeer altyd beter belê, bou ’n beter besigheid in die proses en dra by tot ’n beter wêreld. Jy kan dit nie in drie jaar afhandel nie. Ons word gemeet aan beleggingsprestasie, so die belegger weet presies hoe ons vaar. Ons moet hom net oortuig dis nie elke dag nie, dis oor ’n lang termyn. Dis waarom die projek my opgewonde maak. Ons is besig om iets te doen wat niemand wat hiervandaan kom, al gedoen het nie.

Om Investec Batebestuur van hier af te kon vat en dit oor die wêreld uit te brei, is professioneel bevredigend. Daar is nog baie om te doen. Ons krap nog net aan Amerika en China.

Dit hou my opgewonde. Jy moenie lui raak en niks doen nie. Jy moet ontwikkel. In vandag se wêreld is 60 die nuwe 40. Mense lewe langer. Jy moet intellektueel gestimuleer bly. Dit beteken nie jy moet almal frustreer en vir ewig werk nie, maar jy moet iets doen wat jou opgewonde maak. Om ’n klomp mense te kry wat van besigheid-bou hou, is vir my lekker. En of ek dit hier doen of dit eendag in ’n klein opset êrens anders vir myself doen, is baie lekkerder as om iemand anders te irriteer op ’n skoolkomitee of iets.

Wat maak jou opgewonde buite die werksopset?

Ek lees biografieë, geskiedenis en politiek. Ek is lief vir bergfietsry en het laasjaar die Cape Epic gery. Ek hou van kajak ry in die see, om die dolfyne en walvisse te sien. Ek is mal oor die bos. Dis lekker om goed te doen wat die gesin saam kan doen. Ek hardloop en swem, en kyk graag sewesrugby.

As jy vanuit jou kantoor daar in Londen kyk, is dit die moeite werd om in Suid-Afrika te belê?

Jy moet mooi dink. Dis goedkoop, maar dink veral saam met wie jy belê en wees versigtig as jy met die regering besigheid doen. Ek is opgewonde oor die dapperheid van mense soos Pravin Gordhan (minister van openbare ondernemings) en pres. Cyril Ramaphosa, maar jy moet seker wees jy hang nie met die verkeerde mense uit nie.

Met goeie plaaslike vennote is daar baie geld te maak, ons sien dit elke dag met ons kliënte. Entrepreneurs gaan na plekke waar mense nie eintlik wil wees nie. Egipte het die laaste paar jaar byvoorbeeld goed gevaar om beleggerspersepsies te verander.

Maar as jy een ding wil doen – ons het net nie nog ’n ekonomiese beleidsdokument of ’n beleidskonferensie nodig nie. Die Harvard-professors hoef nie hierheen te kom nie. Ons moet net ophou steel en begin uitvoer, dan kan ons ekonomiese groei van 1% tot 4% of 5% gaan. Om van 4% of 5% na 7% te gaan is moeilik, daarvoor het ons Harvard nodig. Maar oor die volgende vyf jaar hoef ons niks daaraan te doen nie, want die vrugte hang laag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.