Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Sakeredders praat nog met ander banke oor Optimum
Die ingang na die Optimum-steenkoolmyn. Foto: Twitter

“Ons het steeds hoop vir die Optimum-steenkoolmyn, al gaan Bank of Baroda sy deure in Suid-Afrika sluit.”

Dit was Louis Klopper, een van die sakepraktisyns wat aangestel is om die situasie by dié myn wat aan die Guptas behoort te beredder, se reaksie op die nuus dat Baroda toestemming gekry het om uit die land te onttrek.

Regter Ntendeya Mavundla het Maandag die Gupta-maatskappye se dringende aansoek om te keer dat dié Indiese bank hom aan Suid-Afrika onttrek, met koste van die hand gewys.

Baroda het die maatskappye, wat insluit Oakbay Investments en albei die trusts wat geld vir die rehabilitasie van die Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyn bewaar, op 12 Februarie ingelig hy gaan sy Suid-Afrikaanse tak sluit.

Die bank het kennis gegee hy sal van 1 Maart af geen verdere deposito’s ontvang nie en op 31 Maart sy plaaslike deure finaal sluit.

“Ek het maar net so ’n gevoel gehad dat die aansoek nie suksesvol sou wees nie. Dit plaas wel meer druk op ons om alternatiewe bankgeriewe te kry, maar ek bly optimisties,” sê Klopper.

Hy sê die sakeredders praat met banke, maar dit is baie sensitief en hy kan nie nou enige ander inligting verskaf nie.

“Wat jammer is, is dat tussen 3 000 en 4 000 werkers wat niks verkeerd gedoen het nie, hul werk kan verloor.”

Sakeredding

Agt van die maatskappye wat met die Guptas verbind word, het op 19 Februarie goedkeuring ontvang om met ’n sakereddingsproses te begin.

Klopper en Kurt Robert Knoop is as die sakeredders aangestel.

Die twee moes sedertdien dringende aansoeke deur krediteure teenstaan om die myn te likwideer.

Die sakepraktisyns is daarvan oortuig dat die maatskappy gered kan word.

Knoop sê Optimum is ’n lewensvatbare sakeonderneming met bates van meer as R6 miljard en ’n jaarlikse omset van R3,1 miljard.

Bank of Baroda

Klopper en Knoop het voorheen gesê Bank of Baroda se skielike besluit om Suid-Afrika te verlaat was die rede waarom Optimum in sakeredding moes gaan.

Baroda is die laaste bank wat ’n sakeverhouding met die Guptas gehad het.

Mavundla sê in die uitspraak die kernvraag in dié aansoek was of die howe ’n respondent kan dwing om voort te gaan met sy bedrywighede in die land.

“Daar kan nie van die respondent verwag word om sonder die infrastruktuur van Nedbank bankdienste aan die aansoeker te lewer nie.”

Nedbank het Baroda in Februarie ingelig hy beëindig sy verhouding met hom.

Sonder die bankdienste wat Nedbank verskaf het, kan Baroda nie transaksiedienste aan enige van sy kliënte bied nie.

Mike Brown, uitvoerende hoof van die Nedbank-groep, het op 2 Maart gesê Nedbank se besluit was om sy reputasie te beskerm.

“Die verhouding is eenvoudig. Ons lewer dienste aan Baroda en Baroda lewer weer dienste aan maatskappye in Gupta-besit.”

Mavundla se uitspraak lui verder Baroda se besluit om aan die land te onttrek is op sakeredes gegrond. Daar kan dus nie gesê word hy verontagsaam regter Tati Magoka se bevel in Oktober verlede jaar dat Baroda steeds bankdienste aan die Gupta-maatskappye moet verskaf om hul 7 000 werknemers te beskerm nie.

Die bank wou reeds op 30 September 2017 die rekeninge, asook die leningsgeriewe aan vier van dié maatskappye, sluit.

Meer oor:  Bank Of Baroda  |  Nedbank  |  Optimum  |  Louis Klopper  |  Guptas  |  Hofsaak  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.