SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Maatskappye
Sakeliga vra insae in waarborge vir SAL, Eskom

Die afgelope 20 jaar het die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nou al R61,757 miljard se staatshulp gekry in die vorm van kontantinspuitings en staatswaarborge, het die vervoerekonoom Joachim Vermooten bereken.

Die Vryemarkstigting het in ’n verklaring syfers van Vermooten aangehaal oor die totale kontantinspuitings wat die SAL sedert 1999, toe dit nog onder Transnet se toesig was, tot vanjaar ontvang het.

Die staat het hiervolgens R19,114 miljard se staatswaarborge aan die SAL toegestaan. Daarby kom R1,333 miljard se skuld wat die staat by die SAL oorgeneem het toe dit in April 1999 gedeeltelik geprivatiseer is toe die Switserse lugdiens Swissair ’n minderheidsbelang in die SAL gekoop het.

Transnet

Daarna het Transnet verskeie bedrae in die SAL gepomp, vir ’n totaal van R13,301 miljard van April 1999 tot Maart 2007. Die gedeeltelike privatisering via Swissair het op die ou einde misluk, deels weens Swissair se eie geldprobleme.

Die Vryemarkstigting meen Tito Mboweni, minister van finansies, het die regte stap gedoen deurdat die jongste R5 miljard wat aan die SAL gegee word via ’n toedelingswetsontwerp moet geskied. Dit beteken die parlement moet daaroor debatteer en besluit, eerder as met vorige reddingsboeie waar die nasionale tesourie en die minister van finansies bykans eensydig daaroor kon besluit, met geen openbare toesig nie.

Malusi Gigaba, vorige minister van finansies, het verlede jaar ’n klousule in die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies gebruik om ’n noodbetaling regstreeks uit die staatskas aan die SAL te maak om ’n lening terug te betaal.

Só styg die staat se waarborge vir staatsondernemings.

Die AfriForum-geaffilieerde sakeorganisasie Sakeliga wil intussen die nasionale tesourie nader om toegang te kry tot die klousules in die staat se skuldwaarborgkontrakte wat bepaal wat moet gebeur as ’n verlieslyende instelling soos die SAL nie sy skuld kan terugbetaal nie.

Daniel du Plessis, regsontleder by Sakeliga, wys op pres. Cyril Ramaphosa se opmerking die afgelope week in die parlement dat die SAL nie gesluit kan word nie want as sy skuld onmiddellik terugbetaal moet word, sal dit sy staatswaarborg raak en sal al die ander staatsinstellings se skuld ook betaalbaar word.

Eskom

Eskom het ’n massiewe staatswaarborg van R350 miljard.

Die totale skuld van staatsondernemings wat deur staatswaarborge gedek word staan tans op R334 miljard. Dit het oor die afgelope agt jaar van sowat R65 miljard gegroei, sê Du Plessis.

Die EFF het intussen die besluit verwelkom om ’n strategiese aandelevennoot vir die SAL te vind, hoewel Mboweni vroeër gewaarsku het dit sal moeilik wees om iemand te vind wat nou in die SAL wil belê.

Die EFF vra die keuse van ’n aandelevennoot moenie in die geheim geneem word nie, en die proses moet deur die SAL-direksie en sy bestuur beheer word, pleks van die regering.

Hulle meen die deel van die SAL wat in staatsbesit bly moenie net deur een departement besit word nie, maar toesig moet versprei word oor ’n paar staatsinstellings soos die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, die Staatspensioenfonds, Transnet, die nasionale tesourie en ander.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.